Toyota Hi-Ace herleef

0 Comments

Nadat die nuwe Toyota Quantum, wat oor semi-voorstuurbeheer beskik, vroeër in 2019 bekendgestel is, is die vorige model weer beskikbaar, maar hierdie keer onder die Hi-Ace-naam.

Die Quantum-reeks bestaan uit die Ses’fikile, wat op die taxi-mark gemik is, en ‘n 14-sitplek GL, wat op openbare aanvraag weer by die reeks gevoeg. Hierdie model voldoen aan die vraag na ‘n waarde-gefokusde mensekarweier.  Albei Hi-Ace-modelle word toegerus met dieselfde 2,5 liter turbodiesel wat die vorige Quantum gehad het en wat aan ‘n vyfgang-handratkas gekoppel word. Hierdie enjin lewer 75 kW teen 3 600 opm en het ‘n wringkrag van 260 Nm tussen 1 600 en 2 400 opm.

Die Ses’fikile is ook beskikbaar met dieselfde 2,7 liter viersilinder petrolenjin met dubbele bonokasse en sestien kleppe wat in die Hilux beskikbaar is; dit lewer 111 kW teen 4 800 opm en ‘n wringkrag van 241 Nm teen 3 800 opm.

Een belangrike verskil tussen die Hi-Ace en die nuwe Quantum is dat die Hi-Ace, anders as die Quantum, wat heelwat groter as die vorige model is, as ‘n ligte handelsvoertuig met ‘n bruto-voertuigmassa van minder as 3 500 kg geklassifiseer word. Gevolglik kan ‘n mens die Hi-Ace met ‘n gewone rybewys bestuur.

Die Ses-fikile is net in wit beskikbaar, maar silwer is die enigste bykomende kleurkeuse vir die GL.

Die pryse van die Hi-Ace-reeks, wat ‘n waarborg van drie jaar of 120 000 km en ‘n diensplan vir nege versienings of 90 000 km vir die dieselmodelle of ses versienings of 60 000 km vir die Ses’fikile-petrolmodel insluit, lyk só:

Hi-Ace Ses’fikile 2,5 D-4D: R 453 900

Hi-Ace Ses’filike 2,7: R 428 400

Hi-Ace 2,5 D-4D GL Bus: R 571 900

Categories:
%d bloggers like this: