Padindrukke:  Renault Triber Dynamique

0 Comments

 

Een van die marksegmente wat die afgelope tyd geweldig gegroei het, is die een vir intreevlak-veeldoelvoertuie met sewe sitplekke. Renault het pas tot hierdie segment toegetree met die bekendstelling van die Triber, wat op ‘n aangepaste weergawe van die Kwid se onderstel gebou word. Die reeks bestaan uit drie modelle; die Expression, die Dynamique en die Prestige en MotorPlus het seder die amptelike bekendstelling ‘n Triber Dynamique vir ‘n kort toetsrit geneem.

Die Triber se Renault-herkoms is duidelik sigbaar, hoewel hy nie heeltemal ‘n eksemplaar van die Kwid is nie. Die breë skermstroke onder aan die deure lyk baie dieselfde en soos die Kwid, is die Triber, met die uitsondering van die Prestige, met 14 duim-wiele met 165/80 R 14-bande toegerus. Die elektriese buitespieëls wat met die hand ingevou kan word, asook die stampers is dieselfde kleur as die bakwerk, en die Dynamique word van die Expression onderskei deur middel van dakspore. Ongelukkig volg Renault die moderne neiging onder vervaardigers van motors goedkoper as R 200 000 om die agterste ruitveër en -verwarmer weg te laat. Dit kan ‘n groot probleem in swaar reën veroorsaak; gelukkig word die Prestige wel daarmee toegerus.Die agterligte volg ook die moderne Renault-ontwerprigting wat reeds in die Koleos en die Mégane te sien is, deurdat dun stroke byna oor die hele breedte van die bakwerk loop, maar in die Triber se geval strek dié stroke nie die heelpad tot by die agterste Renault-kenteken nie.

Onder die enjinkap is ‘n opgeknapte weergawe van die Kwid se enjin, maar aangesien die Triber ‘n swaarder bakwerk het en vir die vervoer van sewe mense aangewend word, lewer sy enjin meer krag as dié van die Kwid, naamlik  52 kW teen 6 250 opm en wringkrag van 96 Nm teen 3 520 Nm. Ons toetsroete het ‘n kort gedeelte op ‘n  snelweg ingesluit, en daar is voldoende krag vir langer afstande, hoewel dit dalk nie ‘n goeie idee is om met sewe mense van Pretoria af Kaapstad toe te bestuur nie. Die Triber het ‘n handratkas met vyf gange as standaardtoerusting, en die koppelaaraksie is lig genoeg vir enigiemand, hoewel dit makliker is om ratte te wissel wanneer die koppelaar diep ingetrap word. Die gemiddelde brandstofverbruik van die toetsmodel was 11,7 kilometer per liter, wat hoog klink maar dan moet ‘n mens onthou dat dit nog ‘n splinternuwe motor was wat nog nie ingeloop is nie en dat baie mense sy werkverrigting tot die uiterste wou beproef. Die vervaardiger se gemiddelde syfer van ongeveer 18 kliometer per liter klink haalbaar tensy die motor vol gelaai is. Een van ons grootste punte van kritiek teen die Kwid is sy baie klein brandstoftenk van net 28 liter. Gelukkig word die Triber met ‘n 40 liter-brandstoftenk toegerus en ‘n reikafstand van net meer as 700 km behoort moontlik te wees. Die ritgehalte is baie goed, soos wat ‘n mens van ‘n motor van Franse herkoms kan verwag.

 

Aan die binnekant is die groot vraag hoe ‘n mens sewe mense in die Triber kan laai. Dit word deur twee kenmerke vergemaklik; die middelste ry sitplekke is in ‘n 60/40-verhouding verdeel en kan vorentoe geskuif word om toegang tot die derde ry moontlik gemaak, of die rugleuning kan platgeslaan word en daardie sitplek kan gekantel word. Die derde ry sitplekke is voldoende vir volwassenes in ‘n noodgeval maar dis regtig net vir kinders bedoel. Die uitleg van die binneruim is aanpasbaar, en enige getal insittendes van twee tot sewe kan vervoer word en geen gereedskap is nodig om die sitplekke te verwyder en terug te sit nie. Die vraag is net: waar bêre ‘n mens die sitplekke wat uitgehaal is? Gelukkig kan die derde ry sitplekke teen die tweede ry gevou word as vyf mense en hul bagasie vervoer moet word.  Die Dynamique beskik oor ‘n aantal kenmerke wat die prysverskil tussen hom en die Expression die moeite werd maak, soos ‘n raakskerm-klankstelsel met Apple Car Play en Android Auto, twee bykomende luidsprekes vir die agterste twee rye sitplekke, bykomende agterste luguitlate vir die agterste insittendes, en ‘n bykomende 12 volt-kragpunt agter. Die Triber gebruik dieselfde instrumentepaneel as die Kwid, met ‘n digitale spoedmeter en ‘n toereteller aan die linkerkant en ‘n brandstof-en-temperatuurmeter aan die regterkant. Die uitleespaneel van die ritrekenaar is onder die spoedmeter en maklik om te lees, maar die knoppie wat gedruk moet word om toegang tot die inligting te kry, is aan die regterkant van die instrumentepaneel en ‘n mens moet jou hand deur die stuurwiel druk om daarby uit te kom. In ander Renault-modelle is die knoppie aan die punt van die hefboom vir die flikkerligte; dit sou beslis ‘n verbetering gewees het.

As mense hoor dat die Triber op ‘n weergawe van die Kwid-onderstel gebou word, skrik hulle aangesien hulle dink die Kwid is nie veilig nie. Een gerusstellende kenmerk van die Prestige is twee bykomende lugsakke, wat ook op die goedkoper modelle standaardtoerusting behoort te wees. ABS-remme met elektroniese remkragverspreiding  en deure wat outomatis sluit as die voertuig wegtrek, is standaardtoerusting. Die 15-duim wiele van die Prestige dra ook by tot verbeterde padhouvermoë. Die Prestige word toegerus met ‘n trukamera, ‘n uiters welkome kenmerk selfs in ‘n motor van hierdie grootte.

Daar is min teenstanders wat volgens prys teen die Triber kan meeding. Die naaste een is die Datsun Go+ Lux, wat ‘n groot verbetering op die vorige model is en die Lux se prys van R 184 400 val tussen dié van die Dynamique en die Prestige. Selfs die Lux se spesifikasievlak stem egter met dié van die Dynamique ooreen; vir baie mense sal sy lae loopkoste en reputasie vir betroubaarheid sterk in die Go+ se guns tel. Die enigste ander soortgelyke voertuig teen hierdie prys is ‘n twyfelagtige mededinger, naamlik die Changan Minivan met sewe sitplekke wat R 189 880 kos. Die Minivan is nie naastenby so goed soos die Triber toegerus nie en is op die onderstel van die Star-bakkie gebou, wat van hom ‘n werkesel eerder as ‘n gesinsvoertuig maak. Die intreemodel in Suzuki se Ertiga-reeks is die GA, wat teen R 218 900 verkoop; weer eens kan sy vlak van afwerking nie met dié van die Triber vergelyk nie en die GL, wat baie dieselfde spesifikasievlak as die Dynamique het, kos R 269 900. Dit is uiters hoog, in vergelyking met die Triber Dynamique se prys van R 174 900, maar dan word die Ertiga met ‘n 1,5 liter-enjin toegerus.

Die gewildheid van die Kwid is ‘n bewys dat daar ‘n mark vir bekostigbare motors met ‘n hoë afwerkingsvlak is en dat kopers bereid is om opofferings te maak net om hul eie vervoermiddels te hê eerder as om van openbare vervoer gebruik te maak. Daarvoor het ‘n mens volle begrip, aangesien openbare vervoer soms onbetroubaar en onveilig is. Die probleem met die Kwid is egter dat dit nie ‘n baie ruim motor is nie en as ‘n mens se lewe verander, is dit nie meer so maklik om ‘n nuwe motor te koop nie. Die Triber is daarom ‘n baie beter keuse vir die lang termyn; selfs wanneer ‘n enkellopende persoon trou en kinders het, is daar steeds oorgenoeg ruimte. Hoewel die derde ry sitplekke nie altyd nodig is nie, maak die bykomende bagasieruimte wat beskikbaar is wanneer daardie ry verwyder word, ‘n reuse verskil.

Renault het vorendag gekom met ‘n wenner en die handelaars sal nie kan voorbly met die groot aanvraag wat beslis gaan ontstaan nie. MotorPlus raai voornemende kopers egter aan om die hoogste vlak van afwerking te kies wat hulle kan bekostig. Hoewel die Dynamique goeie waarde vir geld bied, is die Prestige se bykomende standaardkenmerke deurslaggewend en die prysverskil van R 15 000 nie te groot nie.

Lees ook MotorPlus se artikel oor die bekendstelling van die Renault Triber.

Renault Triber

Categories:
%d bloggers like this: