Toyota Prius opgeknap

0 Comments

Toyota het pas die jongste weergawe van sy hibriede-baanbreker, die Pruis, in Suid-Afrika bekendgestel.

Die buitestilering is nie veel anders nie, maar daar is hersiene stampers voor en agter, terwyl nuwe kopligte met tweeledige ligdiodes, asook ‘n hersiene laer luguitlaat die motor se slanker voorkoms beklemtoon. Die nuwe ligdiode-misligte verenig die kenmerkende voorkant-ligte. Die nuwe ligdiode- agterligte weerspieël die vorm van die kopligte deur ‘n meer horisontale voorkoms; dit beklemtoon die motor se breedte en lae swaartepunt.

Daar is twee nuwe metaal-kleure, naamlik Fierce Red en Sky Blue beskikbaar, tesame met ses ander kleure. Die Prius gebruik allooiwiele van vyrfien duim met tien speke en omgewings-vriendelike 195- 65 R 15- Michelin-bande as standaard toerusting. Die binnekant spog met ‘n herontwerpte middelkonsole met twee bekerhouers, ‘n koordlose selfoon-laaier en sitplek verwarming-skakelaars. Die wit afwerking wat voorheen vir die konsole gebruik is, is met klavierswart vervang.

Die nuwe Prius is ‘n opgeknapte weergawe van die model wat in 2016 op die mark gekom het, en die eerste model was wat op die nuwe Toyota New Generation Architecture gebaseer is. Soos sy voorganger, word die nuwe model toegerus met ‘n Atkinson-siklus-petrolenjin van 1,8 liter wat die beste moontlike balans tussen verrigting en brandstof verbruik bied, afhangende van die bestuurder se insette en heersende pad-toestande. Die totale kraglewering van die petrol- en hibriede-kragbron is 100 kW en die gemiddelde brandstofverbruik is 3,7 liter per 100 km.

Die nuwe Prius is net so goed soos sy voorganger toegerus, en beskik oor sleutellose toegang, dubbelsone-klimaat beheer, ‘n trukamera, ‘n weerkaats-skerm (Head-Up Display), reënsensor- ruitveërs, ‘n trukamera, ‘n raakskerm-klankstelsel met ses luidsprekers en ‘n binnetruspieël wat outomaties verdof. Onder die veiigheids kenmerke wat standaard toerusting is, is sewe lugsakke, stabiliteits-beheer, ABS-remme met elektroniese remverspreiding en ISOFIX-hegpunte vir die agtersitplekke.

Die Prius kos R 490 200; dit sluit ‘n waarborg van drie jaar of 100 000km in, asook ‘n waarborg van agt jaar of 195 000 km vir die hibriede-battery. Daar is ook ‘n diens-plan wat vir ses versienings of 90 000 km geldig is.

Categories:

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: