Deur Neels Rabe.

Die wêreld-uithoureeks word in 2018 nie soos in die verlede binne een kalenderjaar afgehandel nie. Die sogenaamde 2018/2019 super-reeks eindig eers met die 2019 Le Mans 24-uur. Dit beteken dat die 2018/2019 seisoen TWEE Le Mans 24-uur wedrenne insluit wat vir een kampioenskap tel.

Wat motors in die top LMP1 klas betref, is dit slegs Toyota wat steeds as vervaardiger amptelik deelneem nadat eers Audi, en toe ook Porsche onttrek het. Die Toyota is dus die enigste oorblywende hibriede motor in die kampioenskap. Hy behou die 2.4 liter V6 dubbel-turbo enjin van 368 kW. Dit word aangevul deur elektriese motors voor en agter wat ‘n verdere 368 kW toevoeg. By Le Mans word van ‘n 7-spoed ratkas gebruik gemaak terwyl ‘n 6-spoed vir die ander bane voldoende geag word.

Die res van die klas bestaan uit privaatspanne. Die mees algemene enjin wat gebruik word is die Engels vervaardigde Gibson 4.5 liter V8. Om die hibriede Toyotas en die meer konvensionele renmotors op gelyke vlak te laat meeding, word streng reëls toepas om die speelveld vir almal gelyk te maak. Die Toyotas mag byvoorbeeld ‘n maksimum van 35.1 kg brandstof aan boord neem terwyl die ander motors 41.7 kg toegelaat word.

Groot nuus was die aankondiging dat die 2005 en 2006 F1 wêreldkampioen Fernando Alonso gaan deelneem in die Toyota-span. Saam met spanmaats Kazuki Nakajima en Sebastien Buemi is die Spa 6-uur dan ook die droom debuut waarvoor Alonso gehoop het toe hulle Saterdag 5 Mei 2018 die eerste plek behaal. Dis Alonso se eerste oorwinning sedert die 2013 Spaanse F1 GP toe hy vir Ferrari gejaag het! Hy het na die tyd gegrap dat hy graag Saterdagaand op die podium sou wou slaap.

Die resultaat gee die span die perfekte aanloop tot die Le Mans 24-uur in Junie waartydens Alonso sal probeer om die tweede been van motorsport se sogenaamde drie-dubbele kroon te wen. Hy poog om die Le Mans 24-uur asook die Indy 500 te wen. Die enigste man in die geskiedenis wat dit nog kon regkry, is die Britse jaer Graham Hill.

FIA WEC 6-uur Spa-Francorchamps

  1. #8 Toyota Gazoo Racing Toyota TS050 Hybrid (Alonso/Buemi/Nakajima) 163 rondtes – LMP1
  2. #7 Toyota Gazoo Racing Toyota TS050 Hybrid (Conway/Kobayashi/Lopez) + 1.444s
  3. #1 Rebellion Racing Rebellion R13 Gibson (Jani/Lotterer/Senna) + 2 rondtes
  4. #3 Rebellion Racing Rebellion R13 Gibson (Beche/Laurent/Menezes) + 2 rondtes
  5. #4 ByKolles Racing Team ENSO CLM P1/01 Nismo (Webb/Kraihamer/Dillmann) + 5 rondtes
%d bloggers like this: