Toyota se veldryer behaal geskiedkundige mylpaal

Deur Daantjie Badenhorst.

 

Toyota se langslopende model-reeks het onlangs ‘n belangrike mylpaal behaal; die eerste Land Cruiser is reeds in 1951 vervaardig en Toyota het in September 2019 aangekondig dat tien miljoen eenhede van dié legendariese veldryer internasionaal al reeds verkoop is.

Die aanvanklike Land Cruiser het as die Toyota “Jeep BJ” bekendgestaan en is in 1955, vier jaar na sy aanvanklike bekendstelling, die eerste keer uitgevoer. Op daardie stadium het dié veldryer as die 20-reeks bekendgestaan. Sedertdien het Toyota deurentyd weergawes ontwikkel wat aan kopers se veranderde behoeftes voldoen het, sonder dat betroubaarheid, duursaamheid en bestuursgenot ingeboet is. Dit is juis die kenmerke van betroubaarheid, duursaamheid en bestuursgenot wat nog altyd die grondslag was waarop die ontwikkeling van die Land Cruiser gebaseer was.

Om hierdie rede het die Land Cruiser nog altyd by kopers wêreldwyd byval gevind. Aanvanklik is daar minder as ‘n honderd eenhede per jaar van Japan uitgevoer maar teen 1965, tien jaar nadat uitvoere ‘n aanvang geneem het, is tienduisend eenhede per jaar uitgevoer. Op die oomblik is die Land Cruiser in omtrent 170 lande beskikbaar en ongeveer 400 000 eenhede word elke jaar verkoop.  Die Land Cruiser het aansienlik bygedra tot groter vetroue in die Toyota-handelsmerk en ‘n vastrapplek geskep om sy uitvoere uit te brei. Die Land Cruiser 40-reeks word vanweë sy betroubaarheid en duursaamheid vandag nog in sekere streke gebruik, meer as vyftig jaar nadat dit aanvanklik bekendgestel is. Die geskiedenis van die Land Cruiser simboliseer gehalte, duursaamheid en betroubaarheid; dit is ‘n ware wêreldproduk ; ‘n gerusstellende metgesel vir werk en en ‘n voertuig wat aktiewe en avontuurlike lewenstyle moontlik maak, goedere vervoer en mobiliteit vir die mensdom bied.

Die Land Cruiser word in Afrika gebruik om humanitêre hulp te verleen; in Burundi word kinders met malaria hospitaal toe geneem en in vlugteling-kampe in Uganda word pasiënte na klinieke vervoer. In Australië word die Land Cruiser vir mobiliteit in sink- en kopermyne ongeveer 1 600 meter onder die grond ingespan en om kuddes op groot veeplase van 8 000 vierkante kilometer te bestuur. In Costa Rica in Sentraal-Amerika word die Land Cruiser gebruik om wortels op ‘n hoogte van 3 500 meter te oes; die hellings is só steil dat dit selfs vir mense moeilik is om daar te staan. Die rede is dat geen ander voertuig as ‘n Land Cruiser in staat is om hierdie  gebiede te bereik nie.

Die tien miljoen Land Cruisers wat die afgelope 68 jaar verkoop is, het ook verder tot die verfyning van Toyota se ander voertuie bygedra,en die voertuig sal vorentoe ontwikkeling met die veronderstelling dat dit in elke uithoek van die wêreld gebruik kan word. Met die oog daarop is Toyota van voorneme om strenger standaarde daar te stel  en voort te gaan met die vervaardiging van die Land Cruiser met die doel om ‘n werklik unieke voertuig te skep.

Die Land Cruiser is in Suid-Afrika in vyf modelreekse beskikbaar. Die 70-reeks is die “swaardiens”-modelle en is beskikbaar in agt modelle. Die 79-enkel-kajuit reeks bestaan uit die 4,0 V6, die 4,2 liter diesel en die V8-turbodiesel. Al drie enjins word ook vir die dubbelkajuitreeks, wat onlangs uitgebrei is met die toevoeging van die Namib, gebruik. Die 76-stasiewa is net met die V8-turbodieselenjin beskikbaar. 

Die FJ Cruiser se stilering is deur vroeër modelle geïnspireer, en net een model, met die vierliter V6-enjin, is beskikbaar. 

Die Land Cruiser Prado is beskikbaar in vyf modelle; die TX is net met ‘n drieliter-turbodieselenjin beskikbaar terwyl die VX en VX-L-modelle ‘n keuse tussen hierdie enjin en dieselfde vierliter V6 as die Land Cruiser 70 en die FJ Cruiser bied.

Die Land Cruiser 200 is die topmodel van die modelle met die Toyota-tkenteken; daar is twee modelle met ‘n 4,5 liter V8-turbodieselenenjin beskikbaar, naamlik die GX-R en die VX-R. Die vlagskip van die Land Cruiser-gebaseerde reeks is die Lexus LX, wat beskikbaar is as ‘n LX 450d, met dieselfde enjin as die 200-modelle of die LX 570, met ‘n 5,7 liter V8-enjin.

Die pryse van die verskillende Land Cruiser-modelle lyk soos volg:

70-reeks:

79 4,0 V6 enkelkajuit: R 576 200

79 4,2D enkelkajuit: R 612 800

79 4,5 D-4D V8 LX enkelkauit: R 700 800

79 4,0 V6 dubbelkajuit: R 654 300

79 4,2 D dubbelkajuit: R 685 400

79 4,5 D-4D LX dubbelkajuit: R 786 600

79 4,5 D-4D LX Namib dubbelkajuit: R 893 600

76 4,5 D-4D LX stasiewa: R 786 900

FJ Cruiser:


4,0 V6: R 664 800

Land Cruiser Prado:


3,0 DT TX: R 866 300

4,0 V6 VX: R 980 400

3,0 DT VX: R 982 300

4,0 V6 VX-L: R 1 019 500

3,0 DT VX-L: R 1 021 300

Land Cruiser 200

4,5 D-4D V8 GX-R: R 1 054 400

4,5 D-4D V8 VX-R: R 1 448 000

 

Lexus LX
LX 450d:  R 1 735 400

LX 570: R 1 798 800

 

Die 70-reeks word nie deur ‘n diensplan gerugsteun nie; die Prado en 200 se diensplanne strek oor nege dienste of 90 000 km terwyl die Lexus LX se onderhoudsplan vir sewe jaar of 105 000km geldig is.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: