Breaking News

VW se T6-reeks gou opgeknap

Sedert die eerste Volkswagen Transporter-reeks in 1950 internasionaal bekendgestel is, was dit die topverkoper in sy marksegment, en nou het Volkswagen Suid-Afrika (VWSA) aangekondig dat die sesde geslag, die T6, in Januarie aanstaande jaar ingrypende veranderinge sal ondergaan.

Die reeks, wat voortaan as die T6.1 bekend sal staan, sal weer uit drie handels-voertuig weergawes, naamlik die bakkie, paneelwa en Crew Bus, twee passasiers weergawes, die Kombi en die Caravelle, en ‘n ontspannings weergawe, die California Coast, bestaan. Die bakkie sal weer in enkel- en dubbel-kajuit modelle beskikbaar wees, en die enkel-kajuit sal ‘n laaibak van 5,7  vierkante meter hê.  Die aluminium-valkante wat standaard toerusting vir albei modelle is, is 39 cm hoog. Die dubbel-kajuit se laaibak is 4,2 vierkante meter en daar is bêreplek onder sy agterste banksitplek. Die paneelwa is met twee kantdeure beskikbaar; die een aan die linkerkant is standaard toerusting terwyl een aan die regterkant teen ekstra koste beskikbaar is. Die laai-ruimte van die paneelwa is 6,7 vierkantre meter. Die enigste verskil tussen die paneelwa en die Transporter Crew Bus is dat laas-genoemde sitplek vir minstens  vyf mense het, hoewel sitplek vir ses, agt of tien mense ook beskikbaar is. Daar is twee verskillende asafstande en drie enjins om van te kies. 

Die Kombi is die topverkoper in die reeks, en twee weergawes is beskikbaar, naamlik die Trendline en die Trendline Plus. Die binnekant is in swart afgewerk en die deur-handvatsels in chroom.  Die Caravelle is net in ‘n Highline-model beskikbaar, wat toegerus word met chroom-afwerking in die stuurwiel en die luguitlate asook  in die speke van die stuurwiel en rondom die ratkieser, grys dekoratiewe afwerking in die instrumente-paneel en deurpanele en sitplekke wat in Nappa-leer afgewerk is. Onder die Caravelle se standaard toerusting is swart 17-duim allooiwiele, elektries verstelbare buitespieëls wat verhit en weggevou kan word, ‘n digitale stuurkajuit, ‘n Discover Pro-inligting-en-vermaakstelsel met ‘n 10,25 duim-raakskerm en ‘n Wireless App Connect-stelsel. Die Caravelle spog ook met veiligheids-kenmerke soos ‘n blindekol-monitor, stabiliteits-beheer wanneer ‘n sleepwa of woonwa gesleep word, parkeer-sensors voor en agter, ‘n trukamera en dwarswind-hulp.

Die California Coast is ‘n kampeerwa; die konsep herinner aan die Kamper-modelle van die 1970’s en 1980’s.  Meer as 18 000 eenhede word elke jaar verkoop, en dis ‘n kombinasie van ‘n woonwa en ‘n minibus. 

Die grootste verandering aan die buitestilering is ‘n groot nuwe sierrooster wat ‘n eenheid met die voorstamper vorm.  Alle elemente onder die enjinkap, naamlik die rooster, die stamper en die kopligte, is splinternuut. Al die modelle beskik oor twee chroom-stawe wat die rooster met die kopligte verbind; dit strek tot binne die kopligte self, waar dit ligdiode-dagryligte word. Aan die onderkant van die stamper is daar ‘n chroomstrook vir die luukser modelle. Daar is ses nuwe wielontwerpe, ses nuwe bakkleure en sewe twee-kleur kombinasies om van te kies. 

Die nuut ontwerpte binnekant is daarop gemik om veelsydigheid te verhoog, en die stuurwiel is herontwerp. Op die Caravelle en California-modelle beskik  dit ook nou oor ‘n View-knoppie wat die bestuurder in staat stel om die insterumente-paneel na gelang van behoefte aan te pas. Die instrumente-paneel is ten volle digitaal op al die modelle; die hele reeks word toegerus met ‘n Composition Colour-klankstelsel terwyl die Discovery Pro Media-stelsel met satelliet-navigasie standaard toerusting vir die Caravelle en opsioneel vir die Kombi Trendline Plus is. Die inligting-en-vermaakstelsel vir die Caravelle en California-modelle stel nuwe standaarde; en die bestuurder kan verskillende opsies met die View-knoppie op die stuurwiel kies. 

Die elektromeganiese stuurstelsel wat vir die eerste keer vir die nuwe reeks gebruik word, het twee voordele. Dit kan beheer word soos wat dit nodig is, terselfdetyd maak dit toegang tot verskeie bestuurs-hulpmiddels moontlik.  Die stelsel stuur die verlangde stuuropdragte meer direk na die wiele toe as in die verlede; dit verbeter die nuwe modelle se padhou-vermoë. 

Die bestuurs-hulpmiddels wat vir die nuwe reeks beskikbaar is,sluit onder meer die volgende in: elektroniese stabiliteits-beheer, ‘n banddruk-monitor, wegtrek-hulp, afdraande-hulp (vir die 4 Motion-modelle), baanverwisselings-hulp, spoed-beheer met ‘n snelheids-beperking en parkeersensors. Drie verskillende tipes trukameras is beskikbaar as standaard- of opsionele toerusting. Die eerste hiervan is die gewone kamera wat met die agterste luikdeur werk en oor statiese gidslyne beskik. Dan is daar vir die eerste keer ‘n kamera wat saam met die opsionele paneelwadeure, wat in die middel verdeel is en aan die kante geskarnier is, werk. Die derde een, wat net met die luikdeur werk en met die sleephulpstelsel werk, bied ‘n keuse van dinamiese gidslyne, of ‘n sleep-of woonwagidslyn, afhangende van die hoek van die stuurstelsel. Die California en Caravelle beskik verder oor ses sensors voor en ses agter wat die kant van die voertuig beskerm en  waarskuwings gee wanneer die voertuig te naby aan ‘n hindernis, soos voetgangers, is.  Die California en Caravelle het ‘n parkeerhulpstelsel as standaard toerusting; dit beskik oor ses parkeersensors voor en ses agter wat parkeerplekke kan bespeur en die bestuurder help om te parkeer. Hierdie twee modelle het ook ‘n dwars-verkeer monitor as standaard toerusting;  nie net bespeur die stelsel hindernisse reg agter die voertiug nie, maar ook dié wat teen 180 grade nader kom en nie deur die bestuurder gesien kan word nie. 

Drie weergawes van dieselfde 2,0 TDI-turbo-diesel enjin is beskikbaar. Die intreemodel se kraglewering en wringkrag is onderskeidelik 81 kW en 250 Nm, laasgenoemde teen 1 250 opm. Hierdie enjin, wat vir die handels-voertuig- en Kombi-modelle beskikbaar is, word aan ‘n handratkas met vyf gange gekoppel. Die middelste weergawe lewer 110 kW teen tussen 3 250 en 3 750 opm en wringkrag van 340 Nm teen tussen 1 500 en 3 000 opm. Hierdie enjin is weer eens vir die handelsvoertuig- en Kombi-modelle beskikbaar en word aan ‘n DSG-ratkas met sewe gange gekoppel. Die Caravelle en California-modelle word toegerus met die 2,0 BiTDI-enjin met twee turboaanjaers en die sewegang DSG-ratkas. Hierdie enjin, wat ook vir al die ander modelle beskikbaar is, lewer 146 kW teen tussen 3 800 en 4 000 opm en wringkrag van 450 Nm teen tussen 1 400 en 2 400 opm.

Die T6.1-reeks word gerugsteun deur ‘n waarborg van drie jaar of 120 000 km. Die handels-voertuig modelle se pryse sluit ‘n Easy Drive-diensplan van drie jaar of 60 000 km  in, en dié van die res van die reeks ‘n onderhoudsplan van vyf jaar of 60 000 km.

 

Die pryse van die T6.1-reeks lyk soos volg:


T6.1 Bakkie

Enkelkajuit 2.0 TDI 81kW LWB R412 800

Enkelkajuit 2.0 TDI 110kW 4MOTION® DSG® LWB R466 100

Dubbelkajuit 2.0 TDI 81kW LWB R485 300

Dubbelkajuit 2.0 BiTDI 146kW 4MOTION® DSG® LWB R590 800

 

T6.1 Paneelwa

2.0 TDI 81kW LWB R530 600

2.0 TDI 110kW DSG® LWB R568 700

 

T6.1 Crew Bus

2.0 TDI 81kW LWB (10-seater) R612 000

2.0 TDI 110kW 4MOTION® DSG® LWB (5-seater) R639 000

2.0 BiTDI 146kW 4MOTION® DSG® (5-seater) R710 500

2.0 BiTDI 146kW 4MOTION® DSG® LWB (8-seater) R752 700

 

T6.1 Kombi
2.0 TDI 81kW Trendline R697 700

2.0 TDI 110kW DSG® Trendline R726 000

2.0 BiTDI 146kW 4MOTION® DSG® Trendline Plus R871 800

 

T6.1 Caravelle
Highline 2.0 BiTDI 146kW 4MOTION® DSG® R1 149 400

 

T6.1 California

California Coast 2.0 BiTDI 146kW 4MOTION® DSG® R1 196 500

 

%d bloggers like this: