Breaking News

Toyota se blitsbuks weer beskikbaar

Sedert sy bekendstelling in 2021 het die Toyota GR Yaris ‘n gunsteling onder motorgeesdriftiges geword en verskeie toekennings gewen.

In reaksie op die wêreldwye aanvraag het Toyota Suid-Afrika Motors (TSAM) pas aangekondig dat ‘n tweede besending van die GR Yaris nou in beperkte getalle in Suid-Afrika beskikbaar is, maar na aanleiding van markterugvoer is net een model beskikbaar, naamlik die GR Yaris Rally.

Soos voorheen word die Rally toegerus met Torsen-vastrapewenaar op die voor- en agteras, ‘n verrigtingsgeoriënteerde veerstelsel, hersiene kragstuurhulp en 18-duim BBS-allooiwiele met Michelin Pilot Sport 4S-bande.

Benewens die meganiese opgraderings word die GR Yaris Rally toegerus met die Toyota Safety Sense-stelsel toegerus. Dit sluit voorbotswaarskuwing, baanhouhulp, kopligte met outomatiese hoëstraalwerking en aanpasbare spoedbeheer in. Onder die ander veiligheidskenmerke waarmee die GR Yaris toegerus word, is ABS-remme met elektroniese remkragverspreiding en noodremhulp, stabiliteitsbeheer, wegtrekhulp en ‘n banddrukmonitor. Die GR Yaris beskik oor groot gegroefde remskywe van 356 mm met viersilinder-remknypers wat ontwerp is om aan streng vereistes van hoëspoed-baan-en-sneltrajekverrigting met hoë hittekapasiteit te voldoen. Die feit dat die GR Yaris se remskywe groter as dié van die GR Supra is, geetuig van die GR Yaris se hoëverrigting-erfenis. 

Die GR Yaris Rally word aangedryf deur ‘n turboaangejaagde 1,6 liter-driesilinderenjin wat 198 kW teen 6 500 opm en wringkrag van 360 Nm teen tussen 3 000 en 4 600 opm. Hierdie  enjin, wat as die kragtigste 1,6 liter-enjin ter wêreld beskou word, beskik oor dubbele nokasse, en ‘n enkelkrul-turboaanjaer met ‘n groot tussenverkoeler om verrigting te vervolmaak. Die enjin word aan ‘n sesgang-handratkas met ‘n motorsport-koppelaar gekoppel. Die GR Yaris se werkverrigting word ondersteun deur ‘n GR Four-vierwielaandrywingstelsel wat ontwerp is om dryfkrag na elke wiel te vervolmaak. Die verspreiding van wringkrag tussen die voor- en agteras word deur ‘n hoëreaksie-koppeling beheer.  Hierdie stelsel gebruik effens verskillende ratverhoudings vir die voor- en agteras en maak voorsiening vir ‘n teoretiese voor/agter-wringkragbalans van 100:0 (volle voorwielaandrywing) tot 0: 100 (volle agterwielaandrywing). Hierdie buigsaamheid bied ‘n groot verrigtingsvoordeeel in vergelyking met vierwielaandrywing op aanvraag wat dubbelkoppel- of permanente stelsels vir vierwielaandrywing met ‘n middelewenaar gebruik. Die GR-Four-stelsel is ook ligter. 

Die bestuurder kan ook die motor se aandrywingsverrigting deur al vier wiele aanpas om by sy of haar voorkeur of bestuurstoestande aan te pas deur ‘n 4WD-modusskakelaar te gebruik. In Normal-modus is die wringkragverspreiding 60% voor en 40% agter; in Sport-modus skuif die balans na agter in ‘n verhouding van 30% voor en 70% agter vir ‘n aangename ritgehalte op kronkelpaaie of op renbane. In Track-modus is die verhouding presies gelyk vir sneltrajekte of wanneer daar op ‘n renbaan meegeding word. 

Die binneruim is in swart afgewerk met Smoked Silver-afwerkingsbesonderhede rondom die deurhandvatsels, die middelkonsole, die stuurwiel en die luguitlate aan die kante. Die sitplekke  word in ‘n kombinasie van sintetiese leer en Alcantara afgewerk, met Alcantara-afwerking op die deure. Rooi stikwerk en GR-kentekens word deurgaans aangebring om ‘n sportiewe gevoel te gee en ‘n spesiale WRC (World Rally Championship)-kenteken wat op elke GR Yaris se middelkonsole aangebring word, dui sy stamboom aan. Die rathefboom het ‘n hoë posisie op die middelkonsole en die GR Four-skakelaar waarmee die verskillende bestuursmodusse gekies kan word, is net voor diee rathefboom geplaas. Daar is ook ‘n sportiewe veelfunksiestuurwiel met drie speke en rooi stikwerk. 

Een van die kerndoelwitte met die ontwikkeling van die GR Yaris, was ‘n uitstekende krag-tot-massaverhouding.  Die driedeurbakwerk is hoofsaaklik van ligte materiale gemaak , onder meer koolstofpolimeer vir die dak.  Hierdie materiaal, wat vir die eerste keer in ‘n Toyota gebruik word, kan saamgepers word. Aluminium word vir die enjinkap, deure en agterklap gebruik. Sy krag-tot-massaverhouding van 0,154 kW per kg maak dat die GR Yaris binne 5,5 sekondes van 0 tot 100 km/h kan versnel terwyl sy topsnelheid tot 230 km/h beperk word. 

Die prys van die GR Yaris Rally is R 761 200; dit sluit ‘n waarborg van drie jaar of 100 000 km asook ‘n diensplan wat vir nege versienings of 90 000 km, met dienstussenposes van 10 000 km in.

%d bloggers like this: