VW Polo-beker beloof heelwat opwinding. Deur Daantjie Badenhorst.

Met die bekendstelling van die nuwe geslag Volkswagen Polo het ‘n nuwe era vir die VW Polo-beker wedrenreeks, waarin hierdie gewilde motor gebruik word, aangebreek.

Die nuwe geslag Polo GTI is wel nog nie op die mark in Suid-Afrika nie, maar dit is die motor wat in hierdie reeks gebruik word. Die enjin wat vir vanjaar se Polo-beker gebruik word, beskik oor ‘n Motec-enjinbestuurstelsel en lewer 155kw en wringkrag van 350 Nm. Die motors het ‘n sesganghandratkas en voorwielaandrywing, en semi-gladde Dunlop-bande met wiele van 17 duim word gebruik.

‘n Nuwe kenmerk is die Push-to-pass-funksie, wat een keer per rondte gebruik kan word om vinnig verby te steek.  Dit stel die jaers in staat om een keer per rondte tiegang tot 170 kw se krag te hê.  Die aanvanklike toetse het bevind dat die motors vir vanjaar se Polo-beker aansienlik vinniger as dié van verlede jaar is maar die reeks se basiese formule is nog dieselfde.

“Engen Polo-beker is jare gelede geskep om jong, talentvolle renjaers ‘n kans te gee om aan motosport deel te neem; die beste van hulle vorder later tot by groter formules,” sê Mike Rowe, die bestuurder van Volkswagen Motorsport en Volkswagen se bestuursakademie.

“Die missie is nog presies dieselfde; ons glo dat 2018 se jaers sal sorg vir  mededingende wedrenne, soos wat ‘n mens van dié formule kan verwag,” voeg hy by.

Daar is verskillende spanne wat vanjaar gaan deelneem. Pepper Racing se renjaers  bestaan uit Tamsin Pepper, Shaun la Reservee, Jason Campos, Keegan Campos,  Darren Oates, Alton Bouw en Clinton Bezuidenhout.

Juan Gerber, Paulus Franken,  Charl Wilken en Justin Oates sal vir die Haput Racing-span deelneem terwyl  TB Racing deur twee jong renjaers, Jonathan Mogotsi en Raais Asmal verteenwoordig sal word.  Lee Thompson Racing word verteenwoordig deur Simon Need en Delon Thompson en Universal Helathcare deur Jeffrey Kruger en Johan Pretorius. Daniel Duminy verteenwoordig  VM Innovations en  Wouter Roos en Peet Visagie se motors word deur  Nathans Motorsport ingeskryf.

 

%d bloggers like this: