Sedert die bekendstelling van die huidige reeks in 2015 het die VW Caddy die tweede gewildste model in Volkswagen SA (VWSA) se reeks handelsvoertuie geword.

Nou het VWSA besluit die Caddy-reeks, wat tot dusver uit die 2,0 TDI Trendline, die Alltrack en die Maxi-modelle bestaan het, uit te brei met die toevoeging van ‘n nuwe intreemodel, die 1,0 TSI Trendline. Volgens Mark Handley, die hoof van bemarking en verkope van VWSA se handelsvoertuigafdeling, is die 1,0 TSI Trendline by die reeks gevoeg om die markaandeel van die Caddy-reeks te verhoog. Die nuwe Caddy word toegerus met standaardkenmerke soos ‘n Composition Media-radio met ‘n raakskerm, 16-duim Bendigo-allooiwiele, elektries verstelbare en verhitbare buitespieëls, klimaatbeheer, elektriese vensters, dagryligte, ‘n veelfunksie ritrekenaar, swart dakrelings en hoogteverstelbare sitplekke.

Daar is ook verskeie opsionele ekstras beskikbaar, soos parkeersensors voor en agter, Bi-xenon- kopligte met aparte LED-dagryligte, agterdeure wat in aan die kante geskarnier is en soos dié van ‘n paneelwa oopmaak, ‘n tru-kamera (nie beskikbaar met laasgenoemde agterdeure nie), ‘n veelfunksiestuurwiel wat met leer oorgetrek is, spoedbeheer en ‘n verwyderbare trekstang.

Die Caddy 1,0 TSI word aangedryf deur turbo-aangejaagde eenliter-enjin met drie silinders, wat ‘n kraglewering van 75 kW tussen 5 000 en 5 500 opm bied en wringkrag van 175 Nm tussen 1 500 en 3 500 opm lewer.

Die prys van die Caddy 1,0 TSI Trendline, wat ‘n waarborg van drie jaar of 120 000 km, ‘n waarborg van twaalf jaar teen korrosie en ‘n diensplan van drie jaar of 60 000 km insluit, is R 306 300.

%d bloggers like this: