Toyota belê verder in Hi-Ace-aanleg

0 Comments

Met die loodsing van nuwe Toyota Quantum vroeër vanjaar, het Toyota Suid-Afrika Motors (TSAM) besluit om die vorige model Quantum steeds te vervaardig, maar as die Hi-Ace te bemark. Sodoende word die  legendariese Hi-Ace naam herleef.

Die Hi-Ace Ses’fikile, soos die nuwe weergawe van die vorige Quantum nou bekendstaan, word in Toyota se aanleg by Prospecton naby Durban vervaardig. Die maatskappy het nou die plaaslike waarde-toevoeging verhoog met ‘n belegging van R 454 miljoen. Die president en uitvoerende hoof van TSAM, Andrew Kirby, het gesê dat TSAM die plaaslike waarde-toevoeging van die Hi-Ace Ses’fikile proaktief van 38% tot 44% verhoog het. Hierdie lokalisering het R 422 miljoen per jaar tot die ekonomie toegevoeg en  nog 80 werks-geleenthede is in die proses geskep.

Mnr. Andrew Kirby aan die woord met die opening van die nuwe Hi-Ace aanleg.

Die jongste bydrae plaas TSAM se algehele belegging in die Hi-Ace-aanleg op R 1 miljard sedert die maatskappy se aanvanklike belegging in 2012. TSAM het in 2012 van die invoer van die Hi-Ace as ‘n volledig gemonteerde voertuig na ‘n half-gemonteerde voertuig oorgeskakel en in 12015 na ‘n ongemonteerde voertuig. Sedert die begin van plaaslike vervaardiging het maatskappy  gesien hoedat die volumes van 9 300 na 14 000 eenhede per jaar toegeneem het. Dit dui op ‘n styging van 37%. Die onlangse toename in vraag van Toyota se klante tot 15 000 per jaar het die maatskappy die geleentheid gebied om lokalisering te verdiep; dit sal die maatskappy mettertyd in staat stel om bekostig-baarheid te verbeter. Volgens Patel is hierdie belegging van byna ‘n halfmiljard Rand ‘n groot hupstoot in vertroue in die vermoë van die Suid-Afrikaanse motorbedryf en die KwaZulu-Natalse ekonomie. 

Volgens Kirby lewer vervaardiging die grootste bydrae tot die ekonomiese uitset in KwaZulu-Natal terwyl 350 000 direkte werksgeleenthede  ondersteun word. Sedert TMSA se lokaliserings-program begin het, is 80 000 taxi’s plaaslik gemonteer. As elkeen van hierdie taxi’s hul deure sou oopmaak , sou  meer as ‘n miljoen Suid-Afrikaners daarin kon klim. Die verhoogde plaaslike inhoud is ‘n belangrike deel van die 2035-visie vir die bedryf en die deelname van Suid-Afrikaners in hierdie bloeiende sektor sal vermeerder.

Volgens Kirby is die minibus-taxi bedryf ‘n groot deel van die Suid-Afrikaanse vervoerstelsel  en hierdie voertuig speel ‘n belangrike rol in die ondersteuning van die wiele van die land se ekonomie.  TSAM is trots om deel te wees van hierdie bedryf en is voortdurend op soek na geleenthede om deel te neem aan maatskaplike opheffings-programme.

“Ons wil twee van hierdie programme beklemtoon wat ‘n regstreekse verband met minibus-taxi bestuurders en pendelaars het. Die eerste een is die Safe2School Safe2Home-projek wat fokus op die verbetering van veilige vervoer van leerders wat met ‘n minibustaxi skool toe ry. Kirby is persoonlik passievol hieroor omdat taxi-eienaars en -bestuurders, ouers en onderwysers beter oor verkeersveiligheid opgevoed sal word. 

Tweedens is daar ‘n pasgemaakte taxi-opleidings-program bekendgemaak; die uitdruklike doel daarvan is om taxi bestuurders te bemagtig deur aan hulle sake-, leiers- en ondernemings-vaardighede te bied. Sowat 600 operateurs het reeds deelgeneem en daar word verwag dat nóg 645 binne die volgende twee jaar sal deelneem.”

TSAM het ook die begin van sy uitvoer-bedrywighede aangekondig deur die plaaslike montering van die Hilux in Kenia te ondersteun. TSAM steun plaaslike montering en het daarom bykans R 20 miljoen belê vir die vestiging van sy verpakkings-aanleg  om hierdie onderneming vir ongemonteerde pakke te ondersteun. Die kern van vervaardiging, soos bedoel deur die voertuig-vervaardigings-en ontwikkelings-program (APDP) bly dieselfde. Daar is geen verandering in die waarde-toevoeging nie en indiensmening het met 20 bykomende mense toegeneem.  Produksie in Kenia sal vandeesmaand ‘n aanvang neem en klante in Kenia sal baat daarby vind deurdat hulle voertuie teen meer bekostigbare pryse kan aanskaf. Volgens Kirby is TSAM verbind tot die groei van die motorbedryf en sal as sodanig tot die maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling van Afrika as ‘n geheel bydra.

Categories:
%d bloggers like this: