Sedert sy aanvanklike bekendstelling in Suid-Afrika in 2005 het die Toyota Yaris ‘n gunsteling onder plaaslike kopers geword, en vier weergawes het reeds sedertien op die Suid-Afrikaanse mark verskyn.

Die nuwe geslag Yaris is sopas ook in Suid-Afrika bekendgestel en getrou aan die huidige neiging in model-ontwikkeling in die motorbedryf dat groter beter is, is die nuwe Yaris 165 mm langer en 5 mm breër as sy voorganger.

Die sy-aansig van nuwe Yaris herinner baie sterk aan dié van sy groter stalmaat, die Auris. Daar is slanke kopligte met verchroomde binnepunte wat ‘n elegante voorkoms bied. Aan die onderkant van die vooraansig is ‘n trapesiumvormige sierrooster met LED-dagryligte in die boonste hoeke. Die sy-aansig het nog steeds ‘n klaaieke luikrug-voorkoms en die swart C-iplare dra verder by tot die motor se sportiewe voorkoms. Die uitstaande kenmerk aan die agterkant is swart afwerking tussen die agterligte; dit help om ‘n gevoel van breedte oor te dra. Die agterste stamper sluit aërodinamiese lugvinne in wat die lugvloei binne die wielnisse vergemaklik en lugvloei na die agterste stamper beperk.; dit verminder lugsleur en verbeter brandstofdoeltreffendheid. Daar is sewe kleure beskikbaar, naamlik wit, swart, metaalrooi, silwer, grys en twee nuwe kleure, metaaloranje en donker metaalblou.

Aan die binnekant is die nuwe Yaris beter afgewerk, en groter, as voorheen. Die sigaarvormige boonste voorpaneel is sigaarvormig en word aangevul deur metaalhoogtepunte om die luguitlate. Die deel wat ”afhang”, het ‘n silwer raam wat na binne toe vernou. Die werkruimte is in klavierskwart afgewerk en daar is verchroomde skakelaars wat ‘n gevoel van styl en gehalte gee.  Daar is twee bekerhouers aan die onderkant wat met ligdiode-atmosfeerligte belig word.

Die hele reeks is beskikbaar met net een enjinkeuse, maar twee ratkaste is beskikbaar. Die viersilinder 1,5 Toyota liter lewer 79 Kw teen 6 000 opm en 140 Nm teen 4 200 opm. Die hele reeks het ‘n vyfgang-handratkas as standaardtoerusting, maar die XS-model kan ook met ‘n CVT-ratkas bekom word. Die hanrdatmodelle se topsnelheid is 180 km/u en die gemiddelde brandstofverbruik is 5,9 liter per 100 km. Die XS CVT se syfers is onderskeikdelik 170 km/u en 5,8  per 100 km.  Die outomatiese ratwisseling van die CVT-ratkas word bepaal deur bestuurstoestande soos die motor se snelheid, versnellerposisie en remgebruik.

Aan die voorkant gebruik die Yaris bewese McPherson-stuttipe, vering terwyl ‘n wringstaafuitleg met ‘n ruimtedoeltreffende samestelling agter ingespan word. Die Yaris  bied ‘n stewige gevoel op die pad en kan verskillende padtoestande gemaklik aandurf. Die meeste modelle word toegerus met allooiwiele van sestien duim met 195/50 R 16-bande, maar die intreemodel, die Xi, het staalwiele van vyftien duim met 185/60 R 15-bande.

Daar is vier spesifikasievlakke, wat aan die meeste kopers se behoeftes voldoen, naamlik die Xi, die XS, die Cross en die Sport. Die Xi het sleutellose toegang met ‘n aansitknop, Bluetooth-verbinding, ‘n klankstelsel met vier luidsprekers en USB-werking,’n multi-inligtingskerm, elektriese voorvensters en buitespieëls, ‘n agterstre ruitverwarmer en veër, elektriese kragstuur en handbeheerde lugversorging.

Bykomende kenmerke waarmee die XS toegerus word, is sestienduim-allooiwiele, outomatiese kopligte, wegvoubare buitespieëls, elektriese vensters agter, ‘n leeroorgetrekte stuurwiel en rathefboomknop, ‘n veelfunksiestuurwiel en LED-dagryligte. Die Cross is op die XS gebaseer, maar kry ook dakrelings, swart skermstroke aan die kante, geborselde metaalbehandeling voor en agter en swart moddersklermstroke.

Die Sport is die vlagskip van die reeks en bied verskeie bykomende kenmerke wat die volgende insluit; twee bykomende luidsprekers, leersitplekke, klimaatbeheer, voorste misligte, ligdiode-agterligte, projektor-kopligte, ‘n drukvlerk op die luikdeur, ‘n haaivin-lugdraad, lugskorte voor, agter en aan die kante en ‘n donker metaalsierrooster.

Die meeste modelle, met die uitsondering van die Xi, bied ‘n inligting-en-vermaakstelsel met ‘n raakskerm. Benewens die gewone AM/FM-radio, Bluetooth-verbinding en USB-werking is dit ook versoenbaar met Apple Car Play en Auto+. Waar Apple-gebruikers standaard-toepassings met Siri-integrasie gebruik, kan Android-gebruikers self besluit watter toepassing hulle in die klankstelsel wil hê. Daarby kan gebruikers ook die uitleg van die skerm in pas met slimfoonwerking aanpas deur  toepassings oor te trek en op die skerm te laat. Ingeboude satellietnavigasie is ook ingesluit; dit gee gebruikers draai-vir-draaibegeleiding selfs al is die slimfoon nie gekoppel nie. Dit sluit inligting oor spoedbeperkings in en gee ten alle tye ‘n GPS-spoedlesing.

Daar is ‘n magdom bêreruimtes vir los goed in die kajuit. Benewens die twee bekerhouers in die middelkonsole is daar bottelhouers in die voorste en agterste deursakke en daar is ook bykomende bêreplek aan die bestuurder se kant. Die bagasiebak hou 310 liter, en is 8% groter as voorheen.

Die hele reeks is toegerus met veiligheidskenmerke soos twee lugsakke, ABS-remme met noodremhulp, elektroniese remverspreiding, ISOFIX-hegpunte en wegtrekhulp. Die Sport het ses lugsakke.

Só lyk die pryse van die nuwe Yaris-reeks:

1,5 Xi: R 230 800

1,5 Xi: R 230 800

1,5 XS: R 253 400

1,5 XS CVT: R 268 500

1,5 Cross: R 268 500

1,5 Sport: R 286 000

Die hele reeks word deur ‘n waarborg van drie jaar of 100 000 km en ‘n diensplan van drie jaar of 45 000 km gerugsteun, maar kopers kan albei teen ekstra koste verleng. Diens-tussenposes is elke 15 000 km.

%d bloggers like this: