Volkswagen Suid-Afrika (VWSA) gaan sy reeks sportnutsvoertuie uitbrei met die bekendstelling van die T-Cross in die tweede helfte van die jaar, gevolg deur die T-Roc aanstaande jaar.

Die T-Cross sal hom by VWSA se bestaande reeks sport nuts-voertuie, wat tans uit die Tiguan, die Tiguan Allspace en die Touareg bestaan, aansluit, en op die Polo se MQB-platform gebou word. Terwyl sommige marksegmente gekrimp het, het die een vir klein sportnutsvoertuie, waarin die T- Cross sal meeding, gegroei; in 2014 is 19 027 eenhede in hierdie segment verkoop, en dié syfer het gegroei tot 31 982 eenhede in 2018, wat neerkom op ‘n groei van meer as 68%. Dit het VWSA laat besluit om tot hierdie segment toe te tree.

Die T-Cross sal met ‘n aantal bestuurs-hulpmiddels as standaard toerusting of opsionele ekstras beskikbaar wees, onder meer die opsionele Active Info Display wat aan die stuurkajuit van ‘n vliegtuig herinner. Die binneruim sal baie soos dié van die Polo lyk. Die bagasiebak kan 377 liter hou, of 455 liter as die agtersitplek vorentoe geskuif word. Met die agter sitplekke plat gevou kan die bagasiebak 1 281 liter hou.

Aanvanklik word daar glo twee weergawes van Volkswagen se 1,0 TSI-enjin, wat 70 kW en 85 kW ontwikkel, bekendgestel, terwyl ‘n 1,5 TSI en ‘n 1,6 TDI (turbodiesel) vir aanstaande jaar beplan word.

Die T-Cross sal van die tweede helfte van vanjaar by handelaars bestel kan word en teen die einde van die jaar op die mark kom.

%d bloggers like this: