Die gewildste voertuig op die Suid-Afrikaanse mark, die Toyota Hilux, is vanjaar vyftig jaar oud, en ter viering daarvan is die beperkte Legend 50-reeks begin Julie 2019 bekendgestel.

MotorPlus wou egter sien hoe hierdie bakkie op die langpad presteer en MotorPlus se Daantjie Badenhorst het die langpad vanaf Pretoria tot Kaapstad in 2 dae afgelê. Hier is sy padindrukke oor hierdie spesiale voertuig.

 

MotorPlus het ‘n reis van twee dae met die 4×4-dubbelkajuit met die sesgang-handratkas onderneem.  Die Legend 50 het ‘n paar uitstaande kenmerke wat hom van die res van die reeks onderskei. Die groter sierrooster, wat vroeër vanjaar met die Dakar-modelle bekendgestel is, is in swart afgewerk en bevat die Legend 50-kenteken. Aan die kant is daar spesiale swart allooiwiele met 265-60 R 18-bande, swart skermstroke en ‘n swart rolstaaf met die Legend 50-kenteken. Die blou kleur van die toetsvoertuig was asemrowend pragtig en almal wat hom gesien het, het positiewe kommentaar gelewer. Die enigste nadeel is dat dit nie heeltemal geskik is vir ‘n voertuig wat hoofsaaklik vir harde werk gebruik word nie, maar die Legend 50 lyk selfs mooi in wit.

Byna die hele Legend 50-reeks word toegerus met dieselfde enjin, naamlik die 2,8 liter turbodiesel wat ook in die Raider voorkom; hierdie enjin lewer 130 kW teen 3 400 opm en het ‘n wringkrag van 420 Nm teen 1 400 en 2 600 opm. Die toetsvoertuig was toegerus met die sesgang-handratkas. MotorPlus het in 2016 ‘n Raider 4×4 dubbelkajuit met ‘n outomatiese ratkas getoets en daarom was dit ‘n interessante vergelyking. Die handratkas was hoegenaamd nie ‘n nadeel nie, behalwe dat ‘n mens doodseker moet maak dat die rathefboom in die neutrale posisie is voordat jy die aansitknoppie druk. Die toename in gewildheid van ‘n outomatiese ratkas in hierdie soort voertuig is egter maklik om te verstaan, veral as ‘n mens gereeld in swaar verkeer moet bestuur.

Ons het vir die grootste deel van die rit met ‘n vrag kartondose vol boeke gery om aan plattelandse skole langs die pad te skenk en die ritgehalte was beslis beter met ‘n vrag op die laaibak. Die toetsvoertuig was met ‘n harde seil toegerus; vir diegene wat dalk nie van ‘n kappie hou nie, is dit ‘n goeie manier om die vrag op die laaibak te beveilig en dis maklik om te verwyder en terug te sit. Die rit het ‘n ook stuk grondpad ingesluit; hoewel dit nooit nodig was om die laestrekfunksie te gebruik nie, het ons agtergekom dat die Hilux hom baie goed van sy taak gekwyt het. Die gemiddelde brandstofverbruik wat ons behaal het, was tussen 9,8 en 10,4 liter per 100 km. Die Hilux-reeks se brandstoftenk hou 80 liter, maar selfs nadat ons sy tenk vol diesel gemaak het, het die ritrekenaar ‘n reikafstand van omtrent 670 km gewys. Ons het nooit met minder as ‘n kwart-tenk diesel gery nie, en die een keer wat ons volgenaak het, het dit ons net meer as R 800 gekos. Ons het nog twee keer daarna diesel ingegooi en Kaapstad gemaklik gehaal.

Die binnekant van die Legend 50 is baie dieselfde as dié van die Raider, en soos die jongste Raider-modelle kry hy satellietnavigasie as standaardtoerusting. Dit het die reis soveel makliker gemaak; dit sou trouens nie moontlik gewees het daarsonder nie. Die inligting-en-vermaakstelsel werk uitstekend; daar is ‘n tuisskerm wat inligting oor die frekwensie van die radiostasie of die liedjie op die USB-stokkie waarna daar geluister word, gee, asook die kaart van die omgewing en die huidige brandstofverbruik en die afstand wat nog afgelê kan word voordat daar brandstof ingegooi moet word. Die draaiknoppies waarmee die volume en radiofrekwensie ingestel word, werk baie goed en dis maklik om tussen die verskillende funksies op die raakskerm te beweeg. Motovervaardigers kan maar ophou om hul klankstelsels met CD-spelers toe te rus; vir die lang pad is dit beter om ‘n USB-stokkie vol musiek te laai; selfs ‘n 8 GB-stokkie was genoeg vir ‘n reis van twee dae en daar was bitter min liedjies waarna ons meer as een keer geluister het. Ons kon net een USB-kragpunt in die kajuit opspoor, maar gelukkig kon ons ‘n selfoonlaaier in een van die 12 volt-kragpunte indruk, met die gevolg dat ‘n slimfoon deurentyd gelaai kon word. Dit is ook moontlik om die foon in die boonste paneelkissie te bêre om seker te maak dat dit nie die bestuurder se aandag aftrek nie. Die ritrekenaar, met die uitleespaneel tussen die spoedmeter en die toereteller, is uiters omvattend en bevat meer as net inligting oor brandstofverbruik, reikafstand en die huidige radiofrekwensie; dit sluit onder meer ook ‘n kompas in.

Die Hilux het in Junie 2019 rekordverkope te midde van strawwe mededinging behaal. Daar is egter net vier mededingers wat regstreeks met die toetsmodel kan meeding, aangesien sommige ander bakkies in hierdie klas nie met handratkaste beskikbaar is nie. Die Toyota Hilux 2,8 GD-6 Legend 50 4×4 Dubbelkajuit kos R 647 600. Hierdie model se vernaamste teenstander is die Ford Ranger. Hoewel Ford twee nuwe turbodieselenjins van twee liter elk onlangs bekendgestel het, is die Ford Ranger Wildtrak 4×4 steeds met die 3,2 liter-turbodieselenjin en ‘n handratkas  teen ‘n prys van R 616 900 beskikbaar.

Die Volkswagen Amorok-model wat direk met die toetsvoertuig kan meeding, is die Volkswagen Amarok 2,0 BiTDi Highline 4 Motion wat R 634 100 kos. In die Nissan Navara-reeks kompeteer die 2,3 LE 4×4-handrat teen ‘n prys van R 635 800. Laastens is daar die Isuzu D-Max 3,0 LX. Isuzu het ‘n benydenswaardige reputasie vir betroubaarheid en al hoe meer isuzu bakkie-eienaars vertel van hul bakkies wat al meer as ‘n miljoen kilometer afgelê het. Dieselfde kan natuurlik van die Hilux gesê word.

Die Legend 50 is die voortsetting van ‘n vyfjaarlikse tradisie van Toyota om mylpale in die Hilux se geskiedenis te vier, en beslis die aantreklikste Legend-model wat tot dusver op die mark gekom het.  Die prys van R 647 600, wat ‘n waarborg van drie jaar of 100 000 km en ‘n diensplan geldig vir nege versienings of 90 000 km insluit, is dalk effens hoër as dié van sommige mededingers, maar dan kry ‘n mens iets baie spesiaals.

Hierdie reis het maar net weer bewys dat “alles loop reg, altyd reg” meer as net ‘n advertensieslagspeuk is; die Hilux is nie net geskik vir harde werk in ‘n beperkte omgewing nie, maar ook ‘n wonderlike voertuig vir langer afstande. Dit was ‘n loutere plesier om ‘n lang reis met hom te onderneem.

 

%d bloggers like this: