Breaking News

Toyota se groot Cruiser byna hier

Toyota Suid-Afrika Motors (TSAM) het onlangs aangekondig dat sy nuwe Land Cruiser-vlagskip gou bekendgestel sou word, en meer inligting is pas bekendgemaak.

Die Land Cruiser 300 sal met twee enjins en drie spesifikasievlakke beskikbaar wees. Die twee enjins is ‘n 3,5 liter petrol enjin met twee turboaanjaers en ‘n 3,3 liter turbo-diesel enjin; albei word gekoppel aan ‘n outomatiese tiengangratkas met ‘n laestrekfunksie. Die petrolenjin lewer 305 kW teen 5 200 opm en wringkrag van 650 Nm teen 2 000 opm, en die diesel enjin se syfers is onderskeidelik 225 kW teen 4 000 opm en 700 Nm teen 1 600 tot 2 600 opm. Albei modelle se topsnelhede word tot 210 km/h beperk. 

Drie spesifikasievlakke sal beskikbaar wees, naamlik die GX-R, wat die intreemodel is, die ZX , die nuwe luukse vlagskip en die meer verrigtings-georiënteerde GR Sport, die eerste Land Cruiser met die Gazoo Racing-kenteken. Die GX-R sal net met die diesel enjin beskikbaar wees. Die hele reeks word toegerus met kenmerke soos ligdiode-kopligte met ingeboude dagryligte, sleutellose toegang, parkeersensors, ‘n elektroniese parkeerrem, elektriese verstelling vir die bestuurdersitplek, ‘n multi-inligting-vertoonpaneel, ingeboude  satelliet-navigasie, verskeie krag- en laaipunte, kruipbeheer, Android Auto en Apple Car Play  en ‘n keuse van verskillende bestuursmodusse. Die ZX en GR-S voeg die volgende kenmerke by: elektriese werking vir die wegvou van die derde ry sitplekke, ‘n verhitbare stuurwiel met houtafwerking, ‘n JBL-klankstelsel met veertien luidsprekers en die vermoë om DVD’s te speel asook ‘n 12,3 duim-skerm, panoramiese kameras saam met ‘n veelterrein-monitor, ventilasie en verhitting vir die voorste en middelste ry sitplekke, ‘n koordlose selfoonlaaier en ‘n banddrukmonitor. Die ZX bied ook ‘n bykomende vermaakstelsel vir agterste insittendes wat met Wi Fi werk en koordlose oorfone insluit.  Toyota Safety Sense is standaard toerusting vir hierdie twee modelle; dit sluit kenmerke soos ‘n blindekolmonitor, baandwaal-waarskuwing, dwarsverkeer-waarskuwing agter en outomatiese hoëstraal-werking vir die kopligte in. Die hele reeks word toegerus met veiligheidskenmerke soos stabiliteits-beheer, vastrapbeheer, wegtrekhulp, afdraandehulp en sleepswaaibeheer in.

Die GR Sport is die mees bekwame veldryer in die reeks en spog met unieke kenmerke soos unieke buiteafwerking, 18 duim-allooiwiele , asook ‘n swart sierrooster en swart voorstamper. Sy veldryvermoë word verbeter deur die E-KDSS-veerstelel, ‘n verdere ontwikkeling van Toyota se kinetiese dinamiese veerstelsel. Die voordeel van hierdie stelsel is dat die wiele tegelyk gesluit kan word om hantering in veldry-toestande te verbeter.  Die GR Sport, asook die ZX, stel die bestuurder ook in staat om verskillende bestuurs-modusse, na gelang van die terrein waaop daar bestuur word, te kies.  Die reeks stel die koper in staat om te besluit of hy of sy ‘n praktiese, luukse of sportiewe voertuig verkies. 

Die GX-R word met materiaal-bekleedsel in ‘n keuse van swart of beige afwerking toegerus, terwyl leersitplekke standaard toerusting vir die ander twee modelle is.  Die ZX bied ‘n keuse tussen swart, beige of swart en donkerrooi bekleedsel terwyl die GR Sport net met swart of swart en donkerrooi beskikbaar is. 

Die pryse vir die verskillende modelle, wat ‘n waarborg van drie jaar of 100 000 km en ‘n diensplan vir nege versienings of 90 000 km met dienstussenposes van 10 000 km insluit, lyk só:

Land Cruiser 300 GX-R 3.3D     – R 1 283 200

Land Cruiser 300 ZX 3.3D          – R 1 765 500

Land Cruiser 300 ZX 3.5T          – R 1 797 100

Land Cruiser 300 GR-S 3.3D     – R 1 811 900

Land Cruiser 300 GR-S 3.5T      – R 1 842 900

Die petrolaangedrewe ZX sal in Augustus beskikbaar wees terwyl die ander modelle ‘n bietjie later sal volg,.

 

%d bloggers like this: