Die nuwe 2017 VW Golf GTI is gelaai met nuwe tegnologie. Daar is geen stylveranderings nie, maar die GTI-model het wel LED ligte voor en agter.

 

 

Nadat die Volkswagen Golf 7 groot lof by die motorpers ontvang het toe dit in 2013 die eerste keer bekendgestel is, is die opgeknapte Golf 7 weergawe in Mei 2017 in Suid-Afrika bekendgestel.

Met die nuwe weergawe van die sewende geslag Golfs, stel Volkswagen verskeie kenmerke wat gewoonlik net op groter motors beskikbaar is, in hierdie marksegment bekend. Die hele reeks het LED-agterligte as standaardtoerusting. Inligting-en-vermaakstelsels met groter  raakskerms ia opsioneel vir al die modelle beskikbaar.

Soos voorheen word die Golf op die bekende MQB-onderstel gebou, met die gevolg dat dit oor die jongste beskikbare tegnologie beskik en dele van sy tegnologie met onder meer die Passat en die Tiguan deel.

Die Golf-reeks bestaan aanvanklik uit vier modelle; die 1,0 TSI Trendline en Comfortline, die 1,4 TSI Comfortline DSG en die GTI DSG.

Die VW Golf 2017 TSi het die beproefde VW 1,4 turbo-aangejaagde wat ‘n kraglewering van 92 kW en ‘n topsnelheid van 204 km/h kan bereik.

 

Nuwe intreevlak-enjin is deel van opgeknapte VW Golf-reeks

Die 1,0 TSI-driesilinderenjin is ‘n nuwe toevoeging tot die beskikbare enjins in die Golf-reeks. Dit lewer 81 kw tussen 5 000 en 5 500 omwentelinge en 200 Nm teen tussen 2 000 en 3 500 omwentelinge. Hierdie enjin is net beskikbaar met ‘n sesgang-handratkas.  Met hierdie enjin en ratkas kan die Golf ‘n topsnelheid van 196 km/h bereik en in 9,9 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel. Die amptelike gemiddelde brandstofverbruik  van die Golf met hierdie enjin is 4,9 liter per 100 km.

Die volgende enjin is die 1,4 TSI, wat net met die Comfortline-afwerking en ‘n DSG-ratkas met sewe gange beskikbaar is. Hierdie enjin is onveranderd gelaat en lewer steeds 92 kw teen tussen 5 000 en 6 000 omwentelinge en het ‘n wringkrag van 200 Nm teen tussen 1 400 en 4 000 omwentelinge. Hierdie model kan in 9,1 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel en kan ‘n topsnelheid van 204 km/h bereik.

Die nuwe Golf GTI het nou ‘n DSG-ratkas met sewe gange as standaardtoerusting en die enjin is kragtiger as voorheen. Die nuwe model lewer 169 kw teen tussen 4 700 en 6 200 omwentelinge en wrinkgrag van 350 Nm teen tussen 1 500 en 4 600 omwentelinge. Die GTI kan in 6,4 sekondes van 0 to 100 km/h versnel en sy topsnelheid is tot 248 km/h beperk.

Die nuwe Golf-reeks spog met ‘n aantal kenmerke wat vir die eerste keer in ‘n motor in hierdie marksegment beskikbaar is. Een daarvan is die sogenaamde Active Info Display, ‘n inligtingspaneel wat een van vyf kategorieë inligting op die vertoonskerm wys, onder meer brandstofverbruik en reikafstand, navigasie, en werkverrigting. Wanneer die navigasiepaneel vertoon word, skuif die uitleespanele van die spoedmeter en toereteller na die kante toe en die navigasiepaneel is in die middel. Dit is ook moontlik om die foto’s van persone op ‘n selfoon se kontaklys of die omslag van ‘n musiek-album waarna daar geluister word, te vertoon. Die Active Info Display is opsioneel op al die modelle, behalwe die Trendline, beskikbaar.

Nog ‘n vindingryke nuwe kenmerk is Trailer Assist, wat reeds op die VW Tiguan beskikbaar is. Trailer Assist ondersteun die bestuurder wanneer daar agteruit met ‘n sleepwa of woonwa gery word. Al wat nodig is, is om by ‘n geskikte plek stil te hou en die motor in trurat te sit.

Die nuwe 2017 Golf Trendline-modelle se standaardtoerusting  sluit onder meer ‘n elektroniese parkeerrem, ‘n leeroorgetrekte veelfunskiestuurwiel, ‘n klankstelsel met  agt luidsprekers,m ‘n raakskerm en Bluetooth-verbinding en elektries verstelbare en verhitbare truspieëls in.

Die Comfortline voeg voorste misligte, lendesteun vir die voorsitplekke, outomatiese kopligte en reënsensors vir die ruitveërs by.

Onder die GTI se standaardkenmerke is sportvering, klimaatbeheer, verhitte voorsitplekke en LED-kopligte.

Die pryse van die nuwe Golf-reeks wissel van R 289 900 vir die 1,0 TSI Trendline tot R 545 800 vir die GTI. Die prys sluit ‘n waarborg vir drie jaar of 120 000km, ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000 km en ‘n waarborg teen roes wat twaalf jaar lank geldig is, in.

 

Pryse:

1.0 TSI 81kW Trendline Handrat R289 900

1.0 TSI 81kW Comfortline Handrat R304 200

1.4 TSI 92kW Comfortline DSG R356 400

2.0 TSI 169kW GTI DSG R545 800

 

Het jy geweet?

Volgens Daantjie Badenhorst, Motorplus se motor-geskiedkundige is die VW Golf aanvanklik in 1974 in Duitsland bekendgestel. Suid-Afrika het in 1978 gevolg. Elke 40 sekondes kom  daar ‘n nuwe vervaardigde VW Golf van die produksielyne orals oor die wêreld af. Daar is al meer as 33 miljoen VW Golfs wêreldwyd verkoop.

Die nuwe 1,0 TSI-driesilinderenjin, wat nou tot die Golf-enjinkeuse toegevoeg is, het ‘n kraglewering van 81 kW. Interessant genoeg het die 1,6 liter-enjin van die heel oorspronklike Golf GTI wat in 1976 oorsee bekendgestel is, maar nooit na Suid-Afrika gekom het nie (die eerste Suid-Afrikaanse GTI is eers in 1983 bekendgestel) , ook 81 kw gelewer.