Toyota knap Hilux ingrypend op

0 Comments

Die Toyota Hilux is sedert sy 1969 met ons en is is sekerlik Suid-Afrika se suksesvolste voertuigverkoper nog. Selfs te midde van die COVID 19-pandemie het verkope nie net konstant gebly nie, maar selfs toegeneem. As daar dus enige nuwe ontwikkelings op die Hilux gedoen word, moet Suid-Afrinaners daarvan kennis neem.

Die agtste geslag het in 2016 hier op die mark gekom, en dit is sopas aansienlik verbeter om by die jongste tegnologie en stilering aan te pas. Nie net is daar ‘n aantal nuwe kenmerke wat hom van sy voorganger onderskei nie, maar in sekere gevalle is die modelbenamings ook verander. Die S en SR-modelle, die werkesels in die reeks, gaan voort met hul oorspronklike vooraansigte soos voorheen, maar die SRX-benaming val weg, en die Raider-naam word nou vir 2,4 en 2,8 liter-modelle gebruik. Die SRX het, volgens die vervaardiger, voortdurend ontwikkel om aan die mark se versoeke te voldoen en tot by die vorige Raider-spesifikasievlak gevorder. Daarom het die vervaardiger besluit om die twee te kombineer, en die gevolg is die nuwe Raider. Dit het die geleentheid geskep om ‘n nuwe vlagskip-spesifikasievlak bekend as die Legend bekend te stel.

Daar is drie vooraansigte beskikbaar, naamlik dié van die S en SR, wat van die begin af dieselfde vooraansig behou het, dié van die Raider, wat voortgaan met chroom-hoogtepunte en die nuwe kenmerkende Legend-voorkoms wat op die ontspanningsmark gemik is. Die mees opvallende verandering aan die voorkant is die nuwe gebeitelde skraal kopligte met ‘n nuwe rooster en voorstamper.  Die nuwe stilering sluit by Toyota se nuwe internasionale ontwerprigting vir bakkies aan. Die Raider-modelle spog met ‘n groot trapesiumvormige sierrooster met ‘n breë chroomrand en horisontaal geskeide driedimensionele roosterelemente. Nuwe boemerangvormige misligte en ‘n geïntegreerde stamperbeskermer rond die voorkant af.  Die 2,4 GD-6 Raider-modelle kry vier halogeengloeilampe terwyl die 2,8 GD-6 Raider met ‘n dubbele ligdiode-samestelling met gestileerde interne liggidse en ligdiode-rigtingwysers toegerus word. Die kantaansig bly hoofsaaklik onveranderd, , maar die 2,8-modelle se agterligte kry ook die gestileerde ligdiodebehandeling. Die chroom-deurhandvatsels en verchroomde agterste stamper rond sy voorkoms af.

Die Legend-naam is voorheen gebruik vir beperkte modelle wat bekendgestel is ter viering van die Hilux se 35ste, 40ste, 45ste en 50ste verjaardag, maar nou word dit die benaming vir die vlagskipmodelle in die reeks. Die swart trapesiumvormige sierrooster integreer met die voorste stamper, enjinkap en uniek geïntegreerde skermplaat.  Donker kopliginsetsels  en ‘n gesentreerde chroominlegsel wat die Toyota-kenteken laat uitstaan, onderskei die nuweling verder. Dit word saamgevoeg deur bypassende wielnishulsels wat naatloos in die voorste stamperhoeke saamsmelt en ‘n geïntegreerde mislighulsel vorm. Hulle het ook geweermetaal-insetsels oor die wielboë, wat in kontras met die dowwe afwerking van die wielnishulsels en die deurhandvatsels uitstaan. Die agterstamper met grafietafwerking en modelspesifieke agterklap rond die geharde maar gevorderde voorkoms af. Daar is ook ‘n opsionele RS-pakket vir die Legend beskikbaar; die RS verwys na die rolluik wat deel daarvan is.  Hierdie pakket bestaan uit ‘n gemotoriseerde rolluik, grafietkleurige sportrolstaaf, laaibak met rubbervoering, agterklap met oop- en toemaakhulp en sentrale sluitwerking asook ‘n stofverdedigingstelsel.

Daar is ook heelwat verbeteringe aan die binnekant aangebring; die Raider kry ‘n nuwe ontwerp vir die instrumenthuisie met metaalinvoegsels, ‘n ringomhulsel en ‘n metaalrand.  Die agtduimskerm vir die inligting-en-vermaakstelsel bevat ‘n swewendeskermontwerp en draaiknoppe vir maklike gebruik bly behoue. Hierdie skerm word deur ‘n metaalrand, wat aan weelde-elektronika herinner, omring. Die Legend kry pasgemaakte binnerruimbehandeling; die blou deurbeligting vul die geperforeerde leerbekleedsel en swart dakvoering aan.

Sommige modelle se wiele en bande is verander; die Raider-modelle spog nou met donkergrys alloowiele met 265-65 R 17-bande en die Legend met nuwe wiele met masjienafwerking en 265-60 R 18-bande. Die ander modelle se wiele en bande bly onveranderd,

Die verbeteringe is egter nie net esteties van aard nie, aangesien die 2,8 GD-6-modelle toegerus word met ‘n verbeterde weergawe van die bestaande enjin; hierdie enjin lewer nou 150 kW teen tussen 3 000 en 3 400 opm en wringkrag van 500 Nm teen tussen 1 600 en 2 800 opm in die geval van die outomatiese modelle. Daarby het Toyota se ingenieurs  ook die werkverrigting en brandstofverbruik verbeter deur ‘n groter swaardiens-turboaanjaer met ‘n koeëllaerpatroon vir buitengewoon sterk versnellerreaksie in te span, asook ‘n hoëdrukinspuitingstelsel wat ‘n hoër maksimum brandstofdruk van 250 Mpa bied.

Die Legend 4×4 Outomaties bevat ook ‘n nuwe balanseer-as om geraas en vibrasies in die enjin te verminder.  Dit is aangebring om ‘n beter ry-ervaring te bied sonder om Toyota se kernwaardes van gehalte, duursaamheid en betroubaarheid in te boet.

Die sleepvermoë van die 2,4 GD-6-modelle is na 3 500 kg verhoog; dit stem nou ooreen met dié van die 2,8-modelle.  Die modelle met ‘n verhoogde grondvryhoogte asook die 4×4-modelle se sleepvermoë wissel van 2 750 tot 3 500 kg afhangende van die enjin en dryfstelsel.

Die hele reeks kry ook nóg bykomende standaardtoerusting; die S kry voortaan ‘n noodremsein en die SR word voortaan toegerus met ‘n vastrapewenaar en kragstuur met veranderlike vloeibeheer. Die Raider spog met kant- en gordynlugsakke , ligdiode-misligte, ‘n vergrote multi-inligtingskerm en parkeersensors. Dit alles is buiten bestaande kenmerke soos outomatiese klimaatbeheer, ‘n trukamera, ‘n verstelbare veelfunksiestuurwiel wat met leer oorgetrek is  en 12 Volt en 220 Volt kragpunte. Die Legend beskik oor al hierdie kenmerke asook ‘n elektrochromatiese truspieël en , vir die 4×4 dubbelkajuitmodelle, ‘n leerbinneruim, sleuteloose toegang met ‘n aansitknoppie en ‘n JBL-klankstelsel met nege luidsprekers.

Die Toyota Safety Sense-stelsel is vir die eerste keer in die Hilux beskikbaar, en dis standaardtoerusting vir die Legend 4×4-modelle. Dit integreer ‘n voorbotswaarskuwing, ‘n baanwisselwaarskuwing en aanpasbare spoedbeheer om bestuurders verdere gemoedsrus te gee. Dit sluit aan by bestaande kenmerke soos lugsakke, ISOFIX-hegpunte vir die agtersitplekke, SABS-remme met noodremhulp en elektroniese remkragverspreiding, stabiliteitsbeheer,sleepswaaibeheer en afdraandehulp vir die 4×4-modelle.

Die hele Hilux-reeks word toegerus met Toyota Connect, wat 15 GB komplimentêre data insluit en Wi Fi-toegang in die voertuig bied. Sodra klante aan hul profiel gekoppel is, kan hulle die voertuig deur middel van die My Toyota-toepassing beheer. Hierdie toepassing bied diensbesprekings, voertuiginligting en -geskiedenis, data-opsporing en die moontlikheid om die voertuig se lisensie aanlyn te hernieu.

Categories:
%d bloggers like this: