Dit is reeds algemeen bekend dat die VW T Cross later vanjaar in Suid-Afrika bekend-gestel sal word, en nou het Volswagen Suid-Afrika (VWSA) nog méér inligting oor dié lang verwagte nuweling bekend gemaak.

Die T Cross, wat hom by die Tiguan, Tiguan Allspace en Touareg sal aansluit, sal in Nasvarra in Spanje vervaardig word. Die voor-aansig bevat ‘n groot sier-rooster met lang en plat kopligte wat dagryligte bevat, aan weerskante. Die plasing van die misligte en dagry-ligte beklemtoon die voertuig se breedte. Daar is ook LED-kopligte opsioneel beskikbaar.  Daar is twee sterk horisontale karakter-lyne wat aan die kant van voor na agter loop en breë stroke aan die onderkant van die bakwerk. Die uitstaande kenmerk van die agterkant is ‘n stook tussen die LED-agterligte wat die motor se breedte beklemtoon. Daar is 16-duim staal- of allooi-wiele afhangende van die model, as standaard toerusting, terwyl wiele van 17 of 18 duim opsioneel beskikbaar is. Die buitekant van die T Cross, wat in nege kleure beskikbaar is, kan volgens behoefte verpersoonlik word en die wiele is ook in verskillende kleure beskikbaar.

Die binnekant van die T Cross is só ontwerp dat daar soveel ruimte vir al die insittendes en hul bagasie as moontlik, terwyl dit ook maklik is om uit die voertuig te sien. Die hoë sitplek-posisie is tipies van ‘n sportnuts voertuig en die T Cross se sitposisie is 10cm hoër as dié van die Polo. Die asafstand is 2,55 meter, wat genoeg ruimte vir vyf mense en hul bagasie moontlik maak. Die agtersitplek kan ook vorentoe of agtertoe geskuif word, afhangende van of daar meer been- of bagasie-ruimte benodig word. Die bagasiebak kan tussen 377 en 455 liter hou, en wanneer die sitplekke plat-geslaan word, vermeerder die bagasie-ruimte na 1 281 liter, met ‘n vloer wat heeltemal plat is.

Die T Cross het vyf sterre in die Euro NCAP-toets gekry, en spog met uitstaande beskerming vir insittendes. Daar is ‘n stelsel wat die bestuurder waarsku wanneer hy of sy nie volle aandag gee aan wat op die pad gebeur nie, terwyl ‘n voorbots-waarskuwing, baanhou-hulp, wegtrek-hulp, ‘n blindekol-monitor en ‘n waarskuwing van verkeer of ander hindernisse agter die voertuig opsioneel beskikbaar is.

Die T Cross sal in drie spesifikasie-vlakke beskikbaar wees, terwyl die motor met behulp van verdere opsionele ekstras volgens behoefte opgekikker kan word. Die Trendline is die intree-vlak model,en word toegerus met staal-wiele van 16 duim, LED-agterligte en -voorste dagryligte, kleur-gekodeerde buitespieëls en deur-handvatsels, elektries verstelbare en verhitbare buitespieëls, elektriese vensters voor en agter, ‘n band-druk monitor, ‘n Composition Colour-vertoon paneel van 6,5 duim, gekombineerde voorste- en kant-lugsakke en ‘n waarskuwing as die bestuurder se aandag nie op die pad is nie.

Die Comfortline is die middelste model, en spog met die volgende bykomende kenmerke: Belmont-allooi-wiele van 16 duim, swart dakrelings, voorste misligte, ‘n veelfunksie-leerstuurwiel, parkeer-sensors voor en agter, spoed beheer, ‘n Light and Sight-pakket en ‘n voorste arm-leuning. Onder die opsionele ekstras vir die Comfortline is ‘n R Line-stilerings-pakket met Manila-allooi-wiele van 17 duim, ‘n Beats-klankstelsel, ‘n koordlose selfoon-laaier, ‘n Composition Media-klankstelsel met App Connect, ‘n Discover Media-stelsel wat satelliet-navigasie insluit, parkeer hulp wat ‘n trukamera insluit, aanpasbare spoed beheer wat onder meer ‘n blindekol-monitor en baanhou-hulp insluit, LED-kopligte, sleutellose toegang en ‘n verwyderbare trekstang.

Die Highline is die top-spesifikasie-vlak wat beskikbaar sal wees, en word met die volgende bykomende kenmerke toegerus: sportsitplekke, ‘n koordlose selfoon-laaier, Cologne-allooi-wiele van 18 duim, ‘n keuse van verskillende bestuurders-profiele, klimaat beheer en ‘n Composition Media-inligting-en-vermaak-stelsel met App-Connect. Daar is ook ‘n aantal opsionele ekstras beskikbaar, soos ‘n R Line-stilering-pakket met 18 duim Nevada-allooi-wiele, ‘n ontwerp-pakket in Energetic Orange, Discover Media met satelliet-navigasie, ‘n Beats-klankstelsel, ‘n aktiewe inligtings-vertoon paneel, sleutellose toegang en ‘n verwyderbare trekstang.

Daar sal mettertyd drie enjins vir die T Cross beskikbaar wees. Aanvaklik is daar net een weergawe, naamlik die 1,0 TSI wat 85 kW en 200 Nm lewer, maar ‘n intreevlak-weergawe van hierdie enjin wat 70 kW lewer, sal vroeg aanstaande jaar volg. Nog ‘n nuwe enjin, wat teen die einde van die jaar verwag word, is ‘n 1,5 TSI-driesilinderenjin wat 110 kW sal lewer.

Die pryse van die T Cross-reeks sal aangekondig word net voordat hulle in die derde kwartaal van vanjaar op die mark kom.

%d bloggers like this: