VW stel spesiale Polo Vivo bekend

0 Comments

Sedert sy aanvanklike bekendstelling in Maart 2010 is meer as 260 000 eenhede van die Volkswagen Polo Vivo verkoop.

Dit is die enigste intreevlak-luikrug wat in Suid-Afrika vervaardig word, en volgens Volkswagen Suid-Afrika (VWSA) is dit een van die goedkoopste motors in Suid-Afrika om te onderhou. Ondanks die bekendstelling van verskeie nuwe mededingers in sy marksegment is die Polo Vivo nou al tien jaar lank die topverkoper-motor in Suid-Afrika.

VWSA het nou ‘n spesiale weergawe van die Polo Vivo, gebaseer op die 1,4 63 kW Comfortline, bekendgestel. Dié nuweling staan bekend as die Mswenko, ‘n Zoeloe-woord wat met “houding” of “selfvertroue” vertaal kan word. Aan die buitekant is die Mswenko toegerus met Portago-allooiwiele van 16 duim, ‘n swart dak, donker getinte glas , spesiale kantstrepe en buitespieëls in een van twee kleure.

Die binneruim spog met blou sitplek-bekleedsel, ‘n antrasiet-swart dak, silwer insetsels in die paneelbord, en ‘n veelfunksiestuurwiel en rathefboomknop wat in leer afgewerk is. Daar is ook ‘n klankstelsel met ses luidsprekers en App Connect.

Die Mswenko sal net in blou, wit, grys en silwer besakikbaar wees. Sy prys, wat ‘n waarborg van drie jaar of 120 000 km en ‘n waarborg teen korrosie van ses jaar insluit, is R 246 900. Dit sluit nie ‘n diens-of onderhoudsplan in nie, maar daar is verskeie keuses teen ekstra koste beskikbaar.

Categories:
%d bloggers like this: