Toyota Rush

0 Comments

Motorplus se Neels Rabe was by die onlangse loodsing in van die Toyota Rush, Toyota se toetrede tot die meer bekostigbare kompakte sportnutsvoertuie.

Die gewildheid van die SUV kategorie dryf die skep van nuwe modelle. Eers was SUV of sportnutsvoertuie uitsluitelik groot voertuie gewees. Geleidelik het kleiner en meer bekostigbare modelle hul verskyning gemaak. Nou kom die Toyota Rush, ’n model wat op die kleinsportnutssegment gerig is. Die Rush is ‘n produk van die Toyota oorname van Daihatsu. Die gewilde Daihatsu Terios vorm in werklikheid die basis vir Toyota se nuwe speler in die SUV mark.

Die Rush fokus op intree-vlak bekostigbaarheid tesame met die gebruiklike hoë sitplekposisie, lekker beenspasie voor en agter, en ruim plek vir bagasie. Die laaste eienskap moet beklemtoon word. ‘n Volle 609 liter pakplek maak hierdie ‘n baie aantreklike oorweging. Marknavoring het getoon dat die meeste mense nie belangstel om 7 sitplekke te hê nie, veral nie daardie simpel opvou-tipe wat waardevolle pakplek steel nie.

Buite

Van die voorkant af pronk die nuwe Toyota Rush met ’n duidelike hoekige ontwerp met spitsagtige ligdiodekopligte en ’n groot trapesiumvormige sierrooster. Die rooster het wye horisontale dwarslatte wat in donkergrys afgewerk is met die Toyota-kenteken in die middel. ’n Omgekeerde kontoerlyn skei die boonste en onderste lugskorte en skep ’n driehoekige ruimte waarin die misligte gehuisves word. ’n Silwerkleurige glyplaat en dubbele enjinkaphobbels rond die vooraansig af.

Die sykantontwerp beklemtoon die Rush se indrukwekkende grondvryhoogte en ruimte, terwyl die swart wielnisbeslag en onderste paneelversierings ’n ruwe element byvoeg. ’n Merkbare keeplyn vloei van die voorwiel na die rand van die stertlighulsels wat ’n gevoel van beweging skep. Bypassende swart dakspore en ’n rompkleurige agterste drukvlerk op die dak skep ’n eenvormige voorkoms.

Die agterkantontwerp beklemtoon die ligdiodestertligte wat fris, horisontale lyne en ’n soortgelyke omgekeerde kontoerlyn het wat van die buffer tot die uitlaatpyppunt vloei.

Kopers het ’n keuse van vyf rompkleure: Tusk White, Quicksilver, Ruby Metallic, Liquid Bronze Metallic en Graphite Black.

Binne

Die binneruimontwerp het ’n fris, simmetriese uitleg met gebruiksgemaklike werksones wat op uitstekende ergonomie fokus. Die boonste deel van die voorpaneel het ’n raakskermklankstelsel met Bluetooth, USB-werking en Android Auto Plus Show of Apple CarPlay-werking. Hierdie hoëtegnologie-klankeenheid bied ook ’n gebruiker-aanpasbare uitleg en toepassings (apps) – ’n moet vir elke millenniër-kliënt.

Die onderste deel van die voorpaneel huisves die dubbelsone-klimaatbeheer, ’n 12V-sok en bergruimte.

Kontrasterende beslag en chroomhoogtepunte word op die voorpaneel en deurpanele aangewend om die kajuit helder te maak en ’n uitlokkende ruimte te skep. ’n Driespeek-leerstuurwiel met kantelwerking en afstand beheerde skakelaars gee die bestuurder ’n stewige greep vir die pad.

Die instrumentepaneel pronk met groot, duidelik leesbare grafika met ’n koel, blou halfgeronde motief en chroomomlystings. Die vertoonskerm in die middel, wat veelvuldige inligting vertoon, dra inligting wat self gekies kan word aan die bestuurder oor. Dit sluit selfs ’n volkleur eko-aanwyser in.

Die sitplekke wat goeie steun bied, is in duursame, swart patroondoekstof afgewerk en aanvullende swart doekstofinsetsels word in die deurpanele gebruik. Die agtersitplekke het drie onafhanklik verstelbare kopstutte en kan in die verhouding 60/40 vorentoe kantel.

 

Gerief

Padvakansies en lang ritte vereis oorgenoeg bekerhouers en bergruimte, en die Rush voldoen gewis daaraan. Die voorste deurhouers het plek vir twee bottels, terwyl die agterdeure ’n bekerhouer het wat in die deurhandvatsel ingebou is en deur ’n tradisionele bottelhouer aan die onderkant aangevul word. ’n 12V-kragsok is ook vir die agterste insittendes beskikbaar om dié sokke op twee te staan te bring.

Die middelkonsole het nog drie bekerhouers wat van die voorste en agterste sitplekke af bereik kan word terwyl ’n paneelkissie van 6,4ℓ en ’n rakkie aan die bestuurder se kant ruimte bied vir goed wat weggesteek moet word.

’n Ruim 609 liter se bagasieruimte word voorsien terwyl die Rush sitplek vir tot vyf mense bied. Die agtersitplekke kan onafhanklik platgevou word om meer bergruimte beskikbaar te stel.

 

Toerusting

Die Toyota Rush het ’n uitgebreide lys toerusting vir ’n voertuig in hierdie segment. Die buite-eienskappe sluit in elektries verstelbare en voubare deurspieëls, ligdiodekopligte wat outomaties aan en af kan skakel, dakspore en misligte.

Die raakskerm-klankstelsel met ses luidsprekers bied nie net die Android Auto Plus Show-, Miracast- en CarPlay-werking nie, maar het ook ingeboude satellietnavigasie om naatloos na enige bestemming te ry. Die insittendes kan hul eie slimfoontoepassings soos Apple Maps, Google Maps en Waze (afhangende van die toestel) saam met musiekstroomtoepassings soos Apple Music, Spotify en Google Music gebruik.

’n Ingeboude truratkamera en parkeerhulp (PDC) bied gerief sowel as veiligheid. ’n Sleutellose stelsel met ’n toegangskakelaar aan die deurhandvatsel en aansitterknop maak dit vir die bestuurder selfs nog makliker om die motor oop te sluit en aan te skakel.

 

Veiligheid en sekerheid

Die Rush pronk met omvattende veiligheidseienskappe. Aktiewe veiligheidstelsels sluit in voertuigstabiliteitsbeheer (VSC), sluitwerende remme (ABS) en opdraande-wegtrekhulp (HAC).

Die passiewe veiligheidstelsels behels altesaam ses lugsakke wat die insittendes in die geval van ’n botsing help beskerm en sluit lugsakke vir die bestuurder en voorste passasier sowel as kantlugsakke en lugsakgordyne in.

’n Alarm en immobiliseerder sowel as outomatiese sluiting wat by die aansitterstelsel aansluit, beheer toegang tot die voertuig.

 

Enjin en dryfstelsel

Die Rush word deur ’n viersilinder-enjin van 1,5 liter met dubbele bonokasse aangedryf. Dié enjin se verrigtingsyfers is 77 kW teen 6 000 r/min en 136 Nm teen 4 200 r/min. Die enjin maak ook gebruik van Toyota se VVT-i-stelsel om doeltreffendheid te bevorder.

Kopers het die keuse van ’n vyfgang-handratkas of outomatiese viergang-transmissie om die agterwiele aan te dryf.

Die handratweergawe van die Rush het ‘n amptelike brandstofverbruik van 6,6 liter per 100 km , terwyl die outomatiese model se verbruiksyfer  6,7ℓ /100 km is.

 

Onderstel 

Die veerstelsel, wat die uitleg van agterwielaandrywing met die enjin voor aanvul, bestaan uit McPherson-stutte voor en ’n multiskakel-uitleg agter. Die vering is spesifiek ontwikkel om goeie dempwerk op rowwe paaie te bied en aan die vereistes op gemengde oppervlakke (teer, gruis  en grond) te voldoen.

Een van die Rush se sleuteleienskappe is sy ruim grondvryhoogte van 220 mm, wat saam met sy invalshoek van 31 grade en vertrekhoek van 26,5 grade maklike gebruik op paaie van verskillende oppervlakke in die hand werk. Die Rush het ’n indrukwekkende waterrydiepte van 600 mm wat dié nuweling in staat stel om die meeste waterkruisings baas te raak.

Die Rush het 17”-allooisierwiele met 215-60-R17-bande en die noodwiel is volle grote.

Eerste indrukke:

Die eerste indrukke is ‘n voertuig met stilering wat hierdie skrywer herinner aan die Honda BRV, alhoewel ander joernaliste weer Fortuner trekke in die Rush bespeur. ‘n Paar riwwe op die enjinkap gee hom ‘n aggressiewe voorkoms. Hy’s egter glad nie ‘n spiertier nie. Die 1500 cc enjin se 77kW en 136Nm is voldoende vir die meeste take wat van hierdie voertuig verwag gaan word. Moet ook nie die ry-gerief van motors soos die Fortuner met groot wiele verwag nie. Daarvoor betaal ‘n mens aansienlik meer.  Hierdie is en bly ‘n intreevlak motor .

Toyota verras egter met die hoeveelheid bykomstighede wat ingesluit word. Satelietnavigering is ‘n baie welkome toevoeging. Die lys sluit in tasskerm klankstelsel met Bluetooth, USB, Android en Apple programmatuur, dubbele elektroniese klimaatbeheer ensovoorts.

Die binne-afwerking getuig van ‘n kwaliteit motor wat keurig ontwerp is. Verskillende kleur insetsels skep die indruk van ‘n veel duurder motor. Materiale is van hoë kwaliteit.

Dat hierdie ‘n baie praktiese motor is, lei geen twyfel nie. Vir  stadsgebruik is hy nie monsteragtig groot nie, maar bied wonderlike pakplek vir die O/13 rugbyspannetjie se sakke Saterdagoggend. Die hoë grondvry hoogte van 220mm stel mamma Saterdagmiddag instaat om sussie betyds by haar perdry-sessie op die plaas te besorg, ten spyte van die verspoelde plaaspaaie. Om die gesin op vakansie te neem met hierdie motor, en dan plekke soos die Addo Nasionale park te besoek soos wat ons tydens die Rush se bekendstelling gedoen het, is ‘n absolute plesier. Teen R299 900 vir die handrat model, en R313 500 vir die outomaties is hierdie ‘n uitstekende toevoeging tot Toyota se modelreeks.

Is die nuwe Rush ‘n Toyota Avanza op steroïdes? Nee, daarvoor is die Rush te goed. Baba-Fortuner? Dis waarskynlik ‘n beter beskrywing. Op die ou einde is hy egter soos enige middel-kind in ‘n gesin . Moenie hom met sy ouer of jonger boeties of sussies vergelyk nie. Hy’s ‘n indiwidu met unieke eienskappe, en behoort op sy eie beoordeel te word.

Waarborg

Die diensplan vir ses versienings of 90 000 kilometer is deel van die standaard-toerusting en word deur ’n waarborg van drie jaar/100 000 km gesteun. Die versieningstussenposes is elke 15 000 kilometer.

Pryse:

Rush 1.5 MT – R299 900
Rush 1.5 AT – R 313 500

Categories:

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: