VW gee Amarok meer krag

0 Comments

Dit is reeds tien jaar sedert Volkswagen Suid-Afrika (VWSA) die Amarok-bakkie in Suid-Afrika bekendgestel het.

Sedertdien het dit die top verkoper-handelsvoertuig in VWSA se reeks geword en altesaam 35 000 enkel- en dubbel-kajuit modelle is hier verkoop; onder meer 2 596 eenhede verlede jaar.

Nou het VWSA aangekondig dat ‘n kragtiger weergawe van die V6-modelle in November vanjaar op die mark kom. Dié enjin  sal hom by die twee-liter enjins wat vir die res van die reeks beskikbaar is, aansluit. Die enkel- en dubbel-turbo modelle lewer onderskeidelik 103 kW en 132 kw.  Die nuwe drie-liter enjin lewer 190 kW teen tussen 3 000 en 4 500 opm en wringkrag van 580 Nm teen tussen 1 400 en 2 750 opm. Dit is ‘n verbetering van 25 kW en 30 Nm bo die vorige model. Wanneer meer krag nodig is, is altesaam 200 kW tien sekondes lank beskikbaar. Dit maak die nuwe model een van die kragtigste bakkies op die Suid-Afrikaanse mark.

Die nuwe Amarok V6 sal in twee modelle, albei met Volkswagen se 4 Motion-vier-wiel-aandrywing stelsel, beskikbaar wees. Die Highline word toegerus met onder meer Vienna-leer-sitplekke, waarvan die voorstes verhit kan word, Bi-Xenon-kopligte, parkeer-sensors voor en agter tesame met ‘n trukamera, klimaat-beheer en Manaus-allooiwiele van 18 duim. Die Discovery Pro-media stelsel wat satelliet-navigasie insluit, rubber-vloerbedekking en Milford-allooiwiele van 19 duim is teen ekstra koste beskikbaar.

Die vlagskip van die reeks is die Extreme. Hierdie model voeg die Discovery Pro-media stelsel by, asook Talca-allooiwiele van 20 duim en spesiale Nappa-leersitplekke. Die swaardiens-bladvering wat die bruto-voertuig-massa van 2,5 na drie ton verhoog, en wat standaard toerusting vir die Highline is, is opsioneel vir die Extreme beskikbaar.  Die ander opsionele bykomstighede vir die Extreme is Milford-allooiwiele van 19 duim, rubber-vloerbedekking en ‘n sportrolstaaf in dieselfde kleur as die bakwerk. Albei modelle is in wit, beige, grys en swart beskikbaar.

Die pryse van die nuwe modelle, wat ‘n waarborg van drie jaar of 120 000 km, ‘n waarborg teen korrosie van ses jaar ongeag die voertuig se kilometer afstand en ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000 km insluit, lyk só:

VW Amarok 4 Motion dubbel-kajuit Highline: R 908 300

VW Amarok 4 Motion dubbel-kajuit Extreme: R 974 600

Categories:
%d bloggers like this: