Toyota se nuwe Corolla Quest 

0 Comments

Deur Daantjie Badenhorst.

In Suid-Afrika word die vorige model Corolla afgestof, gepoets en weer op die rak gesit om as die Toyota Corolla Quest verkoop te word. Met die loodsing van die jongste weergawe van die Corolla, is dit weer sulke tyd, waar die uittredende Corolla-reeks nou weer die die nuwe Corolla Quest-reeks word.

Die nuwe Quest is gebaseer op die elfde geslag van die Corolla en vervang die vorige model, gebaseer op die tiende geslag.

Die groot verskil tussen die vorige Quest en die nuwe een is die enjin; die vorige model was net met ‘n 1,6 liter-enjin beskikbaar maar die 1,8 liter-enjin uit die elfde geslag is standaardtoerusting vir die nuwe reeks.  Dié enjin lewer 103 kW teen 6 400 opm en ‘n wringkrag van 173 Nm teen 4 000 opm.  Die rede vir die oorskakeling na hierdie enjin is dat die 1,8 liter-enjin wêreldwyd in meer modelle as die 1,6 gebruik word; dit bespaar kostes en die enjin is makliker as die 1,6 beskikbaar. Daar is ‘n keuse tussen ‘n sesgang-handratkas en ‘n palwissel (CVT)-ratkas.

Daar is hierdie keer drie spesifikasievlakke, naamlik die Quest, die Quest Prestige en die Quest Exclusive, almal beskikbaar met albei ratkaste.  Die gewone model word toegerus met staalwiele van vyftien duim en ‘n dofswart sierrooster.  Skyfremme op al vier wiele met ABS, elektroniese remkragverspreiding en noodremhulp, bestuurder-, passasier- en knielugsakke, wegtrekhulp, stabiliteitsbeheer en ‘n  veelfunksiestuurwiel.  Daarby is volg-my-kolpigte,  ‘n sentrale sluitstelsel met afstandbeheer,  ‘n radio/CD met ‘n USB-kragpunt, vier luidsprekers en elektriese vensters standaardtoerusting vir die hele reeks. Die Quest Prestige is die middelste model in die reeks, en voeg allooiwiele van sestien duim , chroombeslag buite, kantlugsakke, ‘n trukamera, ‘n opgegradeerde raakskerm-klankstelsel met ‘n DVD-speler, ‘n leerbedekte stuurwiel en doekstof-en-leersitplekke by. Die vlagskip van die reeks is die Quest Exclusive,met sleutellose toegang met ‘n aansitknoppie, ‘n  TFT-instrumentehuisie, leersitplekke, outomatiese lugversorging, reënsensor-ruitveërs en ligdiode-kopligte. Die Exclusive is die enigste model in die reeks met ‘n agtersitplek wat in ‘n 60/40-verhouding kan platvou.

Hoewel die Quest nie veel van die elfde geslag Corolla verskil nie, is sekere maatreëls in werking gestel om kostes te bespaar. Daar is uitgebreide navorsing gedoen oor hoe om die produksielyn meer doeltreffend te maak, komponente word beter gedeel en verkry om besparings te bewerkstellig en toerusting is verfyn om aan klante te behoeftes te voldoen. Aangesien die Quest in dieselfde aanleg as die Hilux en Fortuner vervaardig word om skaalbeperkings in die hand te werk en die vervaardigingsproses te vereenvoudig, word dieselfde kleurpalette gebruik.  Ander nie-estetiese komponente is tussen die twee reeks veralgemeen met groter plaaslike verkryging om kostebesparing te bewerkstellig.  Voorbeelde hiervan is die plafonmateriaal, die sitplekbekleedsel asook die verkryging van sitplekdwarsbalke,  voerklankverdigting en  sitplekmonterings.

Die pryse van die verskillende modelle, wat ‘n waarborg van drie jaar of 100 000 km en ‘n diensplan wat vir drie versienings of 45 000 km geldig is, lyk só:

Categories:
%d bloggers like this: