Breaking News

Vyf nuwe outomatiese Isuzu D-Max bakkies

 

Terwyl die Suid-Afrikaanse publiek wag dat die nuwe geslag D-Max in die tweede helfte van 2021 bekendgestel word, het Isuzu Motors Suid-Afrika (IMSA) pas  die bestaande D-Max-reeks uitgebrei met die toevoeging van vyf bykomende modelle met ‘n outomatiese ratkas.

Aan die voorpunt is die X-Rider, wat nou vir die eerste keer met ‘n outomatiese ratkas met vyf gange beskikbaar gestel word. Hierdie model sluit hom aan by die handratmodelle met twee-of vierwielaandrywing.

Die 250 LE en Hi-Rider-modelle word ook as belangrik beskou en daarom het IMSA ook outomatiese weergawes van hierdie modelle bekendgestel. Vir dié wat ‘n bakkie as ‘n werkesel gebruik, is die D-Max 250 Hi-Rider Extended Cab ook nou met ‘n outomatiese ratkas beskikbaar. Laastens het IMSA ‘n splinternuwe model, die D-Max 300 Hi-Rider-dubbelkajuit met ‘n outomatiese ratkas bekendgestel.

Volgens Dominc Rimmer, die senior visepresident van tegniese operasies by IMSA, het die markneigings die afgelope tyd baie verander, en outomatiese ratkaste het al hoe gewilder vir bakkies geword.  Die 300 LX-modelle is in 2018 met ‘n nuwe outomatiese ratkas met ses gange toegerus en hulle is baie goed deur die mark ontvang. Rimmer glo die toevoeging van outomatiese weergawes van die X-Rider, die LE en die Hi-Rider sal uiters geskik wees vir bakkieliefhebbers.

Die vyfgangratkas is ontwikkel om by die verrigtingseienskappe van Isuzu se betroubare en ekonomiese 2,5 liter-turbodieselenjin te pas. Dit verseker goeie werkverrigting, lae loopkostes en bestuursgenot, veral in ‘n stedelike omgewing.  Die 2,5 liter-enjin lewer 100 kW teen 3 400 opm en wringkrag van 320 Nm teen tussen 1 800 en 2 800 opm. Die gemiddelde brandstofverbruik is ongeveer 8,1 liter per 100 km. Soos met die handratmodelle het die D-Max 250-modelle met die outomatiese ratkas ‘n sleepvermoë van 2,1 ton.

Die X-Rider, wat nou beskikbaar is in drie modelle, naamlik ‘n 4,2-handrat en outomaties en ‘n 4×4 -handrat, is op die leefstylmark gemik. Onder sy uitstaande ontwerperskenmerke is ‘n swart sierrooster met ‘n rooi Isuzu-kenteken, projektor-kopligte en ligdiode-dagryligte. Die B-pilare, buisagtige kanttrappe en rolstaaf is alles ook in swart afgewerk, en diamantsnit-allooiwiele van 18 duim is standaardtoerusting.

Die sportiewe tema word binne voortgesit met swart leersitplekke met kontrasterende rooi stikwerk en die X-Rider-embleem wat op die kopstutte geborduur is. Die stuurwiel, met ‘n rooi Isuzu-kenteken en die rathefboomknop en-kous (in die geval van die handratmodelle) word in swart leer met rooi stikwerk afgewerk.  Die deure, asook die paneel waar die radio en die luguitlate vir die lugversorging geleë is, bevat hoëglans-klavierswart afwerkingm terwyl die X-embleem in die deure voorkom.

Die X-Rider beskik oor veiligheidskenmerke soos ABS-remme met elektroniese remkragverspreiding en noodremhulp, elektoniese stabiliteits- en vastrapbeheer, asook wegtrek- en afdraandehulp. Die insittendes wprd beskerm deur twee lugsakke, kantbotsingstawe en ‘n stuurkolom wat kan swig. Sentrale sluiting met afstandbeheer is standaardtoerusting, tesame met ‘n alarm en transponder-immobiliseerder. Die klankstelsel, wat met Bluetooth gekoppel kan word, bevat ses luidsprekers.

Die LE en Hi-Rider word met die 2,5 liter-enjin toegerus, maar ‘n nuwe 300 Hi-Rider, met die drieliter-turbodieselenjin van die LX-modelle is ook nou beskikbaar. Hierdie enjin lewer 130 kW teen 3 600 opm en 380 Nm teen tussen 1 800 en 2 800 opm.

Die LE se afwerking is minder uitbundig as dié van die X-Rider, maar allooiwiele van 16 duim en ‘n raakskerm-klankstelsel is standaardtoerusting, tesame met al die veiligheidskenmerke waarmee die X-Rider toegerus word. Verdere uitstaande kenmerke is voorste misligte, kleurgekodeerde deurhandvatsels en buitespieëls en spoedbeheer.

Al is die Hi-Rider die intreevlak-dubbelkajuitmodel, word hy nie afgeskeep nie. Die Hi-Rider beskik steeds oor ‘n basiese klankstelsel met Bluetooth, ABS-remme, twee lugsakke, wegtrek- en afdraandehulp en vastrap- en stabiliteitsbeheer. Staalwiele van 16 duim word gebruik.

Die prys van die nuwe modelle, wat ‘n waarborg  en padbysrand van vyf jaar of 120 000 km, ‘n waarborg teen korrosie van vyf jaar ongeag die voertuig se kilometerlesing en ‘n diensplan van vyf jaar of 90 000 km insluit, lyk só:

D-MAX 250 HO Extended Cab Hi-Rider Outomaties: R 403 200

D-MAX 250 HO Dubbelkajuit Hi-Rider Outomaties: R 435 300

D-MAX 250 HO LE Dubbelkajuit Outomaties: R 459 000

D-MAX 300 Dubbelkajuit Hi-Rider Outomaties: R 464 100

D-MAX 250 HO X-Rider Dubbelkajuit Outomaties : R 474 100

Dienstussenposes is elke 15 000 km of 12 maande, en die diensplan kan teen ekstra koste verleng of na ‘n onderhoudsplan opgegradeer word.

 

%d bloggers like this: