Die Volvo XC40 het reeds begin van 2018 geskiedenis gemaak om die eerste model van dié Sweedse vervaardiger te wees, wat die gesogte “Europese Motor-van-die-Jaar” titel kon gewen het. Nou is die XC40 ook in Suid-Afrika beskikbaar..

Hierdie intreevlak-sportnuts is daarop gemik om voort te bou op die sukses van die XC 90, die S 90 en die V 90 Cross Country, wat almal baie goed deur die Suid-Afrikaanse motormedia ontvang is. Die XC 40 is ook die jongste model wat Volvo se nuwe ontwerprigting inslaan wat glo “ individuele styl met ‘n minimalistiese bestuursomgewing kombineer”.  Aan die buitekant is ‘n kontrasterende wit of swart dak, buitespieëls en wiele opsioneel beskikbaar vir diegene wat hul motors verder wil verpersoonlik.

Aan die binnekant sorg ‘n verwyderbare vullisblik, ‘n toegewyde bêreplek vir slimfone met koordlose laaivermoë en ‘n aanpasbare bagasiebakvloer, dat die binneruim, beter georganiseerd en doelgerig is.  Daar is ook ‘n “Sensus Connect”-raakskerm  en ‘n aanpasbare digitale instrumentepaneel.

Die XC 40 is aanvanklik met twee spesifikasievlakke, beskikbaar: naamlik die luukse Momentum- en sportiewe R Design-weergawes met twee enjins en vierwielaandrywing. Die intreemodel, die T3 met voorwielaandrywing,  asook die topmodel, met die Inscription-modelbenaming, sal later by die reeks gevoeg word.

Soos wat ‘n mens van Volvo kan verwag, is die veiligheidstandaarde van die XC 40 uiters hoog.  Volvo se “City Safety” is standaardtoerusting; dit waarsku die bestuurder van ‘n moontlike botsing, selfs wanneer dit donker is, en aktiveer die remme as die bestuurder nie dadelik reageer nie. Daar is drie vlakke van inmenging; waarskuwing, rem-ondersteuning en outomatiese rem.  Die omliggende toestande word deurentyd deur middel van instrumente en sensors gemonitor. Daar is ook ‘n stelsel wat die bestuurder waarsku wanneer ‘n voetganger, ‘n fietsryer of ‘n groot dier in die pad is. Die bestuurder word deur middel van ‘n flikkerende waarskuwingsliggie en ‘n hoorbare alarm aangesê om op te tree. As die bestuurder dit nie doen nie, tree die  remstelsel met volle krag in.

Daar is ook ‘n radar wat waarsku teen moontlike botsings aan die agterkant van die voertuig.  Daarby is daar ‘n stelsel wat die bestuurder waarsku wanneer daar per abuis uit ‘n baan op die oop pad beweeg word, of wanneer daar ‘n voertuig in die bestuurder se blinde kol is.  Die instrumentepaneel beskik oor ‘n paneel wat padtekens aandui  en die bestuurder waarsku wanneer die snelheidsperk oorskry word.

Met die XC 40 word ook ‘n nuwe manier van motor-eienaarskap aan die Suid-Afrikaanse motorbedryf bekendgestel.  Pleks daarvan om die motor te koop, kan voornemende eienaars ‘n maandelikse inskrywingsbedrag betaal om die motor te mag gebruik. Hierdie plan, bekend as “Care by Volvo”, sal ook instandhouding, versekering en ander waardevoordele insluit.  Dit word beplan om Care by Volvo teen die middel van 2019 in werking te stel.

Greg Maruszewksi, die besturende direkteur van Volvo Cars Suid-Afrika, sê die XC 40 is ideal vir die Suid-Afrikaanse mark; dit is kompak maar luuks en volgens hom is die XC 40 beter toegerus as sy mededingers en sy prys is uiters mededingend.

 

%d bloggers like this: