Breaking News

Toyota wys sy GR 86

Toyota se splinternuwe GR 86 het pas sy wêreld-buiging gemaak, en soos sy voorganger, is hy in samewerking met Subaru ontwikkel.

Die GR 86 is die derde model wat deur Toyota se motorsport-afdeling, Toyota Gazoo Racing ontwikkel is en sluit hom aan by die GR Supra, wat reeds in 2019 bekendgestel is, en die GR Yaris, wat teen die middel van die jaar in Suid-Afrika verwag word. Die oorspronklike 86, wat ook in sommige markte as die GT 86 bekendstaan, is reeds in 2012 internasionaal bekendgestel. Daar is reeds meer as 200 000 eenhede van die 86 wêreldwyd verkoop. Die 86 se naam kom van die Corolla AE 86 wat tussen 1983 en 1987 in Japan vervaardig is en legendariese status behaal het.

Onder die GR 86 se enjinkap is daar ‘n 2,4 liter vier-silinder enjin met ‘n bokser-uitleg wat al jare lank ‘n Subaru-kenmerk is, en ‘n keuse van ‘n hand- en outomatiese ratkas bied. Soos sy voorganger sal die GR 86 oor agterwiel-aandrywing beskik. Die internasionale modelle se enjin lewer 173 kW en 250 Nm, maar die spesifikasies vir die Suid-Afrikaanse modelle moet nog bepaal word.  Volgens die vervaardiger kan die GR 86 binne 6,3 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel. Die nuwe model behou die lae swaartepunt van die vorige weergawe; dit sorg vir dieselfde ratse hantering waaraan ‘n mens met die vorige model gewoond geraak het. Die ervaring wat die vervaardiger in motorsport opgedoen het, het gehelp in die ontwikkeling van die aërodinamiese komponente soos die lugskorte en kantpanele.

Aan die voorkant is daar ‘n stamper soos dié van die GR Yaris met ‘n groot sierrooster en luguitlate aan weerskante. Agter is daar ‘n ingeboude drukvlerk op die bagasiebak-deksel, asook ‘n dun swart strook tussen die agterligte en twee uitlaatpype in die hoeke. Hoewel die prototipe van die GR 86 met swart allooiwiele toeberus word, is dit nog nie seker watter wiele vir die produksiemodel gebruik sal word nie.  Die massa van die GR 86 word laag gehou deur die gebruik van aluminium vir die dak en ander bakpanele. Volgens die vervaardiger weeg die GR 86 net 1 270 kg. 

Die binnekant van die GR 86 is ontwerp met die bestuurder in gedagte, en beskik oor kenmerke soos ‘n seweduim- TFT-instrumentepaneel met ‘n groot toereteller en ‘n digitale spoedmeter, asook ‘n raakskerm van agt duim en allooi-pedale. Soos die GT 86 is die GR 86 ‘n 2+2, met twee agtersitplekke wat hoofsaaklik vir kinders bedoel is.  

Die GR 86 sal na verwagting vroeg in 2022 in Suid-Afrika bekendgestel word.

%d bloggers like this: