Toyota se Corolla-luikrug bied nog meer

0 Comments

Toe die nuwe Toyota Corolla-luikrug in 2019 bekendgestel is, het dié model ‘n nuwe era ingelui, met aanvallige stilering, ongeëwenaarde bestuursgenot en ongekende verfydheid.

In Maart vanjaar het Toyota die vlagskipmodel, die XR, opgeknap deur die Toyota Safety Sense-veiligheidspakket in te sluit; dit bestaan onder meer uit ‘n blindekol-monitor, voorbots-waarskuwing, baanhouhulp, baandwaal-waarskuwing en padteken-herkenning. Nou het Toyota ook dwarsverkeer-waarskuwing bygevoeg. 

Die reeks het egter nou ‘n paar ander verbeteringe ondergaan. Hoewel die XS, die goedkoper model, sy 16-duim allooiwiele met ‘n volgrootte noodwiel behou, sal die XR voortaan met nuwe allooiwiele met 225/40R 18-bande en ‘n ruimte-besparende noodwiel toegerus word. 

Nog ‘n nuwe kenmerk is die opgeknapte inligting-en-vermaakstelsel wat baie meer omvattend as voorheen is. Dit beskik nou oor Android Auto en Apple Car Play, wat beteken dat die gebruiker die toepassings op sy of haar slimfoon ook daarop kan gebruik. Navigasie-toepassings soos Google Maps en Waze word ook ingesluit, en insittendes kan ook musiekstromingsdienste soos Spotify en Deezer gebruik. Daar is natuurlik ook Bluetooth-verbinding en ‘n USB-kragpunt.

Die Corolla-luikrug is met een- en tweekleur-afwerking beskikbaar. Die nuwe toevoegings tot die eenkleur-reeks is blou en grys, asook ‘n nuwe skakering van rooi. Die twee-kleurkombinasies is beskikbaar in pêrelwit, blou, rooi en silwer, almal met ‘n swart dak. Die tweekleurafwerking is teen ekstra koste beskikbaar.

Soos voorheen is daar twee spesifikasie-vlakke. Die XS, die intreemodel, spog met kenmerke soos ligdiode-dagryligte en -kopligte, sleutellose toegang, spoedbeheer, dubbelsone-klimaatbeheer, elektries verstelbare en verhitbare buitespieëls, elektriese vensters wat met een druk van die knoppie oop- en toegemaak kan word, ‘n volkleur-vertoonpaneel vir die ritrekenaar en ‘n trukamera. Die XR is die luukse model, en benewens die 18-duim allooiwiele en Toyota Safety Sense spog hy met sportsitplekke wat in leer en Alcantara afgewerk is en oor verhitting vir die bestuurder en voorste passasier beskik. Albei modelle het veiligheids-kenmerke soos ‘n elektroniese parkeerrem, wegtrekhulp, bestuurder-, passasier-, gordyn-, kant- en knielugsakke, ABS-remme met elektroniese remkrag-verspreiding en noodremhulp en ISOFIX-hegpunte vir die agtersitplekke.

Al die modelle word aangedryf deur Toyota se 1,2 liter turbopetrolenjin wat ook in die C-HR gebruik word. Hierdie enjin lewer 85 kW teen tussen 5 200 en 5 600 opm en wringkrag van 185 Nm teen tussen 1 500 en 4 000 opm. Die XS bied ‘n keuse van ‘n sesgang-handratkas of ‘n Shiftmatic-palwissel (CVT)-ratkas met tien stappe. Die XR is net met laasgenoemde ratkas beskikbaar. 

Die pryse vir die verskillende modelle, wat ‘n waarborg van drie jaar of 100 000 km en ‘n diensplan geldig vir ses versienings of 90 000 km insluit, lyk só:


Corolla 1.2T Xs – R369,100 

Corolla 1.2T Xs Bi-Tone – R379,800 

Corolla 1.2T Xs CVT – R380,600 

Corolla 1.2T Xs CVT Bi-Tone – R391,300 

Corolla 1.2T XR CVT – R425,200 

Corolla 1.2T XR CVT Bi-Tone – R435,900

 

Categories:
%d bloggers like this: