VW Caravelle PanAmericana gaan orals.

Goeie nuus vir kampeerders of mense wat die lang pad wil vat, is dat die perfekte mikro-bus nou in Suid-Afrika beskikbaar is danksy Volkswagen Suid-Afrika, wat voortaan ‘n spesiale weergawe van sy Caravelle-minibus, die PanAmericana, gaan invoer.

Die PanAmericana kombineer die weelde-items van die bestaande Caravelle met Volkswagen se 4Motion-vierwielaandrywingstelsel sodat die voertuig basies vir alle tipes padoppervlaktes kans kan sien.

Die Caravelle PanAmericana het Volkswagen se twee liter Bi-TDI enjin, met twee turbo-aanjaers, vierwielaandrywing en ‘n DSG-ratkas met sewe gange as standaardtoerusting. Die Bi-TDI-enjin lewer 132 kW teen 4 000 opm en wringkrag van 400 Nm teen tussen 1 500 en 2 000 opm.  Die PanAmericana kan in 12,1 sekondes van 0 tot 100 km/h versnel en ‘n topsnelheid van 188 km/h behaal. Volgens die vervaardigers is sy gemiddelde brandstofverbruik 8,8 liter per 100 km.

Van buite word die PanAmericana onderskei van ander VW Caravelle-modelle deur getinte agtervensters, LED-agterligte met ‘n rook-voorkoms, ‘n chroom-sierrooster en PanAmericana-kentens in die B-pilare. Die voor- en agterstampers het ook ‘n tekstuur-effek en daar is swart skermstroke onder aan die stampers en die kante van die bakwerk.

Aan die binnekant is daar ‘n leer-oorgetrekte veelfunksie-stuurwiel en rathefboomknop, ligte met die PanAmericana-kenteken, klimaatbeheer en pedale van vlekvrye staal. Daar is geharde materiale van hoogstaande gehalte, soos sitplekke met kenmerkende swart en wit insetsels en Alcantara-kussings met kontrasterende stikwerk, terwyl leerbekleedsel in twee kleure opsioneel beskikbaar is. Geharde rubbervloermatte kan selfs modderige bergfietse en stapskoene hanteer.

Die PanAmericana kos R 955 400. Hierdie prys sluit ‘n waarborg van drie jaar of 120 000 km, ‘n twaalf jaar waarborg teen korrosie en ‘n Auto Motion-onderhoudsplan van vyf jaar of 60 000 km in.

%d bloggers like this: