Deur Daantjie Badenhorst.

Die nuwe vlagskip in Volkswagen se reeks passasiersmotors is pas in Suid-Afrika bekendgestel.

Die Arteon vervang die CC en is die jongste motor op die Suid-Afrikaanse mark met die toenemend gewilde vyfdeur-koepeebakvorm.  Die Arteon-naam, met die klem op die eerste lettergreep, bestaan uit twee dele,  Art, wat natuurlik kuns is en –eon, wat hom koppel aan die vlagskip van die Volkswagen-reeks in China, die Phideon.

Die Arteon is ‘n splinternuwe model wat op die weeldemark gemik is en kombineer ‘n gevorderde ontwerp met ‘n hoë vlak van veelsydigheid. Dansy ‘n lang asafstand, lang daklyn, koepee-agtige  vloeirug-ontwerp en groot agterste luikdeur bied die Arteon meer ruimte as die meeste konvensionele sedans. Die enjinkap vou om die kante tot by die voorste modderskerms  en die sierrooster beklemtoon die motor se breedte.  LED-kolpigte en dagryligte is standaardtoerusting.  Die vooraansig sou selfs gepas gewees eht vir ‘n volbloed-sportmotor. Daar is allooiwiele van tot 20 duim beskikbaar, en dit beklemtoon sy sportiewe voorkoms nog verder. Daar is verskeie opvallende kleure beskikbaar, onder meer skakerings van blou, rooi en geel, en veral laasgenoemde, bekend as Curcuma-geel, beklemtoon sy sportiewe karakter.

Die binnekant van die Arteon het ‘n digitale voorkoms, met die volle digitale instrumentepaneel wat standaardtoerusting vir die R-Line-modelle is.  Die nuwe inligting-en-vermaakstelsel met skerms van tussen 6.5 en 9,2 duim. Die nuwe vlagskipstelsel, Discover Pro, het ‘n skerm van 9,2 duim en reageer ook op handgebare. Daar is luguitlate vir die lugversorgingstelsel oor die hele breedte van die paneelbord,  met net ‘n wyserhorlosie in die middel van die paneelbord, wat as ‘n funksionele en dekoratiewe element ontwerp is.  Die breë sentrale konsole pas by die sportiewe karakter van die binnekant  en bevat die inligting-en-vermaakstelsel en die kontroles van die klimaatbeheer.

Daar is twee spesifikasievlakke beskikbaar, naamlik die “Elegance”, wat net met ‘n turboaangejaagde dieselenjin beskikbaar is, en R-Line, wat die keuse tussen ‘n petrol- en dieselenjin bied.  Die Elegance bied standaardkenmerke soos verchroomde buitespieëls, sleutellose toegang, ‘n stelsel wat die bestuurder waarsku as hy of sy nie aandag gee nie, aluminiumpedale, Nappa-leerbekleedsel, ‘n Composition Media-inligting-en-vermaakstelsel, ‘n driesone-lugversorger met  elektroniese beheer en  ‘n veelfunksiestuurwiel met ratspane. Die R-Line voeg die volgende kenmerke by:  10-duim allooiwiele, uniek gestileerde stampers, chroomstroke onder aan die bakwerk,  verchroomde uitlaatpype,  buitespieëls wat met kraghulp invou, ‘n swart drukvlerk op die bagasiebakdeksel, ‘n sportstuurwiel, verdonkerde vensters en verhitbare voorsitplekke.

Die 2,0 TDI-enjin, wat ‘n sesgang- DSG-ratkas as standaartoerusting het, lewer 130 kW en wringkrag van 350 Nm; laasgenoemde teen tussen 1 600 en 3 500 opm. Die gemiddelde brandstofverbruik van die TDI is 5,6 liter per 100 km. Die 2,0 TSI-petrolenjin is net met die R-Line-afwerking beskikbaar en vierwielaandrywing is standaardtoerusting.  Hierdie enjin lewer 206 kW, en wringkrag van 350 Nm, laasgenomende tussen 1 700 en 5 600 opm.  Die TSI-modelle kan binne 5,6 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel en ‘n topselheid van 250 km/h behaal.

Die Arteon is beskikbaar met verskeie veiligheidskenmerke as standaardtoerusting of opsionele ekstras.  Die enjinkap is só ontwerp dat dit binne sekondes gelig word wanneer daar ‘n botsing met ‘n fietsryer of voetganger plaasvind.  Dit gebeur wanneer ‘n boodskap van die betrokke sensors na die lugsakke se beheereenheid gestuur word.  Dit beteken dat die deel van die enjinkap langs  die voorruit met omtrent 60 mm gelig word; dit bied ‘n kussing aan die slagoffer se kop en maak dat dele soos die silinderkop nie die slagoffer seermaak nie. Daar is ook 360 grade kameras wat die bestuurder bewus maak van wat reg rondom die voertuig gebeur.  Een kenmerk wat opsioneel vir die hele reeks beskikbaar is, is ‘n vertoonskerm tussen die instrumentepaneel en die voorruit.

Die Arteon-reeks word gerugsteun deur ‘n waarborg van 2 jaar of 120 000 km, ‘n onderhoudsplan van vyf jaar of 90 000 km en ‘n waarborg van twaalf jaar teen korrosie.

Die pryse van die verskillende modelle lyk soos volg:

Arteon 2,0 TDI Elegance DSG: R 599 900
Arteon 2,0 TDI R-Line DSG: R 649 900
Arteon 2,0 TSI 4 Motion DSG: R 699 900

 

%d bloggers like this: