In dieselfde week wanneer die hele wêreld die eerste maanlanding 50 jaar gelede vier, het Toyota se GR Supra in Suid-Afrika aangekom. Daar word al vir ‘n geruime tyd deur Suid-Afrikaanse motorliefhebbers uitgesien na hierdie pragtige motor wat deur Gazoo Racing ontwikkel is. Die stilering van die nuwe Supra is besonders. Dit neig na die klassieke styl van sportmotors in die 1960 soos die Jaguar E-tipe, die Ferrari 330 GTC en natuurlik die Toyota 2000 GT en raai watter een van hierdie drie motors van hierdie tydvak is in die James Bond-rolprent “You only live twice” gebruik?

Die Jaguar E-Tipe

Die Ferrari 330GTC van die Sestiger-jare.

Die Toyota 2000 GT.

Hierdie motors is gekenmerk deur ‘n lang enjinkompartement om ‘n reguit 6 of 8 of selfs ‘n 12-silinderenjin in te parkeer. Die voorkoms was uiters sportief en elegant en dít is hoekom die Supra se se koms so verwelkom word. Dit bring weer daardie vaartbelynde retro-styl terug. Terwyl al Toyota se motors van die afgelope paar jaar deur klaarblyklik deur Starwars se Storm Trooper helm geïnspireer is, het die nuwe Supra substansie.

Die nuwe Toyota GR Supra is nie net die volgende geslag van dié Japanese vervaardiger se vlagskip-sportmotor nie; dit is ook die eerste internasionale model van Toyta se motorsportafdeling, Toyota Gazoo Racing, wat ook die beperkte Hilux GR Sport ontwikkel het. Die stilering van die nuwe Supra is geïnspireer deur die legendariese Toyota 2000 GT, waarvan net 337 in die 1960’s vervaardig is.

Die klassieke vorm het dit vir die ingenieurs moontlik gemaak om ‘n 3 liter reguit-sessilinderenjin met ‘n enkele dubbelrol-turboaanjaer toe te rus; hierdie enjin lewer 250 kW teen tussen 5 000 en 6 500 opm en wringkrag van 500 Nm teen tussen 1 600 en 4 500 opm en ‘n outomatiese ratkas met agt gange is standaardtoerusting. Motorgeesdriftiges kan ‘n sportmotor in sy suiwerste vorm, sonder voorbehoud, verwag, en dit beteken dat die Supra ‘n opwindende versnit van krag en uitsonderlike padhouvermoë sal bied. Dit is moontlik as gevolg van ‘n kort asafstand, lae swaartepunt en ‘n ligte maar uiters stewige bakwerk.

Toyota Gazoo Racing het ‘n deurslaggewende rol in die nuwe Supra se verrigting gespeel en die motor is grootliks op die Nürnburgring Nordschelife en omliggende paaie in Duitsland getoets om die maklikste, mees stabiele en beste moontlike hantering te ontwikkel. Verdere toetse is op paaie regoor die wêreld uitgevoer. Om seker te maak dat die Supra aan al dié vereistes voldoen, het Akio Toyoda, die president van Toyota, die motor op die Nürnburgring in sy rol as meesterbestuurder op die proef gestel voordat hy goedkeuring daarvoor gegee het.

Die GR Supra is die eerste GR-model wat deur Toyota Gazoo Racing vir die wêreldmark ontwikkel is. Toyota Gazoo Racing is die sambreelorganisasie vir Toyota se wêreldwye motorsportprogram en het die afgelope tyd met die Dakar-wedren, die Le Mans-uithouwedren oor 24 uur, die wêreld-uithourenkampioenskap en die wêreldtydrenkampioenskap behaal. GR se werk is op drie pilare gegrond: om mense deur deelname aan motorsport te ontwikkel, om ondersteuners deur die opwinding van motorsport te skep en die kennis wat deur motorsport opgedoen word, toe te pas om meer genotvolle motors vir die gewone motoris te ontwikkel en te vervaardig. Toyota Gazoo Racing sal met die GR Supra begin en sy tegniese kennis op die renbaan en in tydrenne oordra in die ontwikkeling van nuwe geslagte verrigtingsgeoriënteerde GR-modelle, asook ‘n groter verskeidenheid voertuie wat deur  miljoene mense regoor die wêreld gebruik word.

Volgens Tetsuya Tada, die hoofingenieur van die GR Supra het dit vir hom gevoel asof die mandaat om dié motor te bou, uit die Hemel self gekom het. Die GT 86 het daartoe bygedra dat die omvang en aanloklikheid van Toyota se sportmotors vergroot  het en hy moes ‘;n motor lewer wat sou voldoen aan die verwagtinge van hardgebakte geesdriftiges.  Toe hy die nuwe model ontwikkel het, het hy daarop aangedring om by eienaarsklubs uit te kom, en met eienaars van vorige Supra-modelle wêreldwyd  te praat.  Hy het hulle gevra wat die minimumvereistes vir ‘n nuwe model sou wees, en hul antwoord was dat die nuwe model ‘n reguit-sessilinderenjin met ‘n turboaanjaer en agterwielaandrywing moes hê. Hy vertel dat dit was wat hy verwag het en dat hy dié kombinasie ongeskonde wou hou.

Die nuwe Supra is egter nie bloot ‘n herlewing van die vorige model nie; net die deurslaggewende enjin-voor-aandrywing-agter-elemente is oorgedra. Soos die Supra-naam aandui, was hy vasbeslote om ‘n motor met super-rygenot te lewer,wat nou net in die modern tyd gemaak kon word.

Dit was vir hom belangrik dat die GR Supra net twee sitplekke moes hê. Rygehalte qword 90% deur ‘n motor se basiese verpakking voorgeskryf; die spoor-en asafstand is uiters belangrik. Hy het ook herhaaldelik aan die ontwikkelingspan gesê hy wou hê dat  enige aspekte van die motor wat die bestuurder se instinkte of sintuie stimuleer, geslyp moes word. Hy wou nie die verhouding tussen spoor- en asafstand prysgee nie en daarom het hy vasgesteek by sy besluit om die Supra net twee sitplekke te gee, al is hy gewaarsku dat baie minder motors verkoop wou word as wanneer die motor vier sitplekke sou hê. Al waaroor dit vir hom gegaan het, was dat dit ‘n suiwer sportmotor met die beste moontlike bestuusgenot moes wees.

Toyota se sportmotor-erfenis word duidelik in die GR Supra se ontwerp weerspieël; die invloed van die 2000 GT is veral in die lang enjinkap, kompakte bakwerk  en die dak met die dubbele borrel te bespeur terwyl die voorkoms van die vierde geslag Supra in die gespierde wielnisse en die boog van die agterste drukvlerk vasgevang word. Die ooreenkoms is meer as oppervlakkig, aangesien die GR Supra dieselfde klassieke sportmotorformaat van ‘n kragtige sessilinderenjin en agterwielaandrywing het. Die GR Supra se ontwerptema is heel eerste in die FT1-konsepmotor, wat by Toyota se CALTY-ateljee in Kalifornië gestileer is en in 2014 by die Noord-Amerikaanse Motorskou in Detroit gewys is, gesien. Nobua Nakamura, die GR Supra se hoofontwerper, het sy span ‘n eenvoudige opdrag gegee en enige emosionele woorde doelbewus vermy om hul visie van ‘n suiwer en individuele sportmotor uit te druk. In sy geestesoog het hy ‘n onbetwisbaar moderne ontwerp gesien, maar een wat tog aan die romanse van klassieke sportmotorstilering herinner. Die gevolg was ‘n motor wat die grense van  wat ‘n mens in groot getalle sou kon vervaardig, uitdaag, veral met die kragtige kurwes van die agterkant. Die asafstand wat korter as dié van die GT 86 is, tesame met groter bande, is opmerklik en die motor se breë houding, met knus kajuitafmetings en  ‘n breë spoorwydte dra by tot die motor se uitsonderlike hantering en stabiliteit.

Die motor se dubbelborreldak is net net daar omdat dit net deur die motor se erfenis aangespoor is nie; dit is doeltreffend om sleur te verminder deur die motor se voorkantopeervlakte te verklein sonder om kopruimte in te boet.

Die stuurkajuit van die GR Supra kombineer sportiewe elemente met ultra-moderne funksionaliteit. Die kajuit, wat ontwerp is om die bestuurder in staat te stel om heeltemal op sy bestuurstaak te fokus, word direk beïnvloed deur die ontwerp wat in enkelsitplek-renmotors aangetref word. Die lae, skuins, horisontale voorpaneel vervolmaak die vooraansig deur die voorruit sodat die bestuurder die motor meer akkuraat teen hoë snelhede kan bestuur terwyl die hoofkontroles vir vinnige en maklike werking gegroepeer is. Die instrumentepaneel, middelkonsole en deurbeslag word in ‘n naatlose ontwerp gekombineer; dit gee die kajuit ‘n fris, eenvormige gevoel. Die lyn van die kajuit vloei af in sagte, ondersteunende knieskerms in die deurbeslag en aan die kant van die middelkonsole.  Die vorm daarvan is met die hulp van Toyota Gazoo Racing se renbaan-ervaring gedefinieer.  Die Supra se instrumente word in die voorruit weerkaats en die wisselpedale sit reg voor die bestuurder met bykomende skakelaars op die driespeekstuurwiel. Die stuurwiel self is met leer oorgetrek en gevorm om uitstekende greep te bied. Die hoëdefinisie-instrumentepaneel van 8,8 duim is duidelik deur die stuurwiel sigbaar; dit bevat ‘n 3D-toereteller en ratwyser in die middel, ‘n digitale spoedmeter aan die linkerkant en vermaak-en-navigasieinligting aan die regterkant. Die asimmetriese middelkonsole bied ‘n duidelike verdeling tussen die omvoustuurkajuit en die passasierskant wat meer oop is. Daar is knieskerms vir die passasier. Die beheerpaneel vir die lugversorging sit op die konsole met geheueskakelaars vir maklike werking en die multi-inligting-vertoonskerm van 8,8 duim word bo die konsole aangetref. Die bestuurder kan toegang tot die inligting hierop verkry deur middel van ‘n raakskerm of ‘n draaiknop. Die bagasieruim is groot genoeg vir twee mense en sluit ‘n bergruimte met ‘n net en volergemonteerde hake in.

Die turbo-aangejaagde drieliterenjin maak gebruik van wisselende kleptydreëling wat presiese beheer bied oor die opening en sluiting van die in- en uitlaatkleppe om by die bestuurstoestande en die bestuurder se insette te pas. Die gevolg is lineêre lewering van hoë wringkrag teen alle enjinsnelhede en hoë kraglewering teen hoë enjinsnelhede. Die inlaatkleppe se opening word bepaal deur heersende bestuurstoestande bepaal; dit verminder pompverliese en bevorder hoë verrigting. Die enjin gebruik regstreekse inspuiting met ‘n hoëdrukstelsel van 35 MPa wat uitstekende spuit-atomisering en presiese inspuitbeheer vir hoë verbrandingsdoeltreffendheid bied. Die ontwerp van die tweerol-turboaanjaer verdeel die lug van die uitlaatspruitstruk na die turbine in twee dele; dit ondedruk uitlaatgasbelemmering tussen die silinders, sodat die turbine teen laer snelhede kan werk om direk op die bestuurder se gebruik van die versneller te reageer.

Die enjin is gekoppel aan ‘n outomatiese ratkas met agt gange wat blitsige ratwisseling moontlik maak; die ratkas beskik oor korter verhoudings  vir die laer ratte. Die bestuurder kan ratte sonder ‘n koppelaar met die hand wissel deur die wisselpedale agter die stuurwiel te gebruik.Daarby is daar ‘n keuse tssen normale- en sportmodus; laasgenoemde kan verder aangepas word sodat die bestuurder die verrrigting-, stuur en ratkaseienskappe volgens behoefte kan instel. Kragtige versnelling vanuit ‘n stilstaande posisie word deur wegtrekbeheer vergemaklik en stel die motor in staat om binne 4,3 sekondes van 0 tot 100 km/h te versnel. Wanneer die sportmodus gekies word, word enjinklank en -reaksie, ratwisselpatroon, demping-, stuur- en aktiewe ewenaarverrigting aangepas. Die stabiliteitsbeheerstelsel het ‘n spesiale “baanren”-instelling wat die hoeveelheid stelselintervensie verminder en die bestuurder  groter beheer oor die motor se dinamiese verrigting gee. Die aktiewe ewenaar word vir versnelling gebruik en vir wanneer die motor spoed verloor; dit kan naatloos van geen tot 100%-sluiting met oombliklike reaksie koppel.

Daar is ‘n toegewyde enjinbeheereenheid wat ‘n wye reeks insette monitor; dit sluit die stuurwiel, druk op die versneller- en rempedaal, die enjin -en  wielspoed en stertswaai in, ten einde die stelsel so akkuraat as moontlik te laat werk. Die verskil in wringkrag tussen die linker- en regterwiele word buigsaam en naatlos hanteer, afhangende van die bestuursituasie. Dit bied groot voordele  op die gebied van stabiliteit en doeltreffendheid wanneer die bande hul verrigtingsgrens bereik. Die uitwerking word in alle draaie gevoel, met verhoogde stabiliteit wanneer die bestuurder rem en deur die draai ry, asook maksimum klouvermoë wanneer die bestuurder die motor uit die draai laat versnel. Die werking word aangepas wanneer die sportmodus gekies word om meer doeltreffend teen hoë snelhede te bestuur, soos om ‘n renbaan. Die 19-duim allooiwiele word met Michelin Pilot Super Sport-bande toegerus; 255/35 R 19 voor en 275/35 R 19 agter.

Die motor het verskeie veiligheidskenmerke as standaardtoerusting, naamlik ABS-remme met elektroniese remverspreiding en noodremhulp, stabiliteitsbehee, kloubeheer, asook opdraande-wegtrekbeheer tesame met aktiewe draaihulp wat bykomende swaaibewegings deur onafhanklike remintervensie veroorsaak om beheer en lynsporing te verbeter.

Die reeks bestaan uit twee modelle, Die GR Supra Track is die intreemodel en is gemik op geesdriftiges vir wie voertuigdinamika belangriker as spesifikasievlak is. Die :gewone” model voeg ‘n magdom geriefs- en gemakskenmerke by om ‘n allesomvattende pakket te bied. Die Track beskik oor dubbelsone-lugversorging,sleutellose toegang met ‘n aansitknoppie, ligdiode-tegnologie vir die kopligte, agterligte en dagryligte, ‘n trukamera, ‘n digitale instrumentepaneel en reënsensor-ruitveërs. Die inligting-en-vermaakstelsel beskik oor tien luidsprekers. ‘n vertoonskerm van 6,5 duim, Bluetooth-verbinding en USB-kragpunte.

Die gewone model voeg verskeie kenmerke by; onder meer sitplekke met leer en Alcantara- eerder as doekstofbekleedsel, ‘n inligting-en-vermaaksteslsel met ‘n skerm van 8,8 duim en satellietnavigasie, ‘n JBL_klankstelsel met twaalf luidsprekers, ‘n kabellose selfoonlaaier, banddrukmonitor, voorruitweerkaatsing vir die instrumente en ‘n aanpasbare veranderlike veerstelel,

Die Track kom klaar sonder die Toyota Safety Sense-stelsel ten gunste van massabesparing en ‘n doelgerigte bestuursomgewing. Die gewone model het dit egter as standardtoerusting. Die stelsel bestaan uit ‘n botsvoorkomingstelsel met voetgangeropsporing, asook die vermoë om fietsryers in daglig te bespeur, baandwaalwaarskuwing met stuurhulp, aanpasbare spoedbeheer, outomatiese hoëligstraal, padtekenhulp en ‘n aanpasbare voorligstelsel wat die kopligte in lyn met die stuurhoek hou. Verder is ‘n blindekolmoitor, agterkant-dwarsverkeerwaarskuwing, agterkant-botsingswaarskuwing en intelligente parkeersensors met outomatiese remme om botsings te help voorkom teen voorwerpe of voertuie wat van weerskante af kom wanneer die voertuig agteruit  uit ‘n parkeerplek of oprit ry.

Die pryse van die verskillende modelle , wat ‘n waarborg van drie jaar en ‘n diensplan vir vier dienste of 80 000km insluit, lyk soos volg:

GR Supra Track: R 953 000

GR Supra Track (met Prominent Red-verfwerk): R 1 072 300

GR Supra R 1 082 300

GR Supra (met Matte Grey-verfwerk): R 1 092 300

Die Supra se diensplan kan verleng word; verdere inligting is by Toyota-handelaars beskikbaar.

%d bloggers like this: