Die 2018-weergawe van die Tydren van Marokko, die voorlaaste ronde van die FIA se wêreldbeker vir veldtydrenne, het ná die vyfde en laaste sneltrajek op 10 Oktober oor 198 km afgesluit met die Suid-Afrikaanse Toyota Gazoo Racing as algehele wenners.

Die Toyota Gazoo Racing SA-jaer Nasser Al Attiyah en sy navigator, Mathieu Baumel, het die sewende vinnigste tyd in die laaste sneltrajek aangeteken en die algehele oorwinning in die proses beklink. Dié Toyota Hilux-span het die Tydren van Marokko nou vyf keer agtereenvolgens gewen – meer as enige ander span nog. Die Franse jaer Jean-Louis Schlesser het drie agtereenvolgende oorwinnings aangeteken, terwyl Giniel de Villiers en Stephane Peterhansel elk twee agtereenvolgende oorwinnings aangeteken het.

Al Attiyah, wat nou vyf agtereenvolgende oorwinnings het, het hom onderskei en bewys waarom hy as een van die beste renjaers ter wêreld beskou word.

Dié jaer van Katar en sy Franse navigator het hul taak in Marokko vasberade aangedurf. Hulle het die kort voorren oor 10 km gewen en dit met oorwinnings in Sneltrajek 1 en 2 van die byeenkoms opgevolg. Teen Sneltrajek 3 was hulle reeds ver voor hul naaste teenstander en hulle het die ren van voor af beheer.

Die wenpaar het in Sneltrajek 5 op ’n drafstap tot by die eindpunt gery en net die sewende vinnigste tyd aangeteken, maar dit was oorgenoeg om die algehele oorwinning en hul vyfde agtereenvolgende titel – hul derde in ’n Toyota Hilux – te beklink.

“Dit was ’n kragtige magsvertoon deur Nasser en Mathieu,” het ’n oorstelpte Glyn Hall, spanhoof van Toyota Gazoo Racing SA, by die wenverhoog in Fes gesê. “Hulle het hul klas werklik bewys deur van die wegspring af voor te jaag, en ten spyte van ’n skrikslag toe ’n mikveer gebreek het, het hulle deurgedruk en gewen. Dit verg ’n massiewe spanpoging om ’n ren soos hierdie te wen, en ek is baie trots oor wat ons hele span hier in Marokko vermag het.”

Die laaste sneltrajek het ook in groot genot vir Al Attiyah/Baumel se spanmaats geëindig nadat hulle gemengde sukses in die voorafgaande sneltrajekte gehad het.

Moeilike navigasiewerk, ’n stukkende mikveer, ’n rolslag en 45 minute in ’n moddergat was maar net van die uitdagings wat De Villiers en sy nuwe navigator, Alex Winocq, en Bernhard ten Brinke en sý nuwe navigator, Xavier Panseri, te bowe moes kom.

“Dit was ’n moeilike ren vir ons,” het De Villiers gesê nadat hy by die eindpunt in Fes aangekom het. “Ons het daarin geslaag om die stryd deur die meeste daarvan voort te sit, maar het Maandag uitgeval toe die uitlaatspruitstuk gebreek het. Dinge het egter in die laaste sneltrajek baie beter verloop.”

De Villiers/Winocq het vir die grootste deel van Sneltrajek 5, wat die roete teruggebring het Fes toe waar die ren op 4 Oktober begin het, los voor gejaag. Die Toyota Gazoo Racing SA-jaers is egter kort voor die einde deur die MINI-jaer Carlos Sainz, wat self ’n nagmerrietyd agter die rug het, geklop. El Matador, soos hy bekend staan, het die sneltrajek in twee uur 27 minute en 47 sekondes afgelê en De Villiers/Winocq met ’n skrale 01:03 geklop – ’n ongelooflike knap gaping ná so lang afstand.

De Villiers/Winocq is uiteindelik deur net 27 sekondes van hul spanmaats Ten Brinke/Panseri geskei nadat die Hollander en sy Franse navigator die derde vinnigste tyd vir die dag opgestel het.

Die sterk afsluiting in Sneltrajek 5 het Ten Brinke/Panseri tot sesde algeheel laat opskuif, terwyl De Villiers/Winocq amptelik in die 20ste plek geklassifiseer is weens die feit dat hulle in Sneltrajek 4 uitgeval het.

Die Toyota Hilux van Al Attiyah/Baumel is uiteindelik deur die MINI van Jakub Przygonski en Tom Colsoul in die tweede plek algeheel gevolg. Przygonski/ Colsoul is nog voor die einde van die byeenkoms as die nuwe wêreldkampioene gekroon nadat hul enigste oorblywende teenstander, Vladimir Vasilyev (Toyota Hilux) uitgeval het en nie die ren kon voltooi nie.

Die MINI-jaers Cyril Despres en Jean-Paul Cottret was algeheel derde.

“Die Tydren van Marokko het ons ’n ongeëwenaarde geleentheid gegee om die jongste weergawe van ons Toyota Hilux vir die 2019-Dakar-ren te toets en te ontwikkel,” het Hall gesê nadat die byeenkoms afgesluit het. “Ons is nou op pad huis toe om ’n aantal laaste veranderings aan te bring en nog toetswerk te doen voordat ons sal afsluit en vir Suid-Amerika begin pak.”

Toyota Gazoo Racing SA sal volgende in die eindronde van die Suid-Afrikaanse Veldtydrenreeks, wat die eerste naweek in November beslis word, weer in aksie wees. Die Gold 400, soos die byeenkoms bekend staan, sal in die omgewing van die Gautengse myndorp Glen Harvie beslis word.

Giniel de Villiers en sy spanmaat Henk Lategan word in die afdeling vir produksiemotors deur net tien punte van mekaar geskei, wat beteken ’n groot stryd moet nog baklei word voordat die Suid-Afrikaanse seisoen verby is.

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy borge, spesialisverskaffers en tegniese vennote:

Toyota geniet ’n gesamentlike voordelige vennootskap met Total, Toyota Finansiële Dienste en die Innovation-groep sowel as Hallspeed, Imperial Toyota, SKF, Spanjaard, OMP, NGK, Donaldson, Mastercraft, Edgecam, 3M, Bandit Signs, Shatterprufe, Supreme Springs, Smith’s Manufacturing, TRD, Peritus Forex, 4×4 Mega World, First National Battery, Duxbury Netgear en
Plan-C Productions.

%d bloggers like this: