Volkswagen se Blitsbuks is hier!

Deur Daantjie Badenhorst.

Sedert sy bekendstelling aan die begin van vanjaar het die nuwe VW Polo ‘n topverkoper geword, maar die meeste motorgeesdriftiges het uitgesien na die nuwe Polo GTI.

Hierdie model is pas in Suid-Afrika bekendgestel en is tegnologies baie meer gevorderd as sy voorganger. Die Polo GTI kan maklik van sy midere stalmaats onderskei word as gevolg van ‘n unieke voorste stamper met misligte as standaardtoerusting, ‘n rooi strepie saam met die GTI-kenteken in die sierrooster, asook ‘n GTI-kenteken in die luguitlate aan die kante en C-vormige lugverdelers in die agterstamper. Die agterste drukvlerk is in twee dele; glansswart bo en dowwe swart onder en daar is twee verchroomde uitlaatpype met die GTI-kenteken reg bokant hulle op die agterklap.  Die Polo GTI het ook  LED-agterligte as standaardtoerusting. Die Polo GTI het 17-duim Milton Keynes-allooiwiele as standaardtoerusting terwyl 18-duim Brescia-allooiwiele opsioneel beskikbaar is. Ongeag die wiele wat gekies word, kan die rooi remknypers wat standaardtoerusting is, duidelik gesien word. Die rooi en chroom GTI-kenteken is op die voorste modderskerms aangebring. Die Polo GTI is beskikbaar in vier kleure, naamlik witr, rooi, swart en blou.

Die binne-afwerking is ook heeltemal uniek aan die GTI, en swart, rooi, grys en chroom is feitlik oral te sien.  Rooi stikwerk kom voor op die veelfunksiestuurwiel wat met leer oorgetrek is,  die afwerking van die rathefboom, die vloermatte en die buiteafwerking van die sportsitplekke. Hoewel veloerbekleedsel standaardtoerusting is, is  verhitbare sitplekke met swart leerbekleedsel teen ekstra koste beskikbaar.  Daar is ook verskeie dele wat in chroom afgewerk is, onder meer die stuurwiel, rathefboomknop, die buitekante van die luguitlate, klimaatbeheerkontroles en pedale.  Die voorpaneel kan in grys of rooi bestel word maar die instrumente aan die boonste deel van die paneelbord is altyd swart. Aangesien die rooi afwerking nie mooi saam met ‘n rooi motor lyk nie, het alle rooi motors grys afwerking.

Vir die eerste keer word die Polo GTI met ‘n tweeliterenjin met ‘n turboaanjaer toegerus. Hierdie enjin het regstreekse inspuiting en lewer 147 kW tussen 4 400 en 6 000 opm en wringkrag van 320 Nm tussen 1 500 en 4 400 opm.  Die Polo GTI het ‘n DSG-ratkas met ses gange as standaardtoerusting; hy kan ‘n topsnelheid van 237 km/u bereik en in 6,7 sekondes van 0 tot 100 km/u versnel.

Die Polo GTI het sportvering as standaardtoerusting maar ‘n Sport Select-stelsel met aktiewe dempers is opsioneel beskikbaar. Die sportvering het spesiaal ingestelde vere, hulpvere, skokbrekers en treenkantelstawe  en die bakwerk is 15 mm laer as dié van die ander modelle. Met die Sport Select-stelsel  kan die karaktereienskappe van die aktiewe dempers deur die bestuurder verstel word. Benewens die keuse van bestuursmodusse, naamlik Normal, Sport, Eco en Individual, wat standaardtoerusting vir die GTI is, bied die Sport Select-stelsel ‘n verdere keuse tussen ‘n normale- en sportmodus  wat die karaktereienskappe van die stuurstelsel, die ratkas en die enjin  verander.

Die Polo was die eerste Volkswagen wat met die nuwe weergawe van dié maatskappy se nuwe Active Info Display beskikbaar is. Soos met die res van die reeks is dit opsioneel vir die GTI. Die nuwe stelsel bied beter en helderder grafika en deur die View-knoppie op die stuurwiel te druk, kan een van drie uitlegte vir die digitale instrumentepaneel gekies word. Daarby is ‘n Composition Media-klankstelsel met ‘n skerm van agt duim standaardtoetrusting terwyl ‘n stelsel met satellietnavigasie opsioneel beskikbaar is.  Verskeie ander opsies is beskikbaar, soos die grootste panoramiese dak vir ‘n motor in sy marksegment, asook ‘n gevorderde veiligheidspakket wat bestaan uit parallelparkeerhulp, parkeersensors, ‘n trukamera, elektries wegvoubare buitespieëls en ‘n blindekolmonitor.  As die motor aanvoel dat die bestuurder konsentrasie verloor, is daar ‘n alarm wat vyf sekondes lank gehoor kan word en met ‘n waarskuwing op die instrumentepaneel gepaard gaan. As die bestuurder nie binne vyftien minute luister nie, word dit herhaal.  Nog ‘n standaardkenmerk is ‘n remstelsel wat sekondêre botsings voorkom of die erns daarvan verminder wanneer dit onafwendbaar is. Die stelsel rem outomaties  nadat ‘n aanvanklike botsing plaasgevind het selfs voordat die bestuurder kan reageer.

Daar is vier bestuursmodusse om van te kies.  In die Eco-modus word die lugversorger en ander hulpmiddels gereguleer om brandstofdoeltreffendheid te verseker. Daarby loop die enjin vry wanneer die bestuurder se voet van die versnellerpedaal af gehaal word. In Sport-modus word die enjin en ratkas se eienskappe aangepas vir maksimum bestuursgenot.

Die GTI het ‘n banddrukmonitor as standaard toerusting; dit waarsku die bestuurder wanneer daar onvoldoende banddruk is, maar dit beteken nie dat die bestuurder nie gereeld die motor se banddruk moet nagaan nie.

Soos met die res van die Polo-reeks word die GTI gerugsteun deur ‘n waarborg van drie jaar of 120 000 km, ‘n waarborg teen korrosie van twaalf jaar en ‘n diensplan van drie jaar of 45 000 km.  Die Polo GTI kos R 375 900.

%d bloggers like this: