Breaking News

Toyota knap minibusse op

Toyota Suid-Afrika Motors (TSAM) het ‘n aantal verbeteringe aan sy Hi-Ace en Quantum-reekse aangekondig.

Die Hi-Ace Ses’fikile is Suid-Afrika se gewildste minibus en te midde van die COVID 19-pandemie het Toyota besluit om ‘n opgegradeerde bestuurderskerm aan te bring. Dit is gedoen om die veiligheid van pendelaars en taxi bestuurders te verbeter. Hierdie skerm, wat standaard toerusting is vir alle Hi-Ace Ses’fikile-modelle wat sedert Oktober 2020 vervaardig is, gee die bestuurder ekstra beskerming teen COVID 19-oordrag en bied groter gemoedsrus vir bestuurders en passasiers. 

Die Quantum spog nou met bykomende gemak- en geriefs-toerusting tesame met eksterne opgradering vir sommige modelle. Die GL Bus sal voortaan met sestienduim-allooiwiele met 235/65 R 16-bande pleks van die vorige staalwiele toegerus word. Die wielgrootte van die 11- en 14-sitplekmodelle word ook gestandardiseer.  Aan die binnekant is daar ‘n nuwe elektrochromatiese binnesipeël wat outomaties kan verdof en ‘n trukamera word standaard toerusting. Die paneelwa en Crew Cab-weergawes word ook met hierdie nuwe kenmerke toegerus. 

In reaksie op terugvoer van klante het Toyota die Quantum-reeks gerasionaliseer en die modelle in die paneelwa- en Crew Cab-reekse verminder deur die modelle sonder lugversorging aan die mark te onttrek terwyl die Crew Cab-model met lugversorging agter ook uit die reeks verwyder is.

Die nuwe Quantum-reeks se pryse, wat ‘n waarborg van drie jaar of 100 000 km en ‘n diensplan vir nege versienings of 90 000 km, met dienstussenposes van 10 000 km of een jaar, lyk só:

Quantum 2.8 LWB Panel Van 3-s – R 535 700

Quantum 2.8 SLWB Panel Van 3-s – R 574 600

Quantum 2.8 LWB Crew Cab 6-s – R 545 300

Quantum 2.8 LWB GL Bus 11-s – R 669 800

Quantum 2.8 SLWB GL Bus 14-s – R 684 900

Quantum 2.8 LWB VX Bus 9-s – R 985 600

%d bloggers like this: