Breaking News

Toyota knap sy C-HR op

Nadat Toyota sy C-HR (Coupé High Rider) in 2020 detail-veranderinge ondergaan het, is die vlagskip van die reeks, die Luxury, verder opgeknap.

Die vooraansig spog met nuwe sekewensiële rigtingwysers en ligdiode-kopligte met dagryligte en outomatiese hoërstaalhulp.  Die misligte spog voortaan ook met ligdiode-tegnologie. Daar is ‘n nuwe driesegment-ligdiodeontwerp vir die agterligte en met gerookte omhulsels wat tot in die agterklap strek, toegerus word.  Die Luxury is in vyf tweekleur-afwerkings beskikbaar, naamlik blou, oranje, rooi, wit en silwer, elk met ‘n swart dak. 

Die Toyota Safety Sense (TSS)-stesel wat standaard toerusting vir die Luxury is, is verder verbeter met die toevoeging van aanpasbare spoedbeheer en baanhouhulp asook baandwaal-waarskuwing. Dié stelsel is verbeter deurdat dit die bestuurder nie net keer om per abuis van baan te verwissel sonder om rigtingwysers te gebruik nie, maar dit help ook om die motor in die middel van sy baan op die oop pad te hou. Die ander kenmerke van die TSS-stelsel bly onveranderd, onder meer voorbots-waarskuwing, ‘n dwarsverkeer-monitor agter en ‘n blindekol-monitor.

Soos voorheen word die C-HR aangedryf deur Toyota se 1,2 liter vier-silinder enjin met ‘n turboaanjaer wat 85 kW teen 5 200 tot 5 600 opm en wringkrag van 185 Nm teen 1 500 tot 4 000 opm lewer. Daar is ‘n keuse tussen ‘n sesgang-handratkas en ‘n palwissel (CVT)-ratkas.

Altesaam vier modelle met ‘n keuse van drie spesifikasievlakke is beskikbaar. Die intreemodel word toegerus met staalwiele met wieldoppe en 215/60 R 17-bande, handbeheerde lugversorging, ‘n inligting-en-vermaakstelsel met ‘n raakskerm, trukamera, Bluetooth, Android Auto en Apple Car Play, stembeheer en ‘n USB-kragpunt, ABS-remme met noodremhulp en elektroniese remkrag-verspreiding, stabiliteitsbeheer, wegtrekhulp en ses lugsakke. Hierdie modelm is net met die handratkas beskikbaar. Die Plus bied die keuse van die hand- of CVT-ratkas en voeg die volgende kenmerke by: allooiwiele met 225/50 R 18-bande, voorste misligte, ‘n elektrochromatiese trusipeël binne, ‘n leerstuurwiel, dubbelsone-klimaatbeheer en outomatiese ruitveërs. Benewens die TSS-stelsel spog die Luxury met kenmerke soos buitespieëls wat met die druk van ‘n knoppie ingevou kan word, parkeersensors, leerbekleedsel, ‘n aansitknoppie en verhitbare voorsitplekke. Die Luxury is net met die CVT-ratkas beskikbaar.

Die pryse van die C-HR-reeks, wat ‘n waarborg van drie jaar of 100 000 km en ‘n diensplan vir ses versienings of 90 000 km insluit, lyk só:
C-HR 1,2 T: R 402 300
C-HR 1,2T  Plus handrat: R 436 300
C-HR 1,2 T Plus CVT: R 449 300
C-HR 1,2 T Luxury CVT: R 519 900

%d bloggers like this: