Toyota se nuwe Corolla is hier

0 Comments

Na die bekendstelling van die nuwe Corolla-luikrug en die jongste Corolla Quest  het Toyota pas die jongste weergawe van dié gewilde motor, wat ingevoer eerder as plaaslik vervaardig word, bygevoeg.

Die nuwe sedan-reeks bestaan uit drie modelle, naamlik die 1,8 XS, wat net met ‘n palwissel (CVT)-ratkas beskikbaar is, en die vlagskip van die reeks, die 2,0 XR met die keuse van ‘n CVT- of handratkas. Soos die nuwe luikrug is die sedan op die TNGA-platform gebou; dié platform is, volgens die vervaardiger, ‘n groot verbetering op sy voorganger met meer moderne stilering, verbeterde hantering en rygerief en ‘n aantal bestuurs-hulpmiddels wat vir die eerste keer in ‘n Corolla beskikbaar sal wees. Die nuwe Corolla kan deur middel van die My Toyota-toepassing met die internet verbind word om versienings te bespreek, ‘n digitale ritboek te hou en  padbystand aan te vra. 

Die reeks bestaan uit twee spesifikasie-vlakke. Die 1,8 XS is die intree-model van die reeks en is net met die CVT-ratkas beskikbaar. Hierdie model se enjin lewer 104 kW teen 6 100 opm en wringkrag van 171 Nm teen 3 900 opm. Volgens die vervaardiger is die gemiddelde brandstof-verbruik van die XS 6,1 liter per 100 km. Onder die standaard kenmerke warmee die XS toegerus is, is allooi-wiele met 205-55 R 16-bande en ‘n staal-noodwiel, ligdiode-kopligte, sleutellose toegang met ‘n aansit knoppie, ‘n nuwe Toyota Display Audio-stelsel met Bluetooth, Android Auto en Apple Car Play, stembeheer, ‘n trukamera, sewe lugsakke en stabiliteits beheer.

Die XR bied ‘n keuse van ‘n hand- of CVT-ratkas. Sy twee-liter enjin lewer 125 kW teen 6 600 opm en wringkrag van 200 Nm teen tussen 4 400 en 4 800 opm. Die vervaardiger se brandstof-verbruiksyfer is 6,0 en 6,5 liter per 100 km vir die CVT- en handrat model onderskeidelik. Die XR se bykomende kenmerke sluit die volgende in: dubbele ligdiode-kopligte met outomatiese hoëstraal, allooiwiele met 225-40 R 18-bande en ‘n ruimte-besparende noodwiel, ‘n elektro-chromatiese truspieël, baandwaal-waarskuwing, aanpasbare spoedbeheer, ratspane agter die stuurwiel vir die CVT, voorbots-waarskuwing en ‘n blindekol-monitor.

Die pryse van die nuwe Corolla-reeks , wat ‘n waarborg van drie jaar of 100 000 km en ‘n diensplan vir ses versienings of 90 000 km, lyk só:

1,8 XS CVT: R 372 700
2,0 XR handrat: R 412 300
2,0 XR CVT: R 425 200

 

Categories:
%d bloggers like this: