VW steeds top passasiersmotor-verkoper.

Toyota algeheel topverkoper van voertuie.

 

Volgens NAAMSA se verkoopsyfers vir Mei 2019, is daar geen twyfel oor watter motors Suid-Afrika se gunstelinge is nie.

Die dae toe Toyota die passasiers-mark oorheers het, is lank al verby, hoewel dié Japanese vervaardiger steeds drie modelle onder Suid-Afrika se tien beste verkopers het en die Hilux die onaanvegbare markleier in die segment vir ligte handels-voertuie is. Volkswagen se Polo Vivo, wat verlede jaar deur die nuwe weergawe vervang is, is steeds Suid-Afrika se gunsteling, terwyl die nuwe geslag hom in die tweede plek op die verkopelys gevestig het. Daar is net 65 eenhede van die Polo sedan verkoop terwyl die Jetta en Passat aan die mark onttrek is. Die Jetta word nie vervang nie en die Arteon sal die Passat se plek aan die bokant van dié vervaardiger se reeks inneem.

Dit is veral die A- en B-marksegmente wat strawwe mededinging ervaar, met die Hyundai Grand i10, die Toyota Etios en twee Renaults, die Kwid en Sandero, wat in Mei hul plekke onder die tien top verkopers ingeneem het. In April was die Clio ook onder die eerste tien, maar die Sandero het sy plek ingeneem. Nog ‘n intree-vlak motor wat in April onder die eerste tien was maar terug gesak het, is die Datsun Go, wat teen die einde van 2018 belangrike verbeteringe ondergaan het. Die Go was een van twee modelle in hierdie segment wat net-net ‘n plek onder die eerste tien mins-geloop het; die ander een is die Toyota Corolla Quest, waarvan 444 eenhede verkoop is. Daar is 409 eenhede van die Datsun Go verkoop; effens minder as in April.

Die segment vir sportnuts voertuie word geheel en al deur Toyota oorheers. Die Fortuner is die gewildste passasiers voertuig wat nie die Volkswagen-kenteken dra nie en 1 319 eenhede is in Mei verkoop. Nadat die nuwe RAV 4 ‘n uitstekende derde plek in April behaal het, het hy drie plekke teruggesak, maar 708 eenhede is nogtans verkoop. Die verskyning van die VW Tiguan onder die eerste tien is dalk ‘n verrasssing; 536 eenhede is verkoop. Die Nissan X-Trail het ‘n effense oplewing in gewildheid ondervind, met 447 eenhede wat van die hand gesit is. Die Mazda CX-3 en CX-5 het self uiters goed gevaar, en 382 en 366 eenhede is onderskeidelik van hierdie twee model-reekse verkoop. Ford se topverkoper was die Eco Sport, wat baie gewilder as sy naaste mededingers was. Daar is 249 eenhede van die Hyundai Creta verkoop, 341 van die Renault Duster en 63 van die Suzuki Vitara. Mahindra se nuwe XUV 300 het ‘n uitstekende eerste maand beleef, met 124 eenhede wat verkoop is.  Dit is net sewe eenhede minder as die Mahinda se KUV 100.

Die Toyota Hilux is sonder twyfel die gewildste bakkie op die Suid-Afrikaanse mark; 3187 eenhede is in Mei verkoop teenoor 1 973 eenhede van die Ford Ranger. Die enigste drie-kwartton bakkie wat op die plaaslike mark oor is, die Nissan NP 200, was in die derde plek met die Isuxu D-Max-reeks wat een plek gedaal het. Die Nissan NP 300 Hardbody is steeds gewild, en 879 eenhede is van die hand gesit. Dit lyk asof die eerste vyf plekke nie gou sal verander nie, want daar is minder as die helfte soveel van Mahindra se Pik Up, in die sesde plek, verkoop, naamlik 215 eenhede. Ongelukkig gee GWM nie afsonderlike verkoop-syfers van die drie Steed-modelle, naamlik die 5, die 5E en die 6 nie, maar altesaam 192 eenhede is verkoop; drie meer as die Nissan Navara, wat nog net in ‘n dubbel-kajuit beskikbaar is. Die ander twee plekke in die eerste tien word ingeneem deur die Toyota Land Cruiser-bakkie en die VW Amarok, met 177 en 167 eenhede onderskeidelik.

Daar is egter ook ‘n aantal ligte handelsvoertuie wat nie so goed verkoop nie. Daar is net twee en sewe eenhede van die Changan Star enkel- en dubbel-kajuite verkoop en tien eenhede van die Minivan. Daarby is vyf en ses eenhede van die Vigus-bakkie en Carrying-vragmotor onderskeidelik verkoop. Miskien sal die bekendstelling van die nuwe Vigus 5 dié maatskappy se verkope ‘n hupstoot gee. Nissan kon net vier eenhede van die NV 350-paneelwa en 37 van die Impendulo-taxi verkoop, terwyl Volkswagen se Transporter-reeks nie veel beter gevaar het nie, met net ses paneelwaens, 14 van die Crew Bus en 15 bakkies. Net een Renault Trafic-paneelwa is verkoop en net agt Fiat Fiorano’s. Die Fiat Fullback het ook nie baie goed gevaar nie, en net vyf is in Mei verkoop.

Nie net was die verkope vir Mei teleurstellend volgens NAAMSA nie, uitvoere het ook, vir die eerste keer vanjaar, ‘n afname getoon. NAAMSA glo dat die afname in verbruikers vertroue en heersende ekonomiese toestande kommer-wekkend is, maar dat beter verkoop-syfers in die tweede helfte van die jaar moontlik sal wees. Daarby lyk die vooruitsigte vir uitvoere ook heelwat beter.

 

Verkope van alle voertuie volgens vervaardiger:

Toyota

9 772

VW 6 333
Nissan 4 037
Ford 3 548
Hyundai 2 755
Renault 1 881
Isuzu 1 742
Mercedes-Benz 1 496
BMW 1 284
Kia 1 163

%d bloggers like this: