Toyota vervang Hilux SRX met Raider

0 Comments

Teen die einde van 2020 het Toyota sy Hilux-reeks hersien en die SRX-naamplaat, wat meer as dertig jaar gebruik is, onttrek.

In sy plek het Toyota Suid-Afrika Motors (TSAM) besluit om die Raider-modelnaam vir die SRX-modelle te gebruik en die Legend-naam vir die modelle wat voorheen as Raiders bekendgestaan het. Die rede vir die verandering was dat voornemende klante al hoe meer van nutsgeoriënteerde modelle in die Hilux-reeks verwag het en die SRX-afwerking al hoe nader aan die Raider-afwerking  beweeg het. Dit het gemaak dat die lyne tussen die middelste- en topmodelle al hoe meer vervaag het. Die bekendstelling van die nuwe Legend-modelle het TSAM die geleentheid gegee om die modelreeks te vervolmaak en deur die bank nog meer te bied. Die nuwe Raider bied die perfekte mengsel tussen styl en praktiese gebruik.

Wat sy nuwe voorkoms betref, kry die Raider die nuwe Hilux-gesig, met gevormde kopligte, ‘n groter trapesiumvormige sierrooster, geïntegreerde stamperbeskermer en boemerangvormige mislighulsels. Die chroomafwerking van die raam van die sierrooster is eie aan die Raider. Die voormalige 18-duim-allooiwiele is vervang met grafietkleurige 17-duim-wiele met 265-65R 17-bande.

Die SRX-modelle was voorheen net met die 2,4 liter GD-6-enjin met die keuse tussen ‘n hand- of outomatiese ratkas beskikbaar, maar die nuwe Raider bied die keuse van hierdie enjin en ratkas of die 2,8 liter GD-6-enjin uit die vorige Raider, weer eens met die keuse van ‘n hand- of outomatiese ratkas.  Die nuwe weergawe van die 2,8 liter-enjin lewer 150 kW, met wringkrag van 420 Nm vir die handratmodelle en 500 Nm vir die outomatiese modelle. 

Die nuwe Raider is beslis nie ‘n gestroopte weergawe van die vorige model nie; die nuwe Raider word trouens toegerus met parkeersensors asook kant- en gordynlugsakke. Die 2,4 liter-modelle word voortaan met ligdiode-misligte toegerus terwyl die 2,8 liter-modelle volle ligdiode-eenhede vir die kop- en agterligte het. Daarby is ‘n VFC-kragstuurpomp met veranderlike vloeibeheer ook nou standaard toerusting. Dit verbeter die brandstofverbruik en bied ‘n meer natuurlike bestuursgevoel na gelang van padtoestande. Groter kraghulp word teen lae snelhede, soos wanneer daar parkeer word, gebied terwyl minder hulp teen hoër snelhede gebied word om stuurgevoel te verbeter. Die Raider word ook nou met ‘n vastrapewenaar, vir verbeterde klouvermoë, toegerus.

Die Raider-reeks is beskikbaar in ‘n 2,4 GD-6  Raised Body (4×2) en 4×4 enkel- en dubbelkajuit met ‘n hand- of outomatiese ratkas, elk met ses gange. Die 2,8 GD-6 Raider is net in ‘n dubbelkajuit met ‘n outomatiese ratkas beskikbaar, en bied die keuse tussen 4×2 (vir die Raised Body) en 4×4. Slegs twee Xtracab (kajuit en ‘n half) modelle is beskikbaar. 

Aan die binnekant is daar ‘n nuwe agtduim-skerm met ‘n draaiknoppe vir die radio se instelling en volume en Apple Car Play en Android Auto is nou deel van die stelsel. Dit stel gebruikers in staat om die toepassings van hul selfone naatloos te weerspieël. Navigasie-toepassings soos Google Maps en Waze word ook ingesluit, en insittendes kan toegang kry tot hul musiekbiblioteke soos Apple Music, JOOX, Spotify en Sound Cloud. Kabellose telefoon-werking word deur Bluetooth-verbinding ondersteun, terwyl ‘n USB-kragpunt  bykomende media-opsies bied.  Daarby is ‘n groter multi-inligting-vertoonskerm en ‘n nuwe instrumenthuisie-ontwerp deel van die pakket. Bestaande toerusting soos lugversorging (outomatiese klimaatbeheer vir die 2,8 GD-6), ‘n trukamera,  spoedbeheer, ‘n verkoelde paneelkissie, 12V en 220V-koppelings en ‘n veelfunksiestuurwiel steeds standaardtoerusting.

Al die Hilux-modelle word toegerus met die Toyota Connect-telematiese stelsel wat ‘n Wi Fi-koppeling in die voertuig saam met 15 GB se komplimentre data bevat. Klante van die My Toyota-toepassing aflaai en hul voertuigdienste hierdeur bespreek. Hierdie toepassing bied diensbesprekings, voertuiginligting en -geskiedenis, nasporingsdienste en Toyota Connect-herlaaidienste; selfs die voertuig se lisensie kan hierdeur hernieu word.

Die pryse van die Hilux Raider-reeks, wat ‘n diensplan vir nege versienings of 90 000 km, asook ‘n waarborg vir drie jaar of 100 000 km insluit, lyk só:

ENKELKAJUIT  

HILUX SC 2.4 GD-6 RB RAIDER 6MT R 459 000 

HILUX SC 2.4 GD-6 RB RAIDER 6AT R 477 800 

HILUX SC 2.4 GD-6 4X4 RAIDER 6MT R 531 100 

HILUX SC 2.4 GD-6 4X4 RAIDER 6AT R 551 700 

HILUX SC 2.8 GD-6 RB RAIDER 6AT R 545 600 

HILUX SC 2.8 GD-6 4X4 RAIDER 6AT R 614 400


XTRA CAB (VERLENGDE KAJUIT)  

HILUX XC 2.4 GD-6 RB RAIDER 6MT R 471 500 

HILUX XC 2.4 GD-6 RB RAIDER 6AT R 490 200

 

DUBBELKAUIT  

HILUX DC 2.4 GD-6 RB RAIDER MT R 515 300 

HILUX DC 2.4 GD-6 RB RAIDER AT R 531 600 

HILUX DC 2.4 GD-6 4X4 RAIDER  MT R 595 400 

HILUX DC 2.4 GD-6 4X4 RAIDER AT R 621 700 

Hilux DC 2.8 GD-6 RB RAIDER AT                 R 644 500 

Hilux DC 2.8 GD-6 4X4 RAIDER AT R 720 500