Toyota het pas ‘n nuwe vlagskipmodel vir sy Aygo-reeks aangekondig.

Die X-Cite voeg hom by die twee bestaande modelle, die Aygo en die Aygo X-Play Black en spog met ‘n paar besondere kenmerke wat hom van sy goedkoper stalmaats onderskei. Die belangrikste hiervan is ‘n groot wegvoubare seilsondak met ‘n elektriese skakelaar. Hierdie dak is in swart afgewerk en is só ontwerp dat selfs agterste insittendes die gevoel van die wind in hul hare kan kry. Nog ‘n kenmerk, wat die X-Cite van die res van die reeks onderskei, is sy vyftien duim allooiwiele in plaas van die staalwiele met wieldoppe wat standaardtoerusting op die ander modelle  is.

Ander standaardkenmerke is onder meer elektroniese stabiliteitsbeheer, voorste- kant- en gordynlugsakke en LED-dagryligte.

Die X-Cite word aangedryf deur dieselfde eenliterenjin met drie silinders as die res van die reeks. Hierdie enjin lewer 51 kw teen 6 000 opm en het ‘n wringkrag van 95 Nm teen 4 300 opm.

Die prys van die Aygo X-Cite is R 189 500. Dit sluit ‘n waarborg van drie jaar of 100 000 km in. Daar is egter ook ‘n verlengde waarborg van tot ses jaar of 220 000 km teen ekstra koste beskikbaar.  Daarby is ‘n diensplan ook teen ekstra koste beskikbaar.

Aygo Pryse:

Aygo: R159 100

Aygo X-Cite Black: R161 500

Aygo X-Cite: R189 500