Nuwe 2017 Yaris is in Mei in Suid-Afrika bekendgestel.

In 2005 het Toyota die belangrike B-segment met die Yaris betree.

Sedertdien het dit een van Toyota se topverkopers geword en mettertyd is die reeks uitgebrei met die bekendstelling van ‘n sedan. Teen die einde van 2011 is die tweede geslag Yaris, maar hierdie keer net in luikrug-formaat bekendgestel.

Dié reeks het ‘n keuse tussen ‘n drie silinder een liter-enjin en vier silinder 1,3 liter-enjin gebied.

Die nuwe 2017 Yaris reeks bied die voornemende koper egter baie meer keuses: Twee ratkaste, twee enjins en ‘n hibried-model.

Die Yaris-reeks sal voortaan bestaan uit die Pulse, die Pulse Plus en die Hybrid-modelle. Die drie silinder een liter-enjin word in die intree-model, die 1.0 Pulse behou. Hierdie enjin lewer 51 kW teen 6 000 omwentelinge en het ‘n wringkrag van 95 Nm teen 4 300 omwentelinge. Die gemiddelde brandstofverbruik met hierdie enjin is 5,0 liter per 100 km.

Daar is egter nou ‘n nuwe 1,5 liter-enjin wat die vorige 1,3 liter enjin vervang. Hierdie enjin het ‘n verplasingsinhoud van 1 496 cc en lewer 82 kW teen 6 000 omwentelinge en het ‘n wringkrag van 136 Nm teen 4 400 omwentelinge. Hierdie 1,5 liter enjin is in beide die Pulse en die meer weelderiger Pulse Plus-modelle beskikbaar.

Twee ratkaste is in die nuwe Yaris 2017-reeks beskikbaar: ‘n Handrat en ‘n outomatiese CVT (Palwissel) ratkas.

Die gemiddelde brandstofverbruik van Yaris-modelle met die 1,5 liter petrolenjin is 4,8 liter (Handrat-model) en 5,0 liter (CVT-ratkas) per 100 km.

Die Pulse Hybrid het die CVT-ratkas as standaardtoerusting en het ‘n petrol- en elektriese enjin wat saamwerk. Die krag- en wringkraglewering van hierdie modelle is onderskeidelik  54 kW teen 4 800 omwentelinge en 111 Nm tussen 3 600 en 4 400 omwentelinge. Die gemiddelde brandstofverbruik van hierdie model is 3,6 liter per 100 km.

Al drie modelle stel hoë standaarde in veiligheid, en onder die kenmerke wat standaardtoerusting vir die hele reeks is, is ABS-remme met noodremhulp, wegtrekbeheer, stabiliteitsbeheer en voorste- en kantlugsakke.  Vir bykomende veiligheid is daar kopligte wat ‘n rukkie nadat die bestuurder die motor verlaat het, steeds aanbly, ‘n sentrale sluitstelsel met afstandbeheer Die Pulse Plus en Hybrid het ook knie- en gordynlugsakke. Die Pulse Plus het ook snelheidsbeheer as standaardtoerusting.

Die pryse van die nuwe modelle wissel van R 199 000 vir die 1,0 Pulse-handrat tot R 307 200 vir die Pulse Hybrid CVT. Die prys sluit ‘n waarborg van drie jaar of 100 000km in.

Die Pulse 1,0 en 1,5-modelle se diensplan is geldig vir drie jaar of 45 000km, en dié van die Yaris Hybrid vir vier jaar of 60 000km.

1.0 Pulse handrat R199 000
1.5 Pulse handrat R228 700
1.5 Pulse CVT R241 400
1.5 Pulse Plus CVT R249 600
1.5 Hybrid CVT R307 200