Toyota se gewilde Fortuner nou beter as ooit

0 Comments

Sedert sy aanvanklike bekendstelling in 2006 was die Toyota Fortuner ‘n wegholsukses in Suid-Afrika, en verreweg die gewildste sportnutsvoertuig op die plaaslike mark.

Nadat die Hilux, waarop hy gebaseer is, onlangs ‘n aantal veranderinge ondergaan het, was dit net logies dat die Fortuner sou volg, en die nuwe weergawe is pas in Suid-Afrika bekendgestel.  Die groot nuus is dat ‘n splinternuwe vlagskipmodel, die VX, in 4×2- en 4×4-weergawes by die reeks gevoeg is en dat die 2,7 liter-vier-silinder enjin aan die mark onttrek is. Dit beteken dat net die 2,4- en 2,8 liter dieselenjins voortaan beskikbaar sal wees.

Hoewel die nuwe Fortuner nie veel van die vorige model verskil nie, is daar tog ‘n aantal nuwe kenmerke aan die buitekant wat hom van sy voorganger onderskei. Daar is ‘n nuwe sierrooster met ‘n gaaspatroon met glansafwerking vir die VX, asook ‘n nuwe skermplaat aan die onderkant van die neus.  Nuwe dubbele ligdiode-kopligte bied ‘n slanker voorkoms en word verder versterk deur chroomstroke wat oor die sierrooster en kopligte strek. Die kopligte bevat ook ligdiode-dagryligte wat deur ligdiode-misligte en strookagtige ligdiode-rigtingwysers en misligte aangevul. Daar is ook strookliggies wat bykomende beligting bied wanneer mense in of uit die voertuig klim.  Die VX kry ‘n chroom-gordelstrook wat van voor na agter strek en die ander chroom-afwerking aanvul.  Nuwe agterligte help om die voertuig meer opvallend in die donker te maak. Daar is ook ‘n dakdrukvlerk en die kenmerkende chroomstrook met die Fortuner-naam tussen die agterligte.

In reaksie op openbare aanvraag word die binnekant voortaan in swart afgewerk, en die swart leersitplekke beskik oor silwer kontrasterende stikwerk. Die instrumentehuisie is herontwerp en spog met metaalblou instrumente met wit naaldwysers en  en ‘n eenvoudige lettertipe wat die blou beligting aanvul. Die nuwe agtduim-raakskerm bied Apple Car Play- en Android Auto-verbinding en gebruikers kan toepassings soos Waze, Google Maps, JOOX, Spotify en Sound Cloud gebruik. Daar is ook Bluetooth-verbinding met ‘n bykomende USB-kragpunt. Die 2,8 GD-6-modelle spog verder met ‘n oudiovisuele navigasiestelsel. 

Hoewel die 2,4 liter GD-6 turbo-diesel enjin onveranderd bly, het die 2,8 liter-enjin ‘n kraginspuiting gekry. Dié enjin, wat ook in die nuwe Hilux gebruik word, lewer 150 kW teen tussen 3 000 en 3 400 opm en wringkrag van 500 Nm teen tussen 1 600 en 2 800 opm. Albei enjins word aan ‘n outomatiese ratkas met ses gange gekoppel, met net die 2,4 GD-6 RB wat met ‘n sesgang-handratkas beskikbaar is. Die sleepvermoë van die hele reeks is nou 3 300 kg, dieselfde as dié van die vorige 2,8 GD-6 4×4-model.

Sedert die Fortuner se aanvanklikie bekendstelling was daar net twee spesifikasievlakke, maar die mark het intussen tot só ‘n mate verander dat dit nodig was om ‘n vlagskipmodel by te voeg. Die VX-benaming word gebruik vir die topmodelle van Toyota se sportnus-reekse, onder meer die Land Cruiser, die RAV 4 en die Prado, asook die Quantum-minibus, gebruik. Die VX is ook die eerste Fortuner wat met Toyota se Safety Sense-stelsel toegerus word. Dit bevat ‘n voorbots-waarskuwing, baandwaal-waarskuwing, aanpasbare spoedbeheer en padteken-herkennning. Dit vul bestaande veiligheids-kenmerke wat standaardtoerusting vir die hele reeks is, soos  ABS-remme met elektroniese remkragverspreiding en noodremhulp, vastrapbeheer, sleepswaaibeheer, ISOFIX-hegpunte, stabiliteitsbeheer en afdraandehulp vir die 4×4-modelle aan.

Die spesifikasievlak van die ander modelle is ook verhoog. Die 2,4 GD-6-modelle sal voortaan met parkeersensors, volledige ligdiode-beligting, Apple Car Play en Android Auto en ‘n multi-inligtingsvertoonpaneel vir die instrumentepaneel toegerus word. Dié model word verder toegerus met ‘n trukamera, elektriese vensters met enkel-aanraakwerking, veelvuldige 12 volt-kragpunte en ‘n verkoelde boonste paneelkissie. Die 2,8 GD-6 sal voortaan toegerus word met ‘n ekeltro-chromatiese trusipeël, elektriese verstelling vir die voorsitplekke, klimaatbeheer en misligte agter, terwyl ‘n leerstuurwiel, leerhoogtepunte in die voorpaneel en houtafwerking met ‘n dowwe glans die binnekant afrond. 

Die 2,4 GD-6 word met dieselfde 17 duim-wiele met 265/65 R 17-bande as voorheen toegerus, maar die 2,8 GD-6-modelle sog met nuwe 18-duim wiele met ‘n turbine-ontwerp, metaal-opppervlak behandeling en 265/60 R 18-bande. Altesaam sewe kleure is beskikbaar; Oxide Bronze vervang Avantgarde Bronze . Die ander beskikbare kleure is Glacier White, Chromium Silver, Graphite Grey, Attitude Black, Cosmic Blue en Chestnut Brown.

Die hele reeks word met Toyota Connect toegerus. Dit stel die insittendes in staat om Wi Fi te gebruik en sluit komplimentêre data van 15 GB, wat aangevul word soos wat dit nodig is, in. Sodra eienaars aan die profiel gekoppel is, kan hulle die My Toyota-toepassing gebruik om versienings te bespreek, voertuiginligting en -geskiedenis na te gaan en selfs die voertuig se lisiensie aanlyn te hernieu. 

Die pryse vir die verskillende modelle, wat ‘n waarborg van drie jaar of 100 000 km en ‘n diensplan geldig vir nege versienings of 90 000 km (met dienstussenposes van 10 000 km) lyk só:

Fortuner 2.4 GD-6 RB 6-gang-handrat – R 566 800

Fortuner 2.4 GD-6 RB 6-gang-outomaties – R 588 000

Fortuner 2.4 GD-6 4×4 6-gang-outomaties – R 616 700

Fortuner 2.8 GD-6 RB 6-gang-outomaties – R 700 100

Fortuner 2.8 GD-6 4×4 6-gang-outomaties – R 770 400

Fortuner 2.8 GD-6 RB VX 6-gang-outomaties – R 720 200

Fortuner 2.8 GD-6 4X4 VX 6-gang-outomaties – R 790 500

Daar is ook uitgebreide diens- en onderhoudsplanne en waarborgpakkette  teen ekstra koste by handelaars beskikbaar.

Categories:
%d bloggers like this: