Breaking News

Elektriese Volvo op pad na Suid-Afrika

 

Volvo gaan ‘n ten volle elektriese model van sy XC 40 in die tweede helfte van die jaar in Suid-Afrika bekendstel.

Die XC 40 Recharge, wat in Volvo se Belgiese fabriek in Gent vervaardig word, het reeds internasionaal gewild geword en duisende bestellings is geplaas nóg voordat produksie op 1 Oktober 2020 begin het.

Volgens mnr. Greg Maruszewski, die besturende direkteur van Volvo in Suid-Afrika, kan die XC 40 Recharge ‘n reikafstand van 400 km aflê en sy battery kan  binne 40 minute tot 80%-kapasiteit gelaai word wanneer ‘n snel-laaier gebruik word.

Die dubbele elektriese motors van die XC 40 Recharge lewer 304 kW en het ‘n wringkrag van 660 Nm en hy kan binne 4,9 sekondes van 0 tot 100 km/u versnel. Die XC 40 Recharge lewer nie net uitsonderlike werkverrigting nie, maar hy beskik oor ‘n paar praktiese eienskappe, soos ‘n bykomende 30 liter bagasieruimte in die neus, wat moontlik gemaak word deur die gebrek aan ‘n binnebrandenjin, terwyl die batterye se ligging onder die motor beteken dat ruimte nêrens in die kajuit of die bagasieruim verlore gaan nie.

Volgens Maruszewski kan voornemende kopers die motor by die huis herlaai, of by die toenemende getal openbare laaistasies. Daarby word ‘n omvattende network laaistasies by handelaars beplan en elke handelaar sal teen die einde van 2021 een hê.

Volvo sal teen 2025 altesaam vyf elektriese motors in sy reeks hê, en die maatskappy streef na ‘n syfer van 50% van sy algehele verkope  vir elektriese verkope, terwyl hibriede voertuie die ander helfte sal uitmaak.  Alle elektriese modelle, asook dié met inprop-hibriedekragbronne sal die Recharge-kenteken kry.

Maruszewski glo dat die XC 40 Recharge groot byval in Suid-Afrika sal vind. Die markaandeel van die gewone XC 40-modelle het gegroei van 8,4% tot 14,7% in 2020, en volgens hom gaan die Recharge, met die voordele van ‘n elektriese kragbron ‘n uiters suksesvolle modelreeks nog meer aantreklik maak.

Volvo-handelaars sal reeds in April bestellings vir die Recharge begin neem en die eerste motors sal teen Augustus afgelewer word.

Die prys van die Recharge sal binnekort bekendgemaak word.

%d bloggers like this: