Van Pretoria na Kaapstad in ‘n Toyota Hilux

Van Silverton in Pretoria na Kaapstad in ‘n Toyota Hilux met alpakkas en Bless Bridges.

Een van die ware legendes van die Suid-Afrikaanse motorbedryf, die Toyota Hilux, vier vanjaar sy vyftigste verjaardag en om dit te vier, het MotorPlus se Daantjie Badenhorst, of beter bekend as Daantjie Dinamiet, ‘n reis van Pretoria na Kaapstad in een van die jongste modelle, die Legend 50 2,8 GD-6 dubbelkajuit 4×4 onderneem. Dit was vanaf Daantjie se huis in Silverton tot by Kaapstad Lughawe, waarvandaan hy teruggevlieg het. ‘n Presiese afstand van 1 500 km. Die tollose roete via Kimberley is miskien ‘n paar kilometer langer, maar Daantjie wys uit dat as jy mooi korrel, reisigers op hierdie roete ‘n hele paar verassings kan waarneem, wat veral kinders kan besig hou om daarvoor uit te kyk. Hier is ‘n beskrywing van sy reis in sy eie woorde.

Die eerste dorp waar ek stilgehou het, was Ventersdorp. Ek moes ‘n paar kartondose vol boeke oplaai, en dit het my die kans gegee om te kyk hoe die Hilux hom gedra wanneer hy bietjie gewig in die laaibak het. Een van die besienswaardighede wat my aandag getrek het, was die gedenktekens ter nagedagtenis aan die trekleiers Andries Pretorius en Andries Hendrik Potgieter, wat met die simboliese ossewatrek in 1938 opgerig is. Dit was nie moontlik om deur Potchefstroom te ry nie, want die reis moes binne twee dae voltooi word, en daarom het ek met die R 30 na Klerksdorp gery. Van daar af het ek die N 12 geneem, deur Wolmaransstad en Bloemhof. Hier is ‘n gedenkteken opgerig vir die gewilde Afrikaanse sanger Bles Bridges, wat op 24 Maart 2000 op hierdie pad verongeluk het. Die eerste dorp nadat ‘n mens die grens tussen Noordwes en die Noord-Kaap oorgesteek het, is Christiana, maar jy ry die dorp mis as jy met die hoofpad ry. Net daarna het ek die Vaalrivier oorgesteek in die rigting van Kimberley.

Een baie interessante besienswaardigheid is ‘n “mini-dieretuin” by die Pumula-vulstasie naby Warrenton in die Noord-Kaap. Dit was veral die groot hok met ‘n paar alpakkas wat my aandag getrek het, aangesien hulle maar skaars is. Die verskil tussen ‘n alpakka en ‘n lama is dat ‘n alpakka kleiner is en dat sy gesig en sy ore effens anders lyk. Albei is familie van ‘n kameel.

 

Vraag: Wat noem jy ‘n “koel” kameel? Antwoord: ‘n Alpakka.

Ongelukkig kon ek nie in Kimberley stilhou en foto’s neem nie, aangesien dit ‘n stad met ‘n ryk geskiedenis is, en ‘n mens regtig moeite moet doen om tyd daar deur te bring. Dit was op daardie stadium al byna donker en ek moes my oornagbestemming bereik; ek het net buite Kimberley vir die eerste keer diesel ingeooi.  Naby Kimberley is die plek waar die Boere ‘n beroemde oorwinning tydens die Tweede Vryheidsoorlog behaal het, naamlik Magersfontein. Weer eens is dit ‘n moet vir enigiemand wat in die omgewing van Kimberley is.  Daarna is ‘n lang, reguit stuk pad verby Hopetown en Strydenburg. Hierdie dorp, wat net van die hoofpad af geleë is, het in 1914 munisipale status verkry en die naam is afgelei van die destydse meningsverskille oor wat die dorp se naam moes wees. Dit is ook die dorp waar die Badenhorst-gesang, Leer ons U vertrou o Here, in 1950 opgeteken is. Dit is lied 517 in die Liedboek van die Kerk. Britstown, die volgende dorp op die N 12, hou vir my persoonlike herinneringe in. Ek was in 1984 en 1985 in die destydse Noord-Transvaalse Jeugkoor en ons het in April 1984 ‘n binnelandse toer deur die Noord- en Oos-Kaap onderneem. Die eerste Donderdag van die toer het ons in Britstown gesing, en soos wat die tradisie was, is die nuwe lede ontgroen. Ek was een van dié wat deurgeloop het, en dit het gebeur in Britstown se skoolsaal, waar ons tuisgegaan het.  My oornagbestemming was Victoria-Wes, wat bekendheid verwerf het as die tuisdorp van die oud-Springboksenter Mannetjies Roux. Ek was nie minder nie as elf ure lank op die pad, en ek het Victoria-Wes omtrent 19:30 die Vrydagaand bereik. Hier het ek tuisgegaan by die fotograaf van die Voetspore-span, André Bester en sy vrou Elsabé.

Die eerste plek waar ek stilgehou het tydens die tweede dag van my reis, was Drie Susters, die inspirasie agter Pieter Koen se liedjie met dieselfde naam.

‘n “Kragstasie” vir die Jaguar i-Pace.

Hier het ek vir die tweede keer diesel ingegooi. Die weer was deurentyd goed; nie te koud nie en gelukkig het dit nêrens gereën nie, maar ek het wel digte mis in die omgewing van Beaufort-Wes, waar ek by die N1-hoofpad aangesluit het, teëgekom. Gelukkig is die Hilux met outomatiese kopligte toegerus; dit het gemaak dat ek geen probleem gehad het om te sien wat om my gebeur nie. Nadat ek gou by Leeu-Gamka stilgehou het, was Laingsburg my volgende bestemming. Hierdie dorp het in 1981 die nuus gehaal toe dit deur groot vloede getref is. Ironies genoeg het hierdie vloede in dié dorp se eeufeesjaar plaasgevind. Al wat behoue gebly het, was die NG Kerk, asook die spporwegstasie, die Lutherse Kerk, die poskantoor en die landdroskantoor, maar ook hierdie geboue het groot skade gely. Dit is ook by die plaaslike Engen One Stop waar ek vir die eerste keer ‘n laaistasie vir Jaguar se ten volle elektriese model, die i-Pace gesien het.

 

Die bekende skrywer Dana Snyman het al by geleentheid gesê daar is ‘n verskil tussen ry en reis. As jy ry, jaag jy van Ultra City tot Ultra City. As jy reis, kom jy by allerhande ander bestemmings uit. Ek het nooit verstaan wat hy hiermee bedoel het nie, totdat ek die pad effens byster geraak het nie. Pleks daarvan dat ek net reguit met die hoofpad aangehou het, het ek die aanwysings van die navigasiestelsel gevolg en afgedraai, in die rigting van Ladismith. Voordat ek my fout agtergekom het, het ek op ‘n grondpad beland. Sonder dat ek dit beplan het, het hierdie ‘misry” my die geleentheid gegee om die Hiliux se vermoë op die grondpad te toets. Hoewel my toetsvoertuig ‘n 4×4 was, was dit nie nodig om laestrek te gebruik nie. Gelukkig het die navigasiestelsel my weer op die regte pad gelei, maar dit was ‘n ompad van byna 100 km; dit het ook gemaak dat ek vir die laaste keer diesel moes ingooi. Die bakkie se brandstofverbruik het tot op daardie stadium verbeter van 10,4 na 9,8 liter per 100 km, heel aanvaarbaar vir hierdie tipe voertuig. Terug op die hoofpad kon ek verder ry, maar aangesien ek die Saterdagmiddag terug Pretoria toe moes gevlieg het, kon ek nie by Matjiesfontien stilhou soos ek beplan het nie.

Na Touwsrivier is een van die mooiste dele van die N1-roete. Die Hexrivierpas is tussen Touwsrivier en Worcester geleë; en die nuwe pad is na die Tweede Wêreldoorlog gebou.  Nog ‘n hoogtepunt op die N1-roete is tussen Worcester en Paarl geleë. Die Du Toitskloofpas, wat in 1949 deur die destydse Eerste Minister, dr. D.F. Malan geopen is, vorm sedert 1988 nie meer deel van die hoofpad nie, maar die Hugenotetonnel is as alternatief gebou. Konstruksie aan die tonnel het reeds in 1985 ‘n aanvang geneem; die lengte van 3,9 kilometer ,maak dit die langste padtonnel, nie net in Suid-Afrika nie, maar in die hele Suidelike Halfrond. Dit is waar ek my eerste en enigste tolhek op die hele roete teëgekom het.

My reis het by die Kaapstad Internasionale Lughawe tot ‘n einde gekom.

Daantjie, kom uitgerus by die kaapstadse Lughawe aan.

As ‘n mens vandag met omtrent twintig jaar gelede vergelyk, is daar ‘n paar dinge wat ‘n lang reis baie makliker maak. Die satellietnavigasie wat standaardtoerusting vir die Hilux is, het dit makliker gemaak om my bestemming te bereik as wat andersins die geval sou wees. Een van die uitstaande kenmerke van die Hilux is sy raakskerm met ‘n funksie wat tegelyk inligting gee oor die voertuig se gemiddelde brandstofverbruik en afstand wat nog met die brandstof in die tenk afgelê kan word, die kaart van die onmiddellike omgewing en die frekwensie van die radiostasie waarna ‘n mens luister, of die inligting van die liedjie op die USB-stokkie wat op daardie stadium speel. Die skerm gee ‘n mens ook afsonderlik toegang tot al hierdie funksies. Die Hilux het een USB-kragpunt voor die rathefboom, en selfs ‘n 8 GB-geheuestokkie kan genoeg musiek bevat vir ‘n reis van twee dae. Dis beter as om ‘n spul CD’s saam te neem, en maak ‘n lang reis soveel korter. Laastens het Bluetooth dit soveel makliker gemaak om in verbinding met die buitewêreld te bly; daar is nie net kontroles op die stuurwiel waarmee ‘n telefoonoproep beantwoord of beëindig kan word nie; die kontroles daarvoor op die raakskerm is naby genoeg om binne maklike bereik van die bestuurder te wees.

Hierdie reis het bewys dat daar nie net een manier is om Kaap toe te ry nie. Goed, ‘n mens kan deurentyd op die N1 ry, maar daar is geweldig baie tolhekke en hoewel dit vinniger is, is dit dalk beter om eers by Beaufort-Wes by die N1 aan te sluit.  Die Hilux het ook bewys dat “Alles loop reg, altyd reg, Toyota” meer as net ‘n advertensieslagspreuk is.

Lees hier meer oor Toyota Hilux-bakkie waarmee Daantjie gery het.

En lees hier oor die hele reeks nuwe Toyota Hilux Legend 50-reeks wat in begin Julie 2019 in Suid-Afrika geloods is.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.

%d bloggers like this: