Breaking News

Toyota se nuwe mensekarweier is hier

Die afgelope dertig jaar was ‘n bekostigbare mensekarweier byna deurentyd deel van Toyota se Suid-Afrikaanse modelreeks.

Die Venture is in 1991 bekendgestel, gevolg deur die Condor in 2000, die eerste geslag Avanza in 2006 en die tweede geslag Avanza in 2012. Toyota het egter nou ‘n splinternuwe model in hierdie segment in Suid-Afrika op die mark gebring.

Die Rumion is die derde model wat ingevolge Toyota se samewerkings-ooreenkoms met Suzuki in Suid-Afrika bekendgestel word. Die Starlet en die Urban Cruiser, gebaseer op die Suzuki Baleno en Vitara Brezza onderskeidelik, het reeds groot sukses in Suid-Afrika en die Rumion, gebaseer op die Suzuki Eertiga, is die jongste gevolg van die samewerking tussen hierdie twee vervaardigers.

Anders as die Avanza is daar net een enjin beskikbaar, met die keuse van twee ratkaste. Die 1,5 liter vier-silinder enjin wat ook vir die Suzuki Ertiga gebruik word, lewer 77 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 138 Nm teen 4 400 opm lewer. Daar is ‘n keuse van ‘n vyfgang-handratkas of ‘n outomatiese ratkas met vier gange, afhangende van die model. Hoewel die konsep baie met dié van die Avanza ooreenstem, beskik die Rumion oor voorwielaandrywing.

Aan die voorkant is daar ‘n groot trapesiumvormige sierrooster in swart of chroomafwerking, afhangende van die model, met groot kopligte aan weerskante en ‘n lugskort in die voorstamper. Aan die kant is daar ‘n kenmerkende voulyn wat van die voorste modderskerm tot by die agterligte strek, en die groot vertikale agterligte beskik oor L-vormige lensverlengings en ligdioode-tegnologie. Die Rumion is beskikbaar in vyf kleure, naamlik wit, blou, grys, rooi en swart.

Soos in die geval van die Avanza, is drie spesifikasievlakke beskikbar, naamlik S, SX en TX. Die S is die intreemodel en word toegerus met swart afwerking vir die sierrooster, buitespieëls en deurhandvatsels, kleurgekodeerde stampers, drie rye sitplekke met twee sitplekke voor, drie in die middel en twee agter en ‘n 60/40-verdeling vir die middelste ry, geventileerde bekerhouers, handbeheerde lugversorging, elektriese vensters en ‘n 12 volt-kragpunt voor in die kajuit.  Twee lugsakke, ABS met elektronise remkragverspreiding en ISOFIX-hegpunte is standaardtoerusting, en selfs al word die S nie met ‘n klankstelsel toegerus word nie, word hy met Toyota Connect, wat die bestuurder in staat stel om die motor met die internet te verbind, toegerus. Die SX is die middelste model en bied ‘n keuse tussen die hand- of outomatiese ratkas. Sy bukomende kenmerke sluit die volgende in: ‘n agterste ruitveër en verwarmer, ‘n dubbel-din-klankstelsel met Bluetooth en ‘n USB-kragpunt, kleurgekodeerde deurhandvatsels, ‘n chroomsierrooster, ‘n veelfunksiestuurwiel, agterste parkeersensors, lugversorging agter en ‘n sentrale sluitstelsel met afstandbeheer.

Die TX is die vlagskip van die reeks en is weer eens beskikbaar met albei ratkaste. Die volgende standaard kenmerke onderskei hom van sy stalmaats: sleutellose toegang met ‘n aansitknoppie, outomatiese lugversorging, ‘n klankstelsel met ‘n raakskerm, Apple Car Play, Android Auto en ‘n trukamera, ses luidsprekers pleks van vier en nagemaakte houtafwerking op die paneelbord. 

Die hele reeks word toegerus met 186/65 R 15-bande; die S het gewone staalwiele sonder wieldoppe, die SX staalwiele met volle wieldoppe en die TX allooiwiele. In alle gevalle is ‘n volgrootte noodwiel standaardtoerusting.

Die pryse van die verskillende modelle, wat ‘n waarborg van drie jaar of 100 000 km en ‘n diensplan geldig vir vier versienings of 60 000 km insluit, lyk só:

Rumion 1,5 S: R 245 600
Rumion 1,5 SX: R 273 500

Rumion 1,5 SX Outomaties: R 289 200

Rumion 1,5 TX: R 301 600

Rumion 1,5 TX Outomaties: R 317 200

%d bloggers like this: