Breaking News

Toyota Land Cruiser weer vir Voetspore-ekspedisie ingespan

Die Voetspore-span het pas met sy vyftiende ekspedisie in 21 jaar begin, en weer eens word die Toyota Land Cruiser hiervoor ingespan.

Die reis neem die span na die bron van die Zambezi-rivier; die vierde grootste rivier in Afrika; hulle reis aanvanklik deur Botswana na die grensoorgang by Kasane. Daarna  vertrek hulle na Livingstone in Zambië en later na die noordoostelike hoek van Zambië. Die amptelike reis begin by die bron van die Zambezi-rivier by Ikelenge.  Die Zambezi is die langste oosvloeinde rivier in Afrika en strek deur Zambië, Angola, Namibië, Bostwana en Zimbabwe en eindelik aan die kus van Mosambiek. Die span reis deur die Liuwa nasionale wildtuin in Zambië, verby die Barotse-vloedvlakte in Zambië, die Victoria-waterval in Zambië en Zimbabwe, Kariba, die  Mana-poel in Zimbabwe, Cahora Bassa in Mosambiek en Marromeu in Mosambiek. Die span hoop om die reis van 12 000 km binne drie maande te voltooi.

Die spanleier, vervaardiger en regisseur is Johan Badenhorst; sy oudste dogter Nina is verantwoordelik vir logistiek terwyl sy seun Streicher die operateur van die aksiekamera is. Johan se swear Francois Marais is die tegnikus van die span. Die ander spanlede is Norbert Coetzee wat medeverantwoodelik vir logistiek is en die kameraman Stefan Sonnekus.

Drie Toyota Land Cruiser-bakkies word vir die ekspedisie gebruik, naamlik twee 79-dubbelkajuite en een 79-enkelkajuit. Die Land Cruiser is al vir verskeie Voetspore-ekspedisies gebruik, onder meer in Madagaskar en Indië; dit is die Meester van Afrika wat bekend is vir sy veldryvaardigheid en sy vermoë om byna enige terrein in Afrika aan te durf. Toyota is ‘n trotse voertuigborg van die Voetspore-span. 

Die dagboek van die ekspedisie kan op https://voetsporezambezi.co.za/trip-diary gevolg word.

%d bloggers like this: