Breaking News

Toyota se nuwe Quantum eindelik hier, maar Hi-Ace herleef

Toyota het pas sy splinternuwe Quantum-reeks in Suid-Afrika bekend gestel, maar dit beteken nie die einde van die vorige reeks nie.

Die huidige model sal onder die Hi-Ace Ses’fikile-naam voortleef, terwyl die nuwe Quantum luukser en meer gesofistikeerd as voorheen sal wees. Die grootste verskil tussen die nuwe model en sy voorganger is dat die nuwe een ‘n snoet het waarin sy enjin gehuisves word en die plek van die “kajuit-oor-enjin”-ontwerp wat deel van die vorige reeks, asook die Hi-Ace wat hom vooraf-gegaan het, was. Die nuwe ontwerp maak ook ‘n ruimer binnekant moontlik, met verbeterde beenruimte en sitgemak. Die vooraansig sluit ‘n saam-gestelde sierrooster en kopligte in; die GL Bus-modelle spog ook met vertikale ligdiode-dagryligte en chroom afwerking vir die sierrooster. Daar is ook nuut afgewerk-tesestienduim staalwiele met volle wieldoppe terwyl die buitspieëls van die GL Bus-modelle elektries kan platvou.

Die nuwe Quantum-reeks bestaan uit paneelwa’s met lang of super-lang asafstande, ‘n bemannings kajuit-model met ses sitplekke wat op die langbak-paneelwa gebaseer is en twee GL Bus- weergawe; ‘n langbak-model met elf sitplekke en ‘n super-langbak-model met plek vir veertien mense. Onder die enjinkap is ‘n groter turbo-diesel enjin as voorheen; die hele reeks word toegerus met ‘n 2,8 liter enjin wat 130 kW teen 3 400 opm en wringkrag van 420 Nm teen 1 400 en 2 600 opm lewer. Hierdie syfers is geldig vir al die modelle behalwe die 14-sitplek bus, laas-genoemde model se kraglewering en wringkrag is onderskeidelik 115 kW teen 3 600 opm en 420 Nm teen tussen 1 600 en 2 200 opm. Die hele reeks word toegerus met ‘n sesgang-handratkas.

Die nuwe Quantum se binneruim is luukser as voorheen en ingestel om meer gerieflik en gemaklik te wees. Die sitplek-materiaal van die paneelwa en bemannings-bus is grys doekstof terwyl die sitplekke van die GL Bus-modelle met ‘n kombinasie van sintetlese leer en doekstof oorgetrek is. Die breedte van die skuifdeur opening is met 70mm vergroot; dit, tesame met ‘n groot trap wat ligdiode-ligte vir die GL Bus-modelle insluit, verbeter gemak van toegang. Die super-langbak-paneelwa se skuifdeur is groot genoeg om die in-en uitlaai van Euro-grootte palette aan die kant of deur die agterdeure te vergemaklik.

 

Die buitespieëls van die GL Bus-modelle sit laer as in dié van die res van die reeks en groot kwart-glas vensters is aan albei deure aangebring om sig vorentoe te verbeter. Daarby is ‘n hulpspieël ook bygevoeg om sig na onder en na agter te verbeter. Die model-spesifieke lugversorging-stelsel word gebruik om die lug vir die passasiers in die agter sitplekke (waar van toepassing) deur die lugversorings-kontrole op die paneelbord te beheer. Die GL Bus-modelle spog ook met dakgemonteerde luguitlate.

Verskillende aktiewe- en passiewe veilgheids-kenmerke is standaard toerusting vir die nuwe Quantum. Die ABS-remstelsel met elektroniese remkragverdeling maak dat die maksium remkrag benut kan word sonder dat die wiele vasslaan terwyl voertuig-stabiliteits beheer ‘n skielike verlies aan stabiliteit onderdruk. Die wegtrek-hulp maak dat die voertuig nie agteruit rol wanneer daar teen steil hellings weggetrek word nie. Die Quantum word ook toegerus met sleepswaai-beheer; dit bespeur die oormatige swaai van ‘n woonwa of sleepwa wat gesleep word.

Die Hi-Ace-naam, wat presies vyftig jaar gelede vir die eerste keer in Suid-Afrika bekendgestel is, leef voort in die nuwe weergawe van die vorige Quantum, wat steeds beskikbaar sal wees. Dié model sal voortaan as die Hi-Ace Ses-fikile bekendstaan en die 2,7 liter petrol- en 2,5 liter turbo-diesel enjins van die vorige reeks behou. Hierdie modelle sal steeds in Toyota se fabriek by Prospecton naby Durban vervaardig word.

 

Die pryse van die Hi-Ace Ses’fikile lyk soos volg:

  • 2,7 16 sitplek: R 419 100
  • 2,5 D 16 sitplek: R 444 200

Die Quantum-reeks se pryse, wat ‘n diensplan insluit wat voorsiening maak vir ses versienings of 90 000, lyk soos volg:

  • Quantum 2.8 LWB GL Bus 11-sitplek– R 597 700
  •  Quantum 2.8 SLWB GL Bus 14-sitplek – R 613 500
  • Quantum 2.8 LWB Paneelwa-driesitplek – R 473 900
  •  Quantum 2.8 LWB Paneelwa-driesitplek (met lugversorging) – R 481 400
  •  Quantum 2.8 SLWB Paneelwa-driesitplek – R 509 500
  •  Quantum 2.8 SLWB Paneelwa-driesitplek met lugversorging – R 517 000
  •  Quantum 2.8 LWB-bemanningkajuit-sessitplek – R 482 600
  •  Quantum 2.8 LWB bemanningkajuit-sessitplek met lugversorging – R 490 100
  •  Quantum 2.8 LWB bemanningkajuit-sessitplek (lugversorging voor en agter) – R 495 600

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: