Volvo se televisiester

0 Comments

Tydens die Geneefse Motorskou van 1961 is ‘n sportmotor bekendgestel wat byna dwarsdeur die 1960’s gereeld op Britse televisie te sien was.

Nee, dit was nie die Jaguar E-type, wat by dieselfde tentoonstelling vir die eerste keer vertoon is nie, maar ‘n motor wat omtrent die helfte soveel gekos het. Die Volvo P 1800 was die opvolger van die P 444 en 544, wat ook as die Beetleback bekendgestaan het omdat sy agterkant na dié van ‘n VW Beetle gelyk het. Die P 1800 was egter splinternuut.

Die ontstaan van die P 1800 was nie sonder probleme nie. In Desember 1957 het Helmer Petterson, die ontwerper van die PV 444 en 544 ‘n prototipe van  die P 1800, wat deur sy seun Pelle ontwerp is, vir die Duitse bakbouer Karmann gewys, met die hoop dat Karmann die motor sou bou. Karmann was gereed om dit te doen en die eerste produksie modelle sou teen Desember 1958 gereed wees. In Februarie 1958 het Volkswagen, wie se Karmann-Ghia omtrent in dieselfde marksegment meegeding het, Karmann verbied om die Volvo te vervaardig aangesien hy bang was dat die Volvo die Karmann-Ghia se verkope nadelig sou beïnvloed. Dit het byna daartoe gelei dat die P 1800-projek gekanselleer sou word. 

Daarna het Volvo kontak met ander Duitse vervaardigers soos NSU en Hanomag gemaak, maar hulle het nie aan die nodige gehaltestandaarde voldoen nie. Dit het gemaak dat Helmer Petterson besluit  het om die nodige finansiering te probeer kry en die motor self te bemark. Op daardie stadium het Volvo glad nie van die P 1800 melding gemaak nie en die fabriek wou nie kommentaar lewer nie. Toe word ‘n persverklaring waarin die motor gewys is, uitgereik en Volvo moes erken dat die motor wel bestaan het. Dit het gemaak dat die maatskappy weer probeer het om die motor te vervaardig. Volvo het besluit om Jensen Motors, wie se produksie-fasiliteit onderbenut was, te nader. Volvo en Jensen het ooreengekom dat 10 000 motors vervaardig sou word.

Die enjin waarmee die P 1800 toegerus is, was die B 18 B (B het vir Benzin, met ander woorde petrol, gestaan). Dit was ‘n tweevergasser-weergawe van die 122S (Amazon) se enjin. Aanvanklik was net ‘n viergang-handratkas beskikbaar, maar van 1963 tot 1972 was die Laycock de Normanville-snelrat beskikbaar. Die modelle wat hiermee toegerus was, het in der waarheid ‘n vyfde rat gehad. Die model sonder die snelrat was egter vinniger, want hulle kon hul maksimum toere in die hoogste rat bereik, iets wat nie met die snelrat moontlik was nie omdat die doel daarmee verbeterde brandstof-doeltreffendheid was.

Mettertyd het Jensen probleme met gehaltebeer ondervind en die reeks is van 1963 af deur Volvo self vervaardig. Die motor se naam is ook na P 1800 S verander; die S het vir Sverige, met ander woorde Swede, gestaan en die S se enjin het 6 kW meer gelewer. Volvo het bepaal dat die 122 S nie met die P 1800 S se enjin toegerus kon word in markte waarin albei modelreekse beskikbaar was nie. Suid-Afrika was hiervan vrygestel aangesien die P 1800 nooit amptelik hier bekendgestel kon word nie. Daarom is die Suid-Afrikaanse 122 S van 1967 af toegerus met dieselfde enjin as wat die P 1800 S oorsee gehad het; dit het gemaak dat die Suid-Afrikaanse 122 S ‘n topsnelheid van 100 myl per uur (160 km/h ) gehad het. In  1969 is die B 20 B-enjin bekendgestel, weer eens met ‘n tweevergasser- weergawe van ‘n bestaande Volvo-enjin, maar die P 1800 S-benaming is behou.  In 1970 het dié enjin petrolinspuiting gekry en die modelbenaming is na P 1800 E verander.  Die P 1800 E is met skyfremme voor en agter, eerder as skyfremme voor en tromremme agter, toegerus. 

Die laaste weergawe van die P 1800 was die ES, wat in 1972 bekendgestel is. Dit was nie ‘n koepee nie, maar ‘n stasiewa met ‘n agterklap wat net van glas gemaak is.  Die ES se sitplekke kon platgevou word vir bykomende bagasieruimte. Hierdie glas-agterklap is later ook vir die Volvo 480 ES en C 30 gebruik.  Die laaste jaar van produksie was 1973, en produksie van die ES is in Junie gestaak. Altesaam 47 492 P 1800’s, wat die ES-modelle ingesluit het, is vervaardig.

Die P 1800 het bekendheid verwerf toe Roger Moore, wat later die rol van James Bond vertolk het, met een in die televisiereeks The saint gery het. Jaguar is eers die geleentheid gegee om ‘n E-Type vir Moore se karakter, Simon Templer, beskikbaar te stel, maar dié maatskappy het geweier, met die gevolg dat Moore met die P 1800 gery het. Dit het verkope van die P 1800 laat toeneem. Twee motors is beskikbaar gestel; een waarmee hy kon ry en een vir statiese beeldmateriaal. Jaguar het wel ‘n XJ-S vir die nuwe reeks, Return of the saint, met Ian Ogilvie in die hoofrol, beskikbaar gestel.

In 1966 het Irv Gordon van East Patchogue in die Amerikaanse staat New York ‘n P 1800 S nuut gekoop.  In 1987 het die motor die een miljoen myl (1,6 miljoen kilometer)-merk verbygesteek.  In 1998 het die motor die Guinness -rekordboek gehaal nadat dit die motor in privaatbesit geword het wat die hoogste kilometerafstand, naamlik 1,69 miljoen myl (omtrent 2,7 miljoen kilometer) afgelê het. Toe Gordon op 15 November 2018 in die ouderdom van 78 jaar oorlede is, het die motor net meer as 3,2 miljoen myl (ongeveer 5,2 miljoen kilometer) afgelê.

Categories:
%d bloggers like this: