VW brei Vivo-reeks uit met Maxx.

Deur Daantjie Badenhorst.

Die jongste VW Polo Vivo-reeks, wat  in Februarie 2018 in Suid-Afrika geloods is, is alreeds ‘n topverkoper in Suid-Afrika. Meer as 11000 eenhede is in die eerste 3 maande sedert vrystelling in Suid-Afrika verkoop. Die Vivo-reeks is die voortsetting van die vorige VW Polo-reeks, maar met die “Vivo” kenteken toevoegsel om dit van die nuwe geslag Polo te onderskei.

Nou het Volkswagen Suid-Afrika die Polo Vivo reeks uitgebrei met die Polo Vivo Maxx Maxx. Dit is ‘n sogenaamde stap-voertuig. Die stap tussen ‘n gewone luikrug en ‘n sport nutsvoertuig. Die Maxx is soos die vorige Polo Cross. Teen ‘n prys van R 225 000 is die Polo Vivo Maxx die duurste in die reeks en is die nuwe vlagskip in die Vivo-reeks.

Aan die buitekant kan die Maxx van die res van die reeks onderskei word deur middel van ‘n veerstelsel wat 15 mm hoër as dié van die ander modelle is, 17 duim Canyon-allooiwiele, die Maxx-kenteken op die agterklap en aan die kante van die motor, ‘n verchroomde uitlaatpyp, aluminium dakreëlings en silwer buitespieëls.

Aan die binnekant stel die Maxx as die vlagskip in die reeks nie teleur nie. Die Maxx het sportiewe pedale, ‘n ritrekenaar, kleurgekodeerde afwerking in die middelkonsole, handbeheerde lugversorging, ‘n veelfunksie-drie speekstuurwiel,‘n klankstelsel met Bluetooth-verbinding, ‘n USB-sok, plek vir ‘n SD-kaart en ses luidsprekers.

Die Maxx het veiligheidskenmerke soos ABS met elektroniese remverspreiding, twee lugsakke, stabiliteitsbeheer, ‘n banddrukmonitor en ISOFIX-hegpunte vir die buitenste twee agtersitplekke as standaardtoerusting.

Dieselfde enjin wat in die Polo Vivo Highline aangetref word, word ook in die Maxx gebruik. Dit is die 1,6 liter-viersilinderenjin wat 77 kW teen 5 250 opm opwek en wringkrag van 153 Nm teen 3 800 opm lewer. Die Maxx is tans slegs met ‘n vyfgang-handratkas beskikbaar.

Soos die res van die Polo Vivo-reeks word die Maxx gerugsteun deur ‘n waarborg van drie jaar of 120 000km en ‘n waarborg teen korrosie van ses jaar ongeag die motor se kilometerafstand.  Die Vivo-reeks het nie ‘n gratis diensplan as standard nie, maar is wel teen ‘n bybetaling beskikbaar.

Lees ook: VW Polo Vivo-reeks

%d bloggers like this: