Breaking News

Toyota se Urban Cruiser nou beskikbaar

 

Toyota Suid-Afrika het pas sy tweede model, wat in samewerking met Suzuki ontwikkel is, in Suid-Afrika bekendgestel.

Die Urban Cruiser is gebaseer op die Suzuki Vitara Brezza. Die vooraansig van die Urban Cruiser bestaan uit ‘n groot sierrooster met twee horisontale stawe en die Toyota-kenteken in die middel en ligdiode-projektorkopligte aan weerskante om die Urban Cruiser duidelik van die Brezza te onderskei.   Die meeste modelle word met dakspore toegerus en daar is ‘n drukvlerk op die agterklap. Tussen die agterligte is daar ‘n chroom-strook met die Urban Cruiser-naam daarop. Die agterstamper word ook in dieselfde kleur as die bakwerk en in swart afgewerk, en weer eens is daar ‘n silwer skermplaat aan die onderkant.

Die binneruim beskik oor ‘n groot raakskerm en ventilasie-uitlate wat hoog gemonteer is, asook ‘n veelfunksiestuurwiel met metaalafwerking. Die instrumentepaneel beskik oor ‘n elliptiese spoedmeter en toereteller met vertikale brandstof- en temperatuurmeters en ‘n vertoonpaneel in die middel wat onder meer die besonderhede van die ritrekenaar, asook die afstandmeter en ‘n buitetemperatuurmeter insluit.  Die ritrekenaar gee die oombliklike en gemiddelde brandstofverbruik, asook die afstand wat nog met die brandstof in die motor afgelê kan word.

Drie spesifikasievlakke is beskikbaar, en die hele reeks word aangedryf deur ‘n 1,5 liter viersilinderenjin wat 77 kW teen 6 000 opm en wringkrag van 138 Nm teen 4 400 opm lewer. Die Xi is die intreemodel van die reeks, wat net met ‘n vyfgang-handratkas beskikbaar is. Onder die standaardkenmerke wat die Xi bied, is ligdiode-projektorkopligte, sleutellose toegang met ‘n aansitknoppie, 16 duim-staalwiele met volle wieldoppe en 205-60 R 16-bande, handbeheerde lugversorging, agterste parkeersensors, twee lugsakke, Bluetooth-verbinding , Android Auto en Apple Car Play.  Laasgenoemde stel gebruikers in staat om Google Maps, Waze en Apple Maps vir navigasie te gebruik en musiek van toepassings soos Spotify, JOOX en Sound Cloud te stroom.

Die middelste model is die XS, wat ook met ‘n outomatiese ratkas met vier gange beskikbaar is en die volgende bykomende kenmerke bied: 16-duim allooiwiele met 215-60 R 16-bande, dakspore, kleurgekodeerde deurhandvatsels, buitespieëls wat kan invou, ‘n agterruitverwarmer en -veër, ‘n boonste paneelkissie, ‘n verdeelde agtersitplek, ‘n trukamera, ‘n agterste armleuning en klimaatbeheer.

Die XR is die vlagskip van die reeks en albei ratkaste is beskikbaar, en bied die volgende bykomende kenmerke: voorste ligdiode-misligte, outomatiese kopligte, spoedbeheer, ‘n binnetruspieël wat vanself domp, outomatiese ruitveërs en kopligte, ‘n armleuning tussen die voorsitplekke, ‘n leerstuurwiel, ‘n verkoelde boonste paneelkissie,  die keuse van ‘n  bakwerk in twee kleure en ‘n verligte bagasieruim.

Al die modelle het Toyota Connect en die My Toyota-toepassing, wat gebruik kan word om versienings te bespreek, ‘n handelaar op te spoor, die voertuig se hele geskiedenis na te gaan, die naaste handelaar op te spoor  en die eienaar in staat stel om die 15 GB-komplimentêre data wat by Toyota Connect ingesluit is, aan te vul.

Die pryse van die Urban Cruiser-reeks, wat ‘n waarborg van drie jaar of 100 000 km en ‘n diensplan van drie versienings of 45 000 km insluit, lyk só:

1,5 Xi: R 247 900
1,5 XS-handrat: R 267 900
1,5 XS-outomaties: R 289 000
1,5 XR-handrat: R 294 500
1,5 XR-outomaties: R 315 700

Voornemende kopers kan hul waarborge en diensplanne by enige van Toyota se 220 handelaars landwyd verleng, of na ‘n volle onderhoudsplan opgradeer.

%d bloggers like this: