Valiant vier sestig jaar

0 Comments

Deur Daantjie Badenhorst.

 

As daar één motor was wat meer as enige ander gedoen het om outomatiese ratkaste in Suid-Afrika uiteindelik aanvaarbaar te maak, was dit die Chrysler Valiant.

Dié “kompakte” model wat deur Chrysler in die Verenigde State van Amerika ontwikkel is, is in 1960 vir die eerste keer bekendgestel as een van drie Chrysler-modelle in hierdie marksegment; die ander twee was die Dodge Lancer en die De Soto Rebel. Hierdie drie se vernaamste teenstanders op die Amerikaanse mark was die Studebaker Lark en die Ford Falcon.

Die eerste Valiant-modelle was met ‘n skuins-sessilinderenjin (Die sogenaamde “slant six”)van 2,8 liter met silinders wat dertig grade na die regterkant (die passasierskant op motors met linkerhandstuur) oorgehel het, toe gerus. Die Valiant was eers beskikbaar as ‘n sedan, met ‘n luikrug-agtige voorkoms en ‘n vals noodwiel op die bagasiebakdeksel, en ‘n stasiewa.  Die rathefboom vir die driegang-handratkas is op die vloer gemonteer.

Die De Soto het gou van die mark verdwyn maar produksie van die Lancer en die Valiant het voortgegaan.

In 1963 is die tweede geslag Valiant bekendgestel, en hierdie keer het hy in Suid-Afrika as ‘n Chrysler bekendgestaan hoewel hy die Plymouth-kenteken in Amerika behou het. Die 3,7 liter-enjin, wat in verskeie weergawes gebruik is totdat die laaste Valiant-gebaseerde model in Suid-Afrika aan die mark onttrek is, het standaardtoerusting geword, en die Torque-Flite-outomatiese ratkas het in gewildheid toegeneem. Die rathefboom of-kieser, na gelang van die ratkas, is na die stuurkolom geskuif.  Die reeks is ook uitgebrei met die toevoeging van die Signet, wat die nuwe topmodel wou wees. Vir die 1964-modeljaar is die V 200 in die plek van die Signet by die Valiant-reeks gevoeg en die Valiant het vir die eerste keer ‘n groot indruk op die Suid-Afrikaanse verkoopsranglys vir nuwe voertuie gemaak. In 1965 het ‘n baie spesiale model deel van die plaaslike Valiant-reeks geword. Die Valiant Barracuda het dieselfde enjin as die V 200 gekry en nie die V8-enjins waarmee die Plymouth Barracuda in die VSA uitgekom nie.

Die hele Valiant-reeks het teen die einde van 1965 na die vierde plek op die verkoopslys gespring. Nadat die hele reeks in 1966 ‘n nuwe vooraansig gekry het, het die Valiant vriend en vyand verras en twee groot gunstelinge, die VW Beetle en die Ford Cortina Merk 1, uitgestof en Suid-Afrika se topverkoper geword.

Die volgende geslag Valiant is in 1967 in Suid-Afrika bekendgestel. Die reeks het aanvanklik bestaan uit die V 100 en V 200, elk met ‘n keuse van ‘n hand- of outomatiese ratkas, die Safari-stasiewa en die nuwe vlagskip, die Signet 225 S, die eerste model wat die Formule S-weergawe van die 3,7 liter-enjin gebruik het. Hoewel die motorpers aanvanklik huiwerig was om die nuwe geslag te aanvaar, het die reeks gou aanklank by die publiek gevind en die Valiant-reeks het hul posisie as Suid-Afrika se topverkopers behou.

Die Valiant Baracuda.

Die reeks is teen die einde van 1967 uitgebrei met die toevoeging van die nuwe Barracuda. Die hele reeks, behalwe die Barracuda en die Safari, het nuwe name vir 1968 gekry; die V 100 sou voortaan as die Rebel bekendstaan, die V 200 as die Regal en die Signet 225 S as die Regal Formula S.  Teen die middel van die jaar is ‘n splinternuwe vlagskip, die VIP, by die reeks gevoeg. Die VIP het ‘n langer asafstand as die res van die reeks gehad en was ook beter toegerus. Die Valiant-reeks was vir die derde agtereenvolgende jaar Suid-Afrika se topverkoper.

Gedurende 1968 is ‘n nuwe Chryslerfabriek in Silverton in die Ooste van Pretoria opgerig en en alle nuwe modelle vir die Suid-Afrikaanse mark sou voortaan daar vervaardig word. Een belangrike nuwe kenmerk waarmee die meeste modelle vir 1969 toegerus is, was voorste skryfremme. Dit was standaardtoerusting vir die hele reeks behalwe die Rebel, wat dit as opsionele ekstra gekry het. Die VIP het ook die bakwerk van die Dodge Dart gebruik, pleks van die Plymouth-bakwerk vir die res van die reeks. Die modelle met skyfremme is ook met nuwe wieldoppe met die Power Disc-naam daarop toegerus. Die Valiant sou na die tweede plek op die verkoopsranglys terugsak nadat die VW Beetle 1500 in gewildheid toegeneem het, maar te midde van die bekendstelling van mededingers soos die Chevrolet Kommando en Constantia, die Ford Fairmont, die Holden Kingswood en Premier en ‘n verbeterde weergawe van die Rambler Rogue, almal binne ‘n jaar, het die Valiant sy posisie as markleier in sy segment behou.

Die Valiant-reeks het groot veranderinge vir die 1970-modeljaar ondergaan en net die Rebel en Safari het onveranderd gebly. Vir die eerste keer het die Regal en VIP ‘n bakwerk, wat vir die Amerikaanse Plymouth Valiant Scamp gebruik is, gedeel, en ‘n nuwe koepee, die Charger, het die Barracuda vervang. Laasgenoemde het die bakwerk van die Amerikaanse Dodge Demon en Plymouth Duster gebruik. Die Charger en die VIP het ‘n nuwe, kragtiger, weergawe van die 3,7 liter-enjin gebruik.  Die Rebel het ‘n nuwe vooraansig vir 1971 gekry en twee modelle van die Safari was beskikbaar, naamlik die Rebel Safari, met presies dieselfde enjin en afwerking as die Rebel en ‘n handratkas en die Regal Safari, met die Formule S-enjin, die Regal se afwerkingsvlak en die outomatiese ratkas. Dieselfde bakwerk is egter vir albei modelle gebruik. Hoewel geringe verandering vir die 1972-modeljaar aangebring is, het die Valiant ‘n mylpaal in sy Suid-Afrikaanse geskiedenis gevier toe die 100 000 ste motor, ‘n geel Regal, vervaardig is.

Binne twee maande het die Valiant-reeks sy grootste verandering tot dusver ondergaan. Die Australiese reeks het heeltemal van die Amerikaanse- en Suid-Afrikaanse reeks verskil, maar dit het verander toe die VH-reeks, wat in Australië ontwikkel is en as die Fastbody bekendgestaan het, in Suid-Afrika bekendgestel is. Die aanvanklike VH-reeks het bestaan uit die Rebel, die Rebel 660 Outomaties (waar die 660-benaming vandaan gekom het, weet nugter), die Regal en die VIP. Voor die einde van daardie jaar is die Dodge SE, die nuwe vlagskip van die reeks wat met die Charger-enjin toegerus is, bygevoeg. Die reeks is in 1973 uitgebrei met die bekendstelling van die Rustler, die eerste Valiant-bakkie wat in Suid-Afrika beskikbaar was, en die Regal Safari. Die Charger is vir eers onveranderd gelaat en die Australiese VH Charger is nie in Suid-Afrika bekendgestel nie. Die verkope van die Fastbody het afgeneem in vergelyking met dié van sy voorgangers, en die bekendstelling van die nuwe Chevrolet Kommando en Constantia was beslis nie die enigste rede nie. Dié reeks het egter een belangrike meganiese kenmerk gehad wat hom van sy mededingers onderskei het, naamlik elektroniese ontsteking.  Die VJ-reeks, wat groot detailveranderinge ondergaan het maar dieselfde bakwerk behou het, is teen die einde van 1973 bekendgestel en is meer gunstig deur die motorpers ontvang. Die reeks het geringe veranderinge in 1974 en 1975 ondergaan, behalwe dat die Charger aan die mark onttrek is en die Safari Premium, met die Charger-enjin, by die reeks gevoeg is. Die Dodge SE het ‘n Chrysler-kenteken gekry en teen 1975 was hy op die Australiese Chrysler CH gebaseer. Die brandsrofkrisis van 1973 het gemaak dat motors in hierdie klas minder gewild geword het maar ‘n laaste reeks met die Valiant-kenteken, die VK, is in 1976 bekendgestel. In dieselfde jaar is die Plymouth Valiant aan die Amerikaanse mark onttrek en deur die onsuksesvolle Plymouth Volare en Dodge Aspen vervang.

Die Valiant se toekoms was in die gedrang nadat Chrysler en Illings, die Mazda-verspreiders in Suid-Afrika, saamgesmelt het en die Sigma-motorkorporasie teen die einde van 1976 gestig is. Kort nadat Sigma gestig is, is die Valiant CL-reeks in Australië bekendgestel.

Vir die Suid-Afrikaanse mark is daar weggedoen met die Valiant-naam toe hierdie reeks vroeg in 1978 in Suid-Afrika op die mark gekom het, maar as die Chrysler L en die Chrysler SE bekendgestaan het. Die tweede brandstofkrisis van 1979 was die laaste spyker in hul doodskis en in 1980 is hulle finaal aan die Suid-Afrikaanse mark onttrek.

Die laaste Chrysler Valiant is in 1981 in Australië vervaardig. Vandag is Valiants gesogte versamelaarmotors. Besoek gerus Valiant World se webwerf om jou eie Valiant te bekom: https://www.valiantworld.co.za/

 

Categories:
%d bloggers like this: