VW se T-Cross hier

0 Comments

Die Volkswagen T-Cross is nou in Suid-Afrika beskikbaar.

Die T-Cross kan beskryf word as ‘n kruiskar (Crossover) en sluit hom by Volkswagen se twee sportnutsvoertuie, die Tiguan en die Touareg, aan, Die T-Cross modelle vir die Suid-Afrikaanse mark word in Navarra in Spanje vervaardig. Aanvanklik sal twee modelle, die Comfortline en die Highline, beskikbaar wees, maar die reeks word in 2020 uitgebrei met die toevoeging van twee bykomende modelle aan die bo- en onderpunt van die reeks.

Die T-Cross is op die platform van die Polo gebou, en is 4,2 meter lank; 181 mm langer as die Polo en  11cm korter as die groter VW T-Roc, wat ook in 2020 hier bekendgestel word. Die verskil in hoogte is egter meer opvallend; die T-Cross is 1 584 mm hoog, pleks van die Polo se 1 461 mm. Die hoë sitplek-posisie is tipies van ‘n kruisvoertuig en maak dat alle insittendes goed vanuit die T-Cross kan sien.

Die intreemodel in die reeks, die Trendline, sal eers teen die eerste kwartaal van aanstaande jaar beskikbaar wees. Hierdie model word toegerus met ‘n 70 kW-weergawe van die drie silinder liter-TSI-enjin.  Die Trendline het onder meer die volgende standaardkenmerke: staalwiele van 16 duim, kleugekodeerde deurhandvatsels , elektries verstelbare en verhitbare kleurgekodeerde buitespieëls, ‘n band-druk monitor, ‘n 6,5 duim kleur-raakskerm, gekombineerde voor- en kant-lugsakke, asook sitplekke, matte en ‘n instrumente-paneel wat in swart afgewerk is.

Die Comfortline, die goedkoopste model in die aanvanklike reeks, voeg die volgende kenmerke by:  allooiwiele van 16 duim, dakrelings, ‘n veelfunksie-leerstuurwiel, parkeersensors voor en agter, spoedbeheer, voorste misligte en ‘n armleuning tussen die voorste sitplekke. Verskeie opsionele ekstras is ook beskikbaar, oder meer ‘n R-Line-stileringspakket, ‘n Beats-klankstelsel, ‘n koordlose selfoon-laaier, ‘n pakket wat ‘n trukamera en wegvoubare buitespieëls insluit, aanpasbare spoedbeheer wat ‘n blindekol-monitor, voubare buitespieëls en  baanhouhulp insluit, sleutellose toegang en ‘n verwyderbare trekstang.

Die Highline is die voorlopige vlagskip in die reeks; hierdie model kry ‘n koordlose selfoonlaaier, die keuse van verskillende bestuurders-profiele, klimaat beheer, ligdiode-kopligte, allooiwiele van 18 duim,  ligdiode-kopligte en ‘n Composition Media-inligting-en-vermaakstelsel. Onder die opsionele ekstras vir hierdie model is ‘n oranje binneruim, Discover Media, wat satellietnavigasie insluit, ‘n digitale aktiewe inligtings-paneel, en aanpasbare spoedbeheer. Die Comfortline en Highline word toegerus met ‘n weergawe van die eenliter TSI-enjin wat 85 kW teen 5 000 opm en wringkrag van 200 Nm teen 2 000 opm lewer.

Die 1,5 R-Line TSI DSG kan reeds bestel word, maar sal eers vroeg aanstaande jaar beskikbaar wees. Hierdie model spog met die volgende bykomende kenmerke:  die R-Line-stilerings-pakket met 18-duim allooiwiele, ‘n digitale aktiewe inligtings-paneel, ligdiode-kop-en agterligte en ‘n keuse van agt kleure. 

Die binneruim van die T-Cross skep die indruk van ‘n groter voertuig en daar is oorgenoeg plek vir vyf insittendes.  Die agtersitplek kan vorentoe en agtertoe geskuif word, afhangende van of ‘n mens meer bagasieruimte of beenruimte nodig het. Die bagasieruim kan tussen 377 en 455 liter hou wanneer die agtersitplek regop is. Die rugleuning is verdeel en wanneer die agtersitplekke platgevou is, kan die bagasieruim tot 1 281 liter hou. Daar is elektriese vensters vir al vier deure en die hoogte van die bestuurder en die voorste passasier se sitplek kan verstel word. Daar is altesaam vier USB-kragpunte aan die binnekant en ‘n koordlose selfoon-laaier is opsioneel beskikbaar, asook sleutellose toegang en ‘n aansitknoppie.  Nog ‘n opsionele ekstra is ‘n klankstelsel van die Amerikaanse vervaardiger Beats, met ‘n 300 watt-agtkanaal-klank-versterker en ‘n aparte subwhoefer in die bagasieruim.

Die T-Cross het vyf sterre in die Euro NCAP-toetsprogram verwerf; dit beteken dat insittendes die beste moontlike beskerming en veiligheid geniet en dat die moontlikheid van botsings sover moontlik uitgeskakel word. Benewens die  bestuurderswaarskuwingstelsel wat standaardtoerusting is en die bestuurder waarsku wanneer hy of sy nie aandag op die pad gee nie, is daar ekstras soos baanhou-hulp, outomatiese aanpasbare spoed-beheer, ‘n blindekol monitor, parkeerhulp en ‘n sensor wat verkeer agter die voertuig bespeur, opsioneel beskikbaar.

Die opvallende vooraansig van die T-Cross bevat ‘n groot drukvin en ‘n breë sierrooster met die kopligte met ‘n lang en plat voorkoms wat aan die buitekante geïntegreer is. Dit gee die T-Cross ‘n onmiskenbare vooraansig. Aan die onderkant is daar versonke misligte en geïntegreerde dagryligte. Indien die opsionele ligdiode-kopligte gespesifiseer word, word die dagryligte daarby geïntegreer. Aan die agterkant is ligdiode-agterligte standaard toerusting. Aan die kant beskik die T-Cross oor twee kenmerkende karakterlyne van voor tot agter wat sy dinamiese voorkoms beklemtoon. Daar is ook ‘n weerkaatsende strook agter wat met ‘n swart paneel omraam word; dit gee die agteraansig ‘n besondere voorkoms.  Allooiwiele van 16 duim is standaard toerusting, maar verskeie 17- en 18-duim-ontwerpe is teen ekstra koste beskikbaar. Die T-Cross is in nege kleure beskikbaar en die buitekant kan op verskillende maniere verpersoonlik word. Die wiele is byvoorbeeld in verskillende kleure beskikbaar.

Die pryse van die twee T-Cross modelle wat tans beskikbaar is, is R 334 600 en R 365 000 vir die Comfortline en die Highline onderskeidelik terwyl die 1,5 TSI Highline se prys R 403 500 sal wees. Dit sluit ‘n waarborg van drie jaar of 120 000km en ‘n diensplan van drie jaar of 45 000 km in. Die prys van die Trendline sal later bekendgemaak word.

Laat 'n boodskap

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie.