Die legendariese Toyota Hilux is vanjaar 50-jaar oud  en om dit te vier is die Hilux Legend 50 sopas (in Julie 2019) in beperkte getalle bekendgestel.

Die eerste Legend-model wat in Suid-Afrika bekendgestel was, was die Legend 35, wat in 2004 op die mark gekom het om die Hilux se 35ste verjaardag te vier. Sedertdien het dit ‘n instelling elke vyf jaar geword, met die gevolg dat dié model deur die Legend 40 en Legend 45 opgevolg is.

Lees ook wat ons motor-geskiedkundige, Daantjie Badenhorst, skryf oor die geskiedenis van die Toyota Hilux in Suid-Afrika. http://motorplus.co.za/toyota-hilux-is-vyftig/

Nou het Toyota hierdie tradisie voortgesit met die bekendstelling van die Legend 50, wat in die enkelkajuit-,  Xtracab-  en dubbelkajuit-weergawes beskikbaar gestel word. Daar is ook ‘n keuse tussendie beproefde  2,8 liter turbodiesel- en die vierliter Toyota  V6-enjin.

Aan die buitekant spog die Legend 50-modelle met boonste en onderste sierroosters met glansswart behandeling, met bypassende gestileerde mislighulsels; ‘n silwer hoogtepuntlyn beklemtoon die vertikale misligafwerking met ooreenstemmende silwer vir die onderste bufferskerm. Legend 50-kentekens wat effens aan die linkerkant gemonteer is, asook ligdiode-kopligte met dagryligte rond die voorkant af.  Die kantaansig word versterk deur swart kantskerms op die Xtracab en dubbelkajuit, verchroomde deurhandvatsels en buitespieëls asook swart kanttrappe, satynsilwer dakspore vir die Xtracab en dubbelkajuit, ‘n pasgemaakte agterste stileerstaaf met ‘n Legend 50-kenteken en ‘n getekstrureerde swaar bakseil. Aan die agterkant is daar ‘n swart stamper, gerookte agterligte, kentekens vir die agterklap en ‘n laeprofiel-trekstang. Die Legend 50 word toegerus met tweekleurige 18-duimwiele met 265-60 R 18-bande.

Aan die binnekant is daar swart leerbekleedsel met blou perforasie en stikwerk vir al die modelle behalwe die enkelkajuit, en ‘n chroom-aksentstrook wat aangevul word met glansswart paneelafwerking, strek dwarsoor die voorpaneel. Daar is ook silwer drumpelplate in die deure en ‘n stel matte met kentekens. Die instrumentehuisie het wit instrumente met oranje naalde en ‘n tandratvormige motief, asook ‘n TFT-veeldoelskerm van 4,2 duim tussen die spoedmeter en die toereteller. Hierdie skerm beat inligting soos brandstofverbruik, die aantal kilometres wat nog met die brandstof in die tenk afgelê kan word, die kompas en navigasieaanwysings.  Daar is stuurwielkontroles wat vir die bestuurder toegang tot dié inligting gee.  Die inligting-en-vermaakstelsel is opgegradeer en beskik nou oor ‘n skerm van agt duim wat gelyk met die voorpaneel ingebou is.  Dit beskik oor draaiknoppe vir die volume en frekwensieverstelling. Daar is ook kortpadskakelaars vir sleutelfunksies, ‘n raakvlak-koppelvlak, ingeboude satellietnavigasie, asook DVD-, AUX-, USB-koppelvlakke en Bluetooth.  Daarby is ‘n veelfunksiestuurwiel en ‘n trukamera standaardtoerusting.

Aangesien alle Legend 50-modelle op die Raider-spesifikasievlak gebaseer is, is verskeie veiligheidskenmerke standaardtoerusting.  Die Xtracab en dubbelkajuitmodelle beskik or sleutellose toegang met ‘n aansitknop, terwyl lugsakke vir die bestuurder en passasier, asook kant-, knie- en gordynlugsakke standaardtoerusting na gelang van die bakvorm is. Die hele reeks word ook toegerus met ABS-remme met elektroniese remverspreiding, stabiliteitsbeheer, remhulp en wegtrekhulp.

Die enkelkajuit en Xtracab is net beskikbaar met die 2,8 liter turbodieselenjin wat ‘n kraglewering van 130 kW teen 3 400 opm lewer en ‘n wringkrag van 420 Nm tussen 1 400 en 2 600 opm bied (450 Nm tussen 1 600 en 2 400 opm in die geval van die outomatiese modelle).  Hierdie enjin is beskikbaar met ‘n keuse tussen ‘n hand- of outomatiese ratkas met ses gange elk.  Die dubbelkajuit is ook beskikbaar met ‘n V6-enjin van vier liter wat 175 kW teen 5 200 opm en wringkrag van 376 Nm teen 3 800 opm lewer.

Die hele reeks word gerugsteun deur ‘n waarborg van drie jaar of 100 000 km  en ‘n diensplan wat tot 100 000 km geldig is; die dienstussenposes van 10 000 km beteken dat die eienaar sy of haar voertuig in daardie tydperk nege keer kan laat diens. Die diensplan kan ook teen ‘n ekstra tarief verleng word.

 

Die pryse van die Legend 50-modelle is as volg:

Romp Model Prys
Enkelkajuit
(S/C)
Hilux SC 2.8 GD-6 RB Legend 50 (handrat) R 472 000
Hilux SC 2.8 GD-6 RB Legend 50 (outo) R 491 100
Hilux SC 2.8 GD-6 4X4 Legend 50 (handrat) R 537 700
Hilux SC 2.8 GD-6 4X4 Legend 50 (outo) R 557 100
Langkajujit
(Xtra Cab)
Hilux XC 2.8 GD-6 RB Legend 50 (handrat) R 511 100
Hilux XC 2.8 GD-6 RB Legend 50 (outo) R 530 200
Hilux XC 2.8 GD-6 4X4 Legend 50 (handrat) R 578 800
Hilux XC 2.8 GD-6 4X4 Legend 50 (outo) R 598 200
Dubbelkajuit
(D/C)
Hilux DC 2.8 GD-6 RB Legend 50 (handrat) R 579 100
Hilux DC 2.8 GD-6 RB Legend 50 (outo) R 598 500
Hilux DC 2.8 GD-6 4X4 Legend 50 (handrat) R 647 600
Hilux DC 2.8 GD-6 4X4 Legend 50 (outo) R 668 800
Hilux DC 4.0 V6 4X4 Legend 50 (outo) R 712 100

 

%d bloggers like this: