Sedert die bekendstelling van Audi Sport in 2016 as ‘n onderafdeling van Audi het verkope van dié Duitse vervaardiger se hoëverrigtings-modelle skerp toegeneem; in 2018 is daar 28% meer R8- en RS-modelle as in 2017 verkoop.

Nou het Audi aangekondig dat twee nuwe RS-modelle in Suid-Afrika bekendgestel is. Presies twintig jaar nadat die oorspronklike Audi RS 4 Avant in Suid-Afrika bekendgestel is, het dit tyd geword dat die nuwe model op die mark kom. Die nuwe model kombineer steeds uitsonderlike werk verrigting met veelsydigheid, wat hom uiters geskik maak vir alledaagse gebruik.

Die ontwerpers is geïnspireer deur verskeie stilerings-kenmerke van die Audi 90 quattro IMSA GTO; daar is soliede luguitlate aan die voorkant met die heuningkoek-ontwerp wat ‘n RS-kenmerk is. Daar is ook ‘n breë, plat enkelraam-sierrooster. In vergelyking met die gewone A4 Avant, wat nie in Suid-Afrika beskikbaar is nie, is die wielboë 30mm breër. Aan die agterkant is die RS-spesifieke lugverdeler, groot ovaalvormige uitlaatpype en drukvlerk teen die dak duidelik sigbaar. Die quattro-vierwiel aandrywing-stelsel is ‘n unieke kenmerk in hierdie marksegment. Met sy asimmetriese en dinamiese ontwerp dra dit tot ‘n groot mate by tot die sportiewe en standvastige hantering van die RS 4 Avant. Onder normale omstandighede stuur die meganiese sentrale ewenaarslot die wringkrag in ‘n 40%/60%-verhouding na die voor- en agterwiele onderskeidelik. Wanneer daar gly ervaar word op enige van die twee aste, word die meeste krag na die ander as oorgedra; tot 70% na die voorste as en tot 85% na die agteras. Die ratsheid, presisie, standvastigheid en vastrapvermoë van dieRS4 Avant word deur die programmatuur van die ESC (Elektroniese Stabiliteitsbeheer) versterk.

Die afgelope twintig jaar kombineer die RS4 Avant estetiese ontwerp met veelsydigheid en met die nuwe model het niks daarvan verander nie. Die agtersitplek is in drie verdeel, naamlik ‘n 40/20/40- verhouding en kan maklik platrgevou word indien bykomende bagasie-ruimte nodig is. Met die agtersitplekke regop hou die bagasieruim 505 liter, 15 liter meer as voorheen. Die RS4 Avant se agterklap kano op- en toegemaak word deur ‘n handgebaar te gebruik; hierdie kenmerk is standaard toerusting. Wanneer daar beweging by die agterstamper is, kan die agterklap ook oop- of toegemaak word indien die motor se sleutel bespeur word. Daarby is sleutellose toegang en ‘n aansit-knoppie standaard toerusting vir die RS 4 Avant. Die opsionele trekstang, wat met die druk van ‘n knoppie elektronies verwyder kan word, stel die voertuig in staat om ‘n woonwa of sleepwa van tot 2 100 kg te sleep.

Die binnekant beskik oor spesiale beligting en verligte skermplate met die RS4-embleem aan die binnekant van die deure, terwyl daar dertig verskillende kleure vir die beligting van die binnekant beskikbaar is. Die horisontale ontwerp van die paneelbord skep ‘n gevoel van ruimte in die sportiewe binnekant. Die Audi Virtual Cockpit, wat die instrumente paneel soos die stuurkajuit van ‘n vliegtuig laat lyk, is standaard toerusting vir die RS 4 Avant. Die 12,3 duim TFT-skerm bied gedetailleerde en aanpasbare grafika en ‘n spesiale RS-skerm plaas die toereteller met ‘n geïntegreerde vertoonpaneel wat as spoedmeter dien, in die middel. Die bestuurder kan sekere inligting rondom hierdie paneel volgens behoefte instel, onder meer wringkrag, banddruk, temperatuur en G-kragte. Die toereteller dien boonop as ratwyser, wanneer die Tiptronic-ratkas met agt gange in handrat-modus is, verander die kleur van die uitleespaneel van groen en oranje na rooi soos wat die voertuig se snelheid toeneem. Wanneer die motor naby sy topsnelheid is, verander die hele uitleespaneel na rooi. Daar is ook ‘n rondtetydhouer vir wanneer die motor op ‘n renbaan bestuur word; die tye van tot 99 rondtes kan geneem word en met mekaar vergelyk word. Die status van belangrike tegniese komponente, soos die temperatuur van die enjinolie en die ratkas-vloeistof, word ook vertoon.

Die RS 4 Avant beskik oor ‘n wye reeks standaard toerusting. Dit sluit LED-kop- en agterligte in, asook RS-sportvering, 20 duim-allooiwiele, ‘n RS-uitlaat-stelsel, die Audi Drive Select-dinamiese hantering-stelsel. Die sportiewe voorkoms word binne voortgesit met RS-sportsitplekke in Nappa-leer met diamant-stikwerk en lendesteun, swart dakafwerking, ‘n RS-veelfunksie-stuurwiel met ‘n plat onderkant en pedale van vlekvrye staal. Terseylfdetyd is daar geriefsitems soos outomatiese klimaatbeheer, MMI Navigation Plus tesame met die Audi Virtual Cockpit, ‘n Bang & Olufsen- klankstelsel en volle slimfoon-integrasie. Verskeie hulpmiddels, wat onder meer hindernisse aan die voor- en agterkant asook die kant van die motor bespeur, asook ‘n tru-kamera tel onder die veiligheids kenmerke wat standaard toerusting vir die RS 4 Avant is.

Die tweede nuwe RS-model is die RS 5 Sportback. Dit is die eerste keer wat die RS 5 as ‘n Sportback; ‘n koepee met vyf deure, beskikbaar is. Daar is geen mededinger vir hierdie model op die plaaslike mark nie. Die RS 5 Sportback kombineer die A5 Sportback se basiese bakvorm met dieselfde RS- stilerings kenmerke van die RS 4 Avant. Die verskil is dat die agterste drukvlerk aan die agterklap, eerder as teen die dak, gemonteer is.

Die RS 5 Sportback deel sy enjin en ratkas met die RS 4 Avant. Die 2,9 liter V6 TFSI-enjin het twee turboaanjaers; dit lewer 331 kW teen tussen 5 700 en 6 700 opm en wringkrag van 600 Nm teen tussen 1 900 en 5 000 opm. Albei modelle het ‘n Tiptronic-ratkas met agt gange en ‘n handratfunksie as standaard toerusting. Dit is só ingestel om ‘n sportiewe bestuurstyl te bevorder; albei modelle kan binne 3,9 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel. Hoewel hul topsnelheid tot 250 km/h beperk word, is ‘n dinamiese pakket wat hul topsnelheid tot 280 km/h verhoog, teen ekstra koste beskikbaar. Daarby kan ‘n spesiale veringspakket, bekend as RS Sport Suspension Plus, ook teen ekstra koste bestel word; dit sluit onder meer dinamiese ritbeheer en keramiekremme in, asook ‘n dinamiese RS- stuurstelsel.

Die RS 5 se binneruim is dieselfde as dié van die RS 4 Avant, met kenmerke soos die Audi Virtual Cockpit, MMI Navigation Plus, ‘n Bang &Olufsen-klankstelsel met 3D-klank, outomatiese klimaat-beheer en volle slimfoon-integrasie alles standaard toerusting.

Die pryse van die RS 4 Avant en RS 5 Sportback, wat Audi se Freeway-plan wat uit ‘n waarborg en onderhoudsplan bestaan, insluit, is onderskeidelik R 1 211 500 en R 1 312 500.

%d bloggers like this: